Noord-Amerika

Noord-Amerika

Ligging van Noord-Amerika op 'n wêreldkaart

Oppervlakte24 709 000 km² (3de)
Bevolking565 265 000 (2013, 4de)
Bevolkingsdigtheid23/km²
Lande23
Afhanklike gebiede22
TaleEngels, Spaans, Frans, Nahuatl, Mayathan en verskeie ander
TydsonesUTC-10 (Verenigde State) tot UTC±0 (Groenland)
Grootste stedeVlag van Meksiko Meksikostad
Vlag van Verenigde State van Amerika New York Stad
Vlag van Verenigde State van Amerika Los Angeles
Vlag van Verenigde State van Amerika Chicago
Vlag van Kanada Toronto
Vlag van Verenigde State van Amerika DallasFort Worth
Vlag van Verenigde State van Amerika San Francisco
Vlag van Verenigde State van Amerika Houston
Vlag van Verenigde State van Amerika Miami
Vlag van Verenigde State van Amerika Philadelphia
Vlag van Verenigde State van Amerika Atlanta
N60-90, W150-180N60-90, W120-150N60-90, W90-120N60-90, W60-90N60-90, W30-60
N30-60, W150-180N30-60, W120-150N30-60, W90-120N30-60, W60-90N30-60, W30-60
 N0-30, W120-150N0-30, W90-120N0-30, W60-90 
30° (Noord-Amerika)

Noord-Amerika is 'n kontinent in die Noordelike Halfrond van die Aarde, wat byna uitsluitlik in die Westelike Halfrond geleë is. Dit word in die noorde begrens deur die Arktiese Oseaan, in die ooste deur die noordelike Atlantiese Oseaan, in die suidooste deur die Karibiese See en in die suide en weste deur die noordelike Stille Oseaan. Met 24 709 000 vierkante kilometer beslaan dit 4,8 persent van die aarde se oppervlak en is die derde grootste vasteland na Asië en Afrika.

Etimologie

Die Amerikas is deur die Duitse kartograwe Martin Waldseemüller en Matthias Ringmann na die Italiaanse ontdekkingsreisiger Amerigo Vespucci genoem.[1]

Geografiese aspekte

 
’n Geologiese kaart van Noord-Amerika, volgens ouderdom. Die rooi en pienk dui rotse uit die Argeïkum aan.
 
Ekostreke van die Noord-Amerikaanse lande Kanada, Verenigde State en Meksiko
 
Geologiese kaart van Noord-Amerika
 
Sedimentêre, vulkaniese, plutoniese en metamorfe gesteentes van Noord-Amerika
 
Noord-Amerikaanse kratons en kelderrotse
 
Noord-Amerikaanse tektoniese plaat
 
Klimaatsones in Noord-Amerika volgens die Köppen-klimaatklassifikasie
 
Morainemeer in Nasionale Park Banff

Noord-Amerika is die noordelike deel van die Amerikaanse kontinent en word in die ooste begrens deur die Atlantiese Oseaan, in die noorde deur die Noordelike Yssee en in die weste deur die Stille Oseaan.

Die meeste eilande wat rondom die subkontinent lê, soos die Karibiese Eilande, die Kanadese Arktiese Argipel, Groenland en die Aleoete-eilande, word hierby ingereken omdat hulle op die Noord-Amerikaanse kontinentale plaat lê. Die Sentraal-Amerikaanse lande (Guatemala, Belize, Honduras, El Salvador, Nicaragua, Costa Rica en Panama), die eilande van die Karibiese gebied, Groenland en Sint Pierre en Miquelon (Franse eilandjies suid van Newfoundland) word egter nie hier bespreek nie.

Fisies-geografiese aspekte

Op grond van die geologiese verwantskap, soorte gesteentes en uiterlike verskynsvorm kan die Noord-Amerikaanse subkontinent in vyf gebiede ingedeel word: die westelike gebergte, die Kanadese Skild, die kusvlakte langs die Atlantiese Oseaan en die Golf van Meksiko, die oostelike hoogland en die binnelandse laagland.

Die Cordillera

Die Cordillera of die westelike gebergte strek van Alaska tot aan Sentraal-Amerika en is deel van 'n reusagtige bergreeks wat tot aan Antarktika deurloop. Tussen 200 tot 300 miljoen jaar gelede het hier 'n geosinklinaal bestaan wat met water gevul was en waar in groot hoeveelhede sediment afgeset is.

Meer as 100 miljoen jaar gelede het die vorming van die oostelike reeks en van die belangrikste reeks van die Cordillera, die Rotsgebergte, begin. Die kusgebergte is jonger en is sowat 70 miljoen jaar gelede gevorm; aardbewingshaarde en vulkane word hier aangetref.

Die Cordillera bestaan uit ’n veertigtal rûens wat almal 'n eie naam het. In die noorde is 'n stelsel bergrûens wat deur lengtevalleie van mekaar geskei word. Meer na die suide word hierdie stelsel onderbreek deur groot plato's, onder meer die Groot Bekken. Hierdie vlakte is so groot dat dit dikwels nie meer tot die Cordillera gereken word nie. Oos hiervan ontbreek die reëlmatige patroon van die lengtevalleie vanweë die geweldige samepersing wat die reeks ondergaan het.

Die Kanadese Skild

Die Kanadese of Laurentiese Skild is ’n ongeplooide, uitgestrekte gebied rondom Hudsonbaai. Die skild, wat uit die oudste gesteentes (graniet wat meer as 600 miljoen jaar gelede gevorm is, gneis, lawa en skis) van die subkontinent bestaan, het altyd bo seespieël gelê.

Sowat 25 000 jaar gelede het landys die grootste deel hiervan bedek en meer as 8 000 jaar gelede het die ys teruggetrek en 'n skuins landskap met granietrotse en duisende mere het agtergebly. Die dun, onvrugbare laag grond is nie geskik vir landbou nie en enorme denne- en sparbosse bedek die gebied.

Die kusvlakte

Die kusvlakte langs die Atlantiese Oseaan en die Golf van Meksiko, van die deelstaat Massachusetts tot aan die Yucatán-skiereiland in Meksiko, is nie meer as sowat 200 miljoen jaar oud nie. Dit is deur sedimentasie gevorm en gaan baie geleidelik oor in die kontinentale plaat.

Die smal strook langs die Sierra Madre Oriental strek tot in die Mississippirivierdelta, waar die helling so geleidelik daal dat die oorgang tussen land en water 'n groot gebied beslaan. Ook die skiereiland Florida lê baie laag en is plat, behalwe die verre noordwestelike deel. Geologies dui die baie oorstroomde riviermondings of estuaria daarop dat daar relatief onlangs 'n positiewe verandering in die watervlak plaasgevind het.

Die oostelike bergland

Die Appalache strek van Newfoundland in Kanada tot in die deelstate Alabama en Suid-Carolina in die suide van die Verenigde State. Tussen 200 en 600 miljoen jaar gelede was hier 'n geosinklinaal geleë wat met verloop van tyd met die oorblyfsels van seediere en die sediment van omringende berge opgevul is. Die gebergte is sowat 200 miljoen jaar gelede gevorm.

Die ou Appalache, wat uit kristallyne gesteentes opgebou is, loop in ’n noordwes-suidoostelike rigting en vorm die oostelike deel van die ou sentrale gebergte, terwyl die jong of sedimentêre Appalache in die weste afgeset is. In die noorde is die gebergte afgerond en kaal en is die valleie met sediment gevul. Die skuins en heuwelagtige landskap is kenmerkend van Nieu-Engeland.

Ondanks hul geringe hoogte word sommige rûe "berge" genoem, soos Green Mountains by Mount Mansfield (1 318 m), en White Mountains by Mount Washington (1 918 m). Na die suide is die bergrûens skerper en die valleie nouer en dieper. Die Great Smokey Mountains (Mount Mitche, 2 038 m) is die woesste deel van die Appalache.

Die binnelandse laagland

Tussen die Rotsgebergte, die Kanadese Skild en die Appalache lê 'n byna ononderbroke plat gebied, wat hom van die Golf van Meksiko tot aan die Noordelike Yssee uitstrek. Oor hierdie afstand is die hoogteverskil nie meer as 300 m nie. Tot 70 miljoen jaar gelede is die plat gebied gereeld deur see oorstroom. Daarna het die gebied bo seespieël gebly en is dit met sediment van die Rotsgebergte bedek. Hierdie sentrale laagland word in drie dele onderskei, naamlik die noordelike deel, die Groot Vlaktes en die sentrale bekken.

Die kern van die noordelike deel word deur die Mackenzierivier gevorm. Aan die kus van die Noordelike Yssee is ’n laagliggende kusvlakte waarvan dele van die vasteland deur verskuiwings geskei is en die eilande van die Kanadese Arktiese Argipel gevorm het. Net 'n paar van hierdie eilande, soos Baffin- en Ellesmere-eiland, is aanmerklik bo seespieël.

Groot Vlaktes

Die Groot Vlaktes strek van die Saskatchewanrivier in die noorde tot in Texas in die suide. Die wesgrens word deur die Rotsgebergte gevorm en die oosgrens deur die reënvallyn van 500 mm per jaar, wat met min of meer die 98ste meridiaan saamval. Vanweë die wispelturige klimaat in die gebied wes van hierdie lyn, waardeur baie oeste al vernietig is, word dit die ramplyn genoem.

Van die Mississippirivier tot by die Rotsgebergte styg die land oor 'n afstand van ongeveer 750 km van 300 tot 1800 m. Die noordelike deel van die Groot Vlaktes tot op die Missouriplato is deur ys geërodeer. Die ruwer Badlands, die suidelike deel van die plato, was net soos Black Hill (2 200 m) wes daarvan, nie deur die ys bedek nie. Die suidelike deel van die Groot Vlaktes gaan baie geleidelik oor in die uitlopers van die Appalache, en in die noorde in die Kanadese Skild. Die ys het hier 'n dik, vrugbare sediment agtergelaat.

Natuurstreke

Die plant- en dierewêreld van Noord-Amerika toon ooreenkomste met sowel dié van Eurasië as met dié van Suid-Amerika. Dit kan verklaar word uit die feit dat daar tydens verskeie vroeëre tydperke in die geskiedenis van die aarde landverbindinge bestaan het tussen Noord- en Suid-Amerika enersyds en Noord-Amerika en Eurasië andersyds. So het die voorouers van die perd en die van die kameel aan die einde van die Tersiêr (sowat twee miljoen jaar gelede) uit hul stamland, Noord-Amerika, na Eurasië getrek.

In dieselfde tyd was Noord en Suid-Amerika van mekaar geskei. Die tussenliggende see het vir die meeste diere, ondanks die eilande wat daarin was, 'n onoorkomelike versperring gevorm. Nadat daar vanweë vulkaniese bedrywighede ’n landbrug ontstaan het, het byvoorbeeld lamas in die ystyd (Pleistoseen) oor hierdie landbrug na Suid-Amerika getrek. Anders as in Eurasië, waar die bergreekse die kontinent in 'n oos-wesrigting deursny en die trek van diere vanuit die noorde na die suide belemmer het, vergemaklik die noord-suidbergrûens van Amerika die verspreiding in hierdie rigting juis.

Soögrafies maak Noord-Amerika deel uit van die nearktiese substreek. Plantegeografies vorm Noord-Amerika met Europa en ’n groot deel van Asië die holarktiese gebied, die grootste van die ses plantegeografiese hoofgebiede.

Toendra

Die Noord-Amerikaanse toendralandskap, wat hom suid van die poolyskap uitstrek, toon baie ooreenkoms met die van Eurasië op dieselfde breedte. Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit mosse, korsmosse en dwergstruike. Ook die dierewêreld toon ooreenkoms met die van Noord-Eurasië. Die lemmings (genus Lemmus) en poolhase is in albei gebiede 'n belangrike prooi vir poolvosse (Alapex lagopus), hermelyne (Mustela erminea) en ander roofdiere.

Die verskille is veral op die vlak van spesies en subspesies. So behoort die poolhaas van Amerika tot ’n ander spesie (Lepus timidus) en is die toendrarendier (Rangifer tarandus arcticus) die Noord-Amerikaanse teenhanger van die Noord-Europese rendier (Rangifer tarandus tarandus), al het hy in teenstelling met die Noord-Europese rendier nooit ’n huisdier geword nie.

Die muskusbees (Ovibos moschatus), wat vroeër net in Noord-Amerika, op Groenland en die Arktiese eilande voorgekom het, is nou ook na Noorweë en op Spitsbergen ingevoer. Langs die kus lewe talryke seevoëls, veral in die somer. Ganse sneeuhoenders en spesies soos die steenlopertjie (Arenaria interpres) en die drietoonstrandloper (Calidris alba) broei op die toendra.

Bosse

Suid van die boomgrens, dit wil sê die grens van die gebiede waar die klimaat die groei van bome moontlik maak, is 'n breë gordel van naaldbome wat bekend is as die Kanadese of Hudson-leefsone, aangesien hierdie gordel die hele Kanada van Hudsonbaai af bedek. Hier nou die Amerikaanse of Europese eland (Alces alces), asook wolwe en losse. Behalwe baie bewers is daar ook die Amerikaanse marter (Martes americanus) en die swartbeer (Ursus americanus).

Die aantal voëlspesies in die naaldwoude is relatief klein. Die meeste spesies is nie daartoe in staat om die taai, harsryke sade en ander eetbare dele van die naaldbome te verteer nie. Naas die Amerikaanse neutekraker (Nucifraga columbiana), wat hom net in die merke op sy vere van sy Eurasiese bloedverwant onderskei en ook van die sade van Pinus cembra leef, is kruisbekke (genus Loxia) en spegte (houtkappers) die belangrikste voëlspesies. Die jong denne-aanplantings in die noordooste van die Verenigde State en in die suide van Kanada vorm die milieu vir die swart met geel en grys magnoliasangvoël (Dendroica magnolia), een van die baie sangvoëls (Parulidae) en 'n tipiese Amerikaanse voëlfamilie.

Die enigste Noord-Amerikaanse cavia-agtige knaagdier (suborde Caviomorpha), waaronder die Kanadese ystervark (Erethizon darsatum), leef in die naaldbosse wat hoofsaaklik uit sparre, denne en silwersparre bestaan. Die Amerikaanse weergawe van die Europese eekhorings is die Noord-Amerikaanse rooi-eekhorings (genus Tamiasciurus). Hierdie eekhorings gaar meer op as hul Europese bloedverwante en daar word dikwels honderde dennekeëls in hut bergplekke gevind.

Van die silwersparre is Abies balsamea een van die algemeenste spesies. Die hars hiervan, bekend as kanadabalsem, word onder meer gebruik by die maak van lense en mikroskopiese preparate. Meer na die suide gaan die naaldwoude oor in gemengde bosse, wat die woongebied van hoofsaaklik wildevarke is. Verder suid maak die gemengde woude plek vir egte loofbosse, waarin ’n groter verskeidenheid spesies voorkom as in die Europese loofbosse. In die ooste neem die spesies van die genera Magnolia, Liriodendron en Carya ’n belangrike plek in naas eike-, berke-, haselneut en esdoringbome. In die weste oorheers die rooihoutboom, waaronder die beroemde mammoetbome (Sequoiadendron giganteum).

Die loofbosse herberg 'n ryk dierewêreld. Herte soos die witsterthert (Odocoileus virginianus), wat deur Walt Disney as "Bambi" wêreldbekend gemaak is, en die muithert (Odocoileus hemionus) kry hier volop voedsel en skuilplek. Die los (Lynx rufus) en die wasbeer (Procyon lotor) is sedert die verdwyning van die poemas en wolwe die belangrikste roofdiere in die loofbosse. Akkers, haselneute en die sade van ander bome en struike is 'n ryk voedselbron vir woelmuise en Amerikaanse dwergeekhorings (genus Microsciurus).

Die Noord-Amerikaanse buidelrot (Didelphis marsupialis) is die enigste buideldier wat uit sy stamland, Suid-Amerika, tot oor die grens van Kanada beweeg en hom in die loofbosse gaan vestig het. Muishonde (subfamilie Mephithinae) is aan die Europese dasse verwant. Die Amerikaanse silwerdas (Taxidea taxus), ook die prêriedas genoem vanweë sy voorkeur vir oop gebiede, kom van Suid-Kanada tot in Meksiko voor. Dit is 'n breedgeboude, afgeplatte dier met ’n pragtige pels, wat hom 'n gesogte jagdier maak.

Onder die talryke voëls (veral sangvoëls) wat in die loofbosse volop voedsel en woonplek vind, is veral die kardinale (subfamilie Cardinalinae) die opvallendste. Die blou biskop (Guiraca caerulea) en die rooi biskop (Pheucticus ludovicianus) kom die algemeenste voor. Die kalkoen (Meleagris gallopavo) kom eintlik nie meer wild voor nie, maar word op groot skaal deur pluimveeboere geteel. Soos in die naaldbosse vorm die sangvoëls wat van insekte lewe (Parulidae), ook hier 'n belangrike element in die avifauna. Hulle kom tot in die noorde van Chili en Argentinië voor. In die suidelikste deelstate van Noord-Amerika maak die loofbosse plek vir die immergroen bosse.

In Florida kom selfs palmbosse voor. Ook die moerasbosse in die bekende moerasgebied Everglades in Suid-Florida bestaan uit immergroen spesies soos die moerassipres (Taxodium distichum). Die groot aantal vleisetende plante is tipies vir hierdie moerasbosse. Behalwe die vlieëvanger (Dionaea muscipula) kom ook 'n aantal spesies van die genus Saracenia voor wat op drywende veenmos groei en groot, bekervormige blare het. Die wand van die bekervormige blare skei ’n vloeistof af waarin aangelokte insekte verdrink en verteer word. Die sagte klimaat, aanwesigheid van water en oorvloedige voedsel maak die Everglades 'n ryk gebied vir waterhoenders, veral reiers en ibisse.

Daar is ook slange, skilpaaie en alligators. Op die droër gedeeltes met meer plantegroei is daar herte en klein soogdiere soos wildekatte en tallose reptiele. Tot die kenmerkende Noord-Amerikaanse plante behoort die ongeveer 25 spesies van die genus Amelanchier, verskillende bessies (genus Rubus), hamamelis (genus Hamamelis) en wynstokke (Vitis vinifera), wat saam met 'n aantal ander spesies van die genus Vitis inheems is. Die plantegroei van Kalifornië en Meksiko word gekenmerk deur vetplante (familie Crassulaceae) wat met hul dik, voghoudende stingels en blare uitstekend aangepas is by die droë klimaat.

Prêries en woestyne

In die suide van Kalifornië, Meksiko en Texas bestaan die plantegroei uit 'n grasvlakte met doringstruike, die chaparral, in vergelyking met die landskap van die klimatologies verwante Middellandse Seegebied. In die chaparral lewe talryke knaagdiere, waaronder die prêrie- of witsterthaas (Lepus townsendii). Die prêrie, die kenmerkende Noord-Amerikaanse grasland, is die droë binnelandse gebied tussen die Rotsgebergte in die weste en die loofbosse in die ooste.

Dit is die woongebied van die bison (genus Bison) en die gaffelbok (Antilocapra americana). Toe die eerste blanke koloniste hulle in die Verenigde State gevestig het was daar nag honderdduisende bisons op die prêrie, maar hulle is meedoënloos gejag ter wille van hut vleis en velle of vir die plesier, sodat die diere binne 'n kort tydjie deur uitsterwing bedreig is. Vandag is die bisons beperk tot 'n paar reservate. Ook die gaffelbok is danksy beskermende maatreëls gered.

Die graslande bied meer as genoeg voedsel aan allerlei knaagdiere soos die prêriehonde (Cynomys ludovicianus) en wangsakrotte (genus Geomys), wat op hulle beurt belangrike voedsel is vir roofdiere soos prêriewolwe (Cantis latrans), vosse, uile, patrysvalke, valke, arende en baie slange. Die prêriehoender (Tympanuchus cupido) is 'n grondbewonende voel van die oostelike prêrie, terwyl die waaierhoender (Centrocercus urophasianus) hoofsaaklik in die westelike deel leef.

Die prêrie lê op die roete van die voëls wat in die winter uit die noorde na warmer streke trek en baie spesies gebruik die grasvlakte dan ook as 'n rusplek. Vanweë die groot gebiede wat onder verbouing is, is die verspreidingsgebied van baie diere baie verklein. Tussen die Rotsgebergte en die bergketting van die Sierra Nevada lê die Groot Bekken, 'n woestyngebied waar die winters baie koud is. Die plantegroei bestaan hoofsaaklik uit alsem (genus Artemisia) en kort, bosagtige grasspesies.

Dit is die woongebied van onder andere die swartsterthaas (Lepus californicus), wat weens voedselskaarste in sy gebied die gesaaides beskadig, sodat boere hom as 'n skadelike dier beskou. Die warm woestyne in die suidweste is begroei met kaktusse, waaronder veral die skyfkaktusse (genus Opuntia) oorheers. Die saguarokaktus (Carnegia gigantea), wat tot 15 m hoog word, dien vir die gilaspeg (Centurus uropygialis) en die goudspeg om in nes te maak. Waar die reënval hoër is, groei agame (genus Agave) en adamsnaald (genus Yucca). Laasgenoemde blom snags en word dan deur nagvlinders bestuif. 'n Tipiese voëlspesie uit hierdie gebied is die hardloopkoekoek (Geococcyx calitornianus). Hy is nie 'n groot vlieër nie, maar kan vinnig hardloop. Met sy lang pote kan die voel snelhede van tot 24 km/h bereik, terwyl spronge van tot 3 m hoog gemaak word. Behalwe ratelslange kom ook die tjukwalla (Sauromalus obesus) en die gilamonster (Heloderma suspectum), 'n giftige akkedis, hier voor.

Gebergtes en riviere

Die grootste berg reeks is die Rotsgebergte, wat 'n oppervlakte van een miljoen km² beslaan. Op die hoogste pieke, bo die boomgrens, is die plant- en dierewêreld dieselfde as die van die toendra. Op die berghellings lewe die rotsgebergtebok (Oreamnos americanus) en die rotsgebergteskaap (Ovis canadensis).

Die rotsgebergtebok kry in die winter wit wol en blou hoewe en horings. Laer af in die berge lewe die Noord-Amerikaanse takbok, wat soos die Europese rooitakbok behoort tot die genus Cervus, vroeër die algemeenste hoefdier van Noord-Amerika. Met die ontginning en uitkap van die bosse het die oostelike subspesie Cervus elaphus canadensis uitgesterf en is die oorblywende spesies na onbereikbare berghellings of reservate teruggedwing.

Die groot riviere van die Amerikaanse kontinent is ryk aan visspesies en ander waterdiere, terwyl soogdiere soos bisamrotte (Ondatra zibethica), otters, bewers en waterspitsmuise wat by water aangepas is, langs die oewers woon. Van die visse is die baarsagtiges (orde Peciformes) en die karperagtiges (orde Cypriniformes) die algemeenste verteenwoordig. Die lepelsteur (Polyodon spathula), wat in die twintigerjare nog so volop was dat daar jaarliks 1 000 ton daarvan gevang is, moet vandag weens die jarelange onoordeelkundige vangs beskerm word.

Een van die vreemdste Amerikaanse visse is die Amerikaanse moddersnoek (Amia calva), die enigste oorblywende spesie van die visorde Amiiformes, wat in die Jura en Kryt met ses families algemeen verspreid was. Die moddersnoek verkies die dig begroeide oewers van vlak riviere en word as 'n lewende fossiel beskou.

Lande

 
Nasa-Satellietbeeld van Noord-Amerika
 
Kaart van Noord-Amerika
 
Territoriale ontwikkeling van Noord-Amerika sedert 1750
Naam van streek en gebied, met vlag[2][3][4]Oppervlak
(km²)[5]
Bevolking
(2008)[6]
Bevolkingsdigtheid
(per km²)
Hoofstad
  Amerikaanse Maagde-eilande (Verenigde State)347110 000317Charlotte Amalie
  Anguilla (Verenigde Koninkryk)9115 000165The Valley
  Antigua en Barbuda44288 000199St. John’s
  Aruba (Nederland)180107 000594Oranjestad
  Bahamas13 943342 00025Nassau
  Barbados430256 000595Bridgetown
  Belize22 966307 00013Belmopan
  Bermuda (Verenigde Koninkryk)5465 0001 204Hamilton
  Bonaire (Nederland)29412 093[7]41Kralendijk
  Britse Maagde-eilande (Verenigde Koninkryk)15123 000152Road Town
  Clipperton (Frankryk)600
  Costa Rica51 1004 579 00090San José
  Curaçao (Nederland)444140 794[7]317Willemstad
  Dominica75167 00089Roseau
  Dominikaanse Republiek48 67110 090 000207Santo Domingo
  El Salvador21 0416 163 000293San Salvador
  Grenada344104 000302St. George’s
  Groenland (Denemarke)2 166 08657 0000,026Nuuk (Godthåb)
  Guadeloupe (Frankryk)1 628401 784[8]247Basse-Terre
  Guatemala108 88914 027 000129Guatemala-stad
  Haïti27 75010 033 000362Port-au-Prince
  Honduras112 4927 466 00066Tegucigalpa
  Jamaika10 9912 719 000247Kingston
  Kaaimanseilande (Verenigde Koninkryk)26456 000212Georgetown
  Kanada9 984 67033 573 0003Ottawa
  Kuba109 88611 204 000102Havana
  Martinique (Frankryk)1 128397 693[9]353Fort-de-France
  Meksiko1 964 375112 322 75757Meksikostad
  Montserrat (Verenigde Koninkryk)1026 00059Plymouth; Brades
  Navassa (Verenigde State)5[10]0[11]0
  Nicaragua130 3735 743 00044Managua
  Panama75 4173 454 00046Panama-stad
  Puerto Rico (Verenigde State)8 8703 982 000449San Juan
  Saba (Nederland)131 537[7]118The Bottom
  Sint Bartholomeus (Frankryk)21[10]7 448[11]355Gustavia
  Saint-Martin (Frankryk)54[10]29 820[11]552Marigot
  Sint Pierre en Miquelon (Frankryk)2426 00025Saint-Pierre
  Sint Eustatius (Nederland)212 739[7]130Oranjestad
  Sint Maarten (Nederland)3440 009[7]1 177Philipsburg
  St. Kitts en Nevis26152 000199Basseterre
  St. Lucia539172 000319Castries
  St. Vincent en die Grenadine389109 000280Kingstown
  Trinidad en Tobago5 1301 339 000261Port of Spain
  Turks- en Caicoseilande (Verenigde Koninkryk)94833 00035Cockburn Town
  Verenigde State9 629 091311 630 00033Washington, D.C.
Noord-Amerika Totaal24 500 995541 720 44023

Sien ook

Verwysings

  1. "Amerigo Vespucci" (in Engels). Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Februarie 2020. Besoek op 24 April 2019.
  2. (en) "SPP Background". CommerceConnect.gov. Security and Prosperity Partnership Of North America. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Junie 2008. Besoek op 14 November 2010.
  3. "Ecoregions of North America" (in Engels). United States Environmental Protection Agency. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 September 2015. Besoek op 30 Mei 2011.
  4. "What's the difference between North, Latin, Central, Middle, South, Spanish and Anglo America?". About.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 April 2016.
  5. (en) "Demographic Yearbook—Table 3: Population by sex, rate of population increase, surface area and density" (PDF). United Nations Statistics Division. 2008. Besoek op 14 Oktober 2010. Cite journal requires |journal= (hulp)
  6. Department of Economic and Social Affairs Population Division (2009). "World Population Prospects, Table A.1" (PDF). 2008 revision (in Engels). Verenigde Nasies. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 24 Oktober 2018. Besoek op 12 Maart 2009.
  7. 7,0 7,1 7,2 7,3 7,4 (en) Central Bureau of Statistics Netherlands Antilles. "Statistical information: Population". Government of the Netherlands Antilles. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2010. Besoek op 14 Oktober 2010.
  8. "Insee – Populations légales 2008 – 971-Guadeloupe" (in Frans). Insee.fr. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Maart 2016. Besoek op 31 Oktober 2011.
  9. "Insee – Populations légales 2008 – 972-Martinique" (in Frans). Insee.fr. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 November 2009. Besoek op 31 Oktober 2011.
  10. 10,0 10,1 10,2 "The World Factbook: 2010 edition" (in Engels). Central Intelligence Agency. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2018. Besoek op 14 Oktober 2010.
  11. 11,0 11,1 11,2 "The World Factbook: 2010 edition" (in Engels). Central Intelligence Agency. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2018. Besoek op 14 Oktober 2010.

Bronne

Eksterne skakels


Kontinente van die wêreld

 
Afrika-Eurasië
 
Amerikas
 
Eurasië
 
Oseanië

 
Afrika
 
Antarktika
 
Asië
 
Australië
 
Europa
 
Noord-Amerika
 
Suid-Amerika

Geologiese superkontinente : Gondwana · Laurasië · Pangaea · Rodinia · Ur · Vaalbara


Noord-Amerika

Noord-Amerika