Alaska
Staat van die Verenigde State van Amerika
Alaska (Engels: [əˈlæskə], ; Russies: Аляска), amptelik die Deelstaat Alaska (State of Alaska), is 'n deelstaat van die Verenigde State aan die noordweskus van Noord-Amerika. Dit is die grootste deelstaat met 'n oppervlakte van 1 530 693 vierkante kilometer (wat gelykstaan aan byna 'n vyfde van die 49 ander deelstate se totale oppervlakte) – en die grootste skiereiland in die Westelike Halfrond. Alaska se hoofstad is Juneau en die grootste stedelike nedersetting is Anchorage. Die deelstaat word in die noorde deur die Arktiese Oseaan, in die ooste deur Kanada (provinsies: Yukon en Brits-Kolombië), in die suide deur die noordelike Stille Oseaan, en in die weste deur die Beringstraat begrens. Die bekendste byname, wat aan Alaska gegee is, is Die Laaste Landgrens (Engels: The Last Frontier) en Die Groot Land (The Great Land). Die naam Alaska is afgelei uit die Aleoetiese alaxsxaq ("die vasteland", of, volgens 'n meer presiese vertaling "die voorwerp waarop die see se handelinge gerig is").[2]
Deelstaat Alaska | |||||
| |||||
Bynaam(e): The Last Frontier, The Great Land | |||||
Amptelike taal(e) | Geen | ||||
Gesproke taal(e) | Engels 89,7 %, inheemse tale 5,2 %, Spaans 2,9 % | ||||
Hoofstad | Juneau | ||||
Grootste stad | Anchorage | ||||
Area | 1ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 1 530 693 km2 | ||||
- Wydte | 1 300 km | ||||
- Lengte | 2 380 km | ||||
- Water | 53 432 km2 | ||||
- % water | 13,77 % | ||||
- Breedtegraad | 51°20'N tot 71°50'N | ||||
- Lengtegraad | 130°W tot 172°E | ||||
Bevolking | 47ste in die V.S. | ||||
- Totaal | 736 081[1] | ||||
- Digtheid | 0,46/km2 50ste in die V.S. | ||||
Hoogte | |||||
- Hoogste punt | Denali (Mount McKinley) 6 193,7 m | ||||
- Gemiddeld | 580 m | ||||
- Laagste punt | Stille Oseaan seevlak | ||||
Toetrede tot die Unie | 3 Januarie 1959 (49ste) | ||||
Goewerneur | Michael J. Dunleavy (R) | ||||
Luitenant-Goewerneur | Nancy Dahlstrom (R) | ||||
Wetgewer | Alaska Wetgewer | ||||
- Hoërhuis | Senaat | ||||
- Laerhuis | Huis van Verteenwoordigers | ||||
V.S. Senatore | Lisa Murkowski (R) Dan Sullivan (R) | ||||
Tydsone | UTC-10 /-9 / Somertyd UTC-9 /-8 | ||||
Afkortings | AK US-ALK | ||||
Webblad | www.alaska.gov |
Die eerste Europeërs het Alaska eers in 1741 begin verken toe Russiese ekspedisies hier voet aan wal gesit het – en die eerste Europese naam aan die land gegee het: Bolsjaja Zemlja of "die Groot Land" – 'n Russiese benaming wat voortleef in die Engelse bynaam The Great Land. Al het Rusland vervolgens aanspraak gemaak op die mees noordelike deel van die Noord-Amerikaanse vasteland, was Alaska onder Russiese bewind nouliks meer as 'n buitepos vir klein groepe jagters en handelaars.
Ná die Krimoorlog (1853–1856) was Rusland se staatskas leeg, terwyl ook die Russiese leër se slaankrag en vegvermoë in twyfel getrek moes word. Die Russiese kolonies in Noord-Amerika is as onverdedigbaar beskou, gegewe die aktiwiteite van ander groot koloniale moondhede soos die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State wat as mededingers in die gebied opgetree het. So was dit 'n maklike besluit vir die Russiese tsaar en sy raadgewers om die gebied op 30 Maart 1867 vir $7,2 miljoen (ongeveer twee sent per akker) aan die Verenigde State te verkoop. Na die transaksie, wat deur die Staatsekretaris William H. Seward gehanteer is, is deur Amerikaanse media as Seward's Folly verwys aangesien die ekonomiese waarde van die gebied destyds bevraagteken is.
Eers toe twee goudstormlope – in Juneau in 1880 en die Kanadese Yukon-gebied in 1897 – duisende delwers na Alaska laat stroom het, het die Amerikaanse publiek sy aandag op die noordelike besitting begin vestig. Die waarde van Alaska se jaarlikse goudontginning het van $800 000 in 1890 tot $9 miljoen in 1904 gestyg.[3] Die administratiewe insluiting by die Unie was 'n langdurige proses. Vanaf 1906 is Alaska deur 'n verteenwoordiger sonder stemreg in die Amerikaanse Kongres verteenwoordig. Ses jaar later het die Kongres met die Wet oor die Alaskagebied (Alaska Territory) die eerste territoriale wetgewende vergadering geskep wat uit 'n laerhuis en senaat bestaan het, met agt senatore en sestien verteenwoordigers (twee senatore en vier verteenwoordigers vir elkeen van die vier geregtelike distrikte waarin die gebied destyds onderverdeel is).[4]
Maar eers in 1959 is die politieke aspirasies van sy bewoners vervul toe Alaska as 49ste deelstaat tot die Unie toegelaat is. Die Arktiese Sirkelroete tussen die Verenigde State en Asië was gedurende die Tweede Wêreldoorlog en die Koue Oorlog van groot strategiese belang. Die permanente stasionering van militêre personeel in Alaska het grootliks bygedra tot die deelstaat se vinnige bevolkingsgroei, terwyl sy ekonomie en infrastruktuur deur federale befondsing ontwikkel is. Die ekonomiese basis is verder verstewig met die ontsluiting van groot olie- en aardgasvelde.
Etimologie
wysigDie naam "Alaska" (Russies: Аля́ска, Aljáska) het in gebruik gekom tydens die Russiese koloniale tydperk, toe met dié naam na die Alaskaskiereiland verwys is. Dit is ontleen aan 'n Aleoetiese idioom, alaxsxaq, wat beteken "die vasteland" of, meer spesifiek, "die voorwerp waarop die see se handelinge gerig is".[5][6][7]
Geskiedenis
wysigVoorkolonisasie
wysigVerskeie inheemse volke het Alaska al vir duisende jare bewoon voordat Europeërs die gebied bereik het. Taalkundige en DNS-studies wat hier gedoen is, het bewyse gelewer vir die bevolking van Noord-Amerika deur die Beringlandbrug.[8][9] By die Upward Sun-rivierterrein in die Tanana-vallei in Alaska is die oorblyfsels van 'n ses weke oue baba gevind. Dié baba se DNS het getoon dat sy aan 'n bevolking behoort het wat geneties nie verwant was aan ander inheemse volke in die Nuwe Wêreld aan die einde van die Pleistoseen nie. Ben Potter, argeoloog aan die Universiteit van Alaska Fairbanks wie in 2013 die oorblyfsels opgegrawe het by die Upward Sun-rivierterrein, het hierdie nuwe groep Antieke Beringiërs gedoop.[10]
Die Tlingit-volk in die huidige suidooste van Alaska asook dele van Brits-Columbië en Yukon het 'n samelewing ontwikkel met 'n matrilineêre verwantskapstelsel van eiendomsvererwing en -afkoms. Die Haida, wat deesdae veral bekend is vir hul unieke kuns, bly ook in die suidooste van Alaska. Die Tsimshian het in 1887 Alaska uit Brits-Columbië bereik, toe president Grover Cleveland, en later die Amerikaanse Kongres, hulle toestemming gegee het om hulle op Annette-eiland te vestig en die stad Metlakatla gestig het. Al drie die inheemse volke asook ander langs die Stille Oseaan se Noordwestelike kus het van die laat 18de eeu tot die middel-19de eeu gebuk gegaan onder pokke-uitbrake, waarvan die mees verwoestende epidemieë in 1830's en 1860's was, wat baie sterftes en sosiale ontwrigting veroorsak het.[11]
Kolonisasie
wysigParty navorsers meen dat in die 17de eeu die eerste Russiese nedersetting in Alaska gestig is.[12] Volgens hierdie hipotese het in 1648 'n aantal Kotsj van Semjon Dezjnjof se ekspedisie tydens 'n storm in Alaska voet aan wal gesit en dié nedersetting gestig. Hierdie hipotese steun op die Tsjoektsjen-geograaf Nikolai Daurkin se getuienis, wat Alaska in 1764–1765 besoek en van 'n dorp aan die Kheuveren-rivier, bewoon deur "bebaarde mans" wat "ikone aanbid", berig het. Van die moderne navorsers verbind Kheuveren met die Koyuk-rivier.[13]
Algemeen word die St. Gabriel onder bevel van die landmeter M. S. Gwozdef en sy assistent-navigeerder I. Fjodorof as die eerste Europese skip beskou wat tydens die ekspedisie van die Siberiese kosak A. F. Sjestakof en die Russiese verkenner Dmitri Pawlutsky (1729–1735) op 21 Augustus 1732 Alaska bereik het.[14] In 1741 het 'n ander Europeër kontak gemaak met Alaska, toe Vitus Bering 'n ekspedisie gelei het vir die Russiese Vloot op die St. Peter. Nadat sy bemanning na Rusland teruggekeer het met see-ottervelle wat as die beste pels ter wêreld beskou is, het klein verenigings pelshandelaars van die Siberiese kus na die Aleoete-eilande begin seil. In 1784 is die eerste permanente Europese nedersetting gestig.
Tussen 1774 en 1800 het Spanje verskeie ekspedisies na Alaska gestuur om sy aanspraak op die Stille Oseaan se noordoostelike kus te beklemtoon. In 1789 is 'n Spaanse nedersetting en vesting in Nootka-sund opgerig. Tydens dié ekspedisies het plekke soos Valdez, Bucareli-sund en Cordova hul name verkry. Gedurende die vroeë tot middel-19de eeu het die Russies-Amerikaanse Maatskappy 'n uitgebreide kolonisasieprogram van stapel gestuur. Sitka, van 1804 tot 1867 hernoem in Nieu-Archangel, op Baranof-eiland in die Alexander-argipel van die huidige Suidoos-Alaska, het die hoofstad van Russies-Amerika geword. Dit sou die hoofstad bly tot en met die verkoop aan die Verenigde State. Die Russe het Alaska nooit volledig gekoloniseer nie en dié kolonie was nooit baie winsgewend nie. Bewyse van die Russiese vestiging het regdeur Suidoos-Alaska in name en kerke tot vandag toe bewaar gebly.
In 1867 het William H. Seward, die Amerikaanse Staatsekretaris onder president Andrew Johnson, die Alaska-verkoop (destyds Seward's Folly genoem) met die Russe ter waarde van $7,2 miljioen onderhandel.[15] Rusland se destydse heerser keiser Aleksander II, die Keiser van die Hele Rusland, koning van Pole en Groothertog van Finland, het ook dié verkoop beplan;[16] die verkoop is op 30 Maart 1867 volstrek. Ses maande later het die kommissarisse in Sitka aangekom en die formele oordrag is gereël; op 18 Oktober 1867 het die formele vlaghys-seremonie plaasgevind op Fort Sitka. In dié seremonie het 250 geüniformeerde Amerikaanse soldate na die goewerneur se huis by "Castle Hill" gemarsjeer, waar die Russiese troepe die Russiese vlag gestryk het en die Amerikaanse vlag gehys is. Dié gebeurtenis word jaarliks op Alaskadag herdenk, 'n openbare vakansiedag op 18 Oktober.
Alaska is aanvanklik losweg deur die weermag beheer en van 1884 af geadministreer as 'n distrik met 'n goewerneur wat deur die Amerikaanse president benoem is. 'n Federale distrikshof was in Sitka gesetel. Gedurende die eerste dekade onder Amerikaanse beheer was Sitka die enigste nedersetting wat deur Amerikaanse setlaars bewoon is. Hulle het 'n "voorlopige stadsregering" georganiseer, wat Alaska se eerste munisipale regering was, maar nie in 'n wetlike sin nie.[17] Die wettige inkorporasie van nedersettings in Alaska as stede was eers van 1900 af moontlik, terwyl tuisregering vir stede eers ná staatskap in 1959 moontlik was.
Amerikaanse gebiedsinkorporasie
wysigVan die 1890's en op sommige plekke tot in die vroeë 1910's het goudstormlope in Alaska en die nabygeleë Yukon-gebied duisende myners en setlaars na Alaska gelok. Van 1879 tot 1920 het Alaska 'n kumulatiewe totaal van meer as $460 000 000 ($6 691 927 500 inflasie-aangepas) aan minerale produksie opgelewer.[18] In 1912 is Alaska amptelik geïnkorporeer as 'n georganiseerde gebied. Alaska se hoofstad, tot en met 1906 Sitka, is noord na Juneau verskuif. Die bouwerk aan die Alaska-goewerneur se herehuis het in dieselfde jaar begin. Europese migrante uit Noorweë en Swede het hulle ook in die suidooste van Alaska gevestig, waar hulle die visvang- en houtkappernywerhede toegetree het.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Aleoete-eilande-veldtog gefokus op Attu, Agattu en Kiska wat almal deur die Japannese Keiserryk beset was. Tydens die Japannese besetting is een Amerikaanse burgerlike en twee Amerikaanse Vlootlede op onderskeidelik Attu en Kiska dood een sowat 50 Aleoete-burgerlikes en agt matrose is in Japan geïnterneer. Omtrent die helfte van die Aleoete is tydens die internering dood.[19] Unalaska, Dutch Harbor en Adak het belangrike basisse geword vir die Amerikaanse Leër, United States Army Air Forces en Amerikaanse Vloot. Die Leen-en-pagwetprogram het behels dat Amerikaanse vegvliegtuie deur Kanada na Fairbanks en daarna na Nome gevlieg is; Sowjet-vlieëniers het hierdie vliegtuie in besit geneem en hulle vervoer om die Nazi-Duitse inval in die Sowjetunie te beveg. Die bou van militêre basisse het bygedra tot die bevolkingsgroei van sommige stede in Alaska.
Staatskap
wysigStaatskap vir Alaska was 'n belangrike bewegrede vir James Wickersham vroeg in sy ampstermyn as 'n kongresafgevaardigde.[20] Dekades later het die staatskapbeweging sy eerste werklike momentum verkry ná 'n territoriale referendum in 1946. Die Alaska-staatskapskomitee en Alaska se grondwetlike konvensie sou kort daarna volg. Ondersteuners van 'n staatskap het ook groot weerstand teen politieke vyande ondervind, meestal in die Amerikaanse Kongres, maar ook in Alaska self. Staatskap is op 7 Julie 1958 deur die Amerikaanse kongres goedgekeur; Alaska het op 3 Januarie 1959 amptelik 'n Amerikaanse deelstaat geword.[21]
Goeie Vrydag-aardbewing
wysig- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Goeie Vrydag-aardbewing.
Op 27 Maart 1964 het die massiewe Goeie Vrydag-aardbewing die lewens van 133 mense geëis en verskeie dorpe en dele van groot kusgemeenskappe vernietig, veral deur die daaropvolgende tsoenami's en grondstortings. Dit was die vierde sterkste aardbewing in die geskiedenis met 'n grootte van 9,2 op die Richterskaal (meer as 'n duisend keer groter as die Loma Prieta-aardbewing).[22] Die tyd van die dag (5:36 nm), die tyd van die jaar (lente) en die ligging van die episentrum is almal aangehaal as faktore wat moontlik die lewens van duisende mense gespaar het, veral in Anchorage. Op 11 Julie 1585 het Alaska 'n erger aardbewing getref met 'n geskatte grootte van 9,25 wat steeds die sterkste aardbewing in die Noord-Amerikaanse geskiedenis en die naassterkste ooit wêreldwyd was.
Die Goeie Vrydag-aardbewing het vier minuut en 38 sekondes geduur. 970 km se verskuiwing het op een slag gebars en opbeweeg tot 18 m waarmee ongeveer 500 jaar se stresopbou vrygestel is. Bodemvervloeiing, skeure, grondstortings en ander breuke het groot strukturele skade in verskeie gemeenskappe en baie skade aan eiendom veroorsaak. Anchorage het erge verwoesting of skade gely aan baie onvoldoende aardbewingbestaande huise, geboue en infrastruktuur (geteerde paaie, sypaadjies, water- en rioolhoofleidings, elektriese stelsels en ander menslike toerusting), veral in die verskeie grondstortingsones langs Knik Arm. 320 km verder suidwes is sommige gebiede naby Kodiakeiland permanent met 9 m gehys. Suidoos van Anchorage is gebiede rondom die kop van Turnagain Arm naby Girdwood en Portage met 2,4 m verlaag wat heropbou en vulling vereis het om die Seward-snelweg bo die nuwe hoogwatermerk te hys.
In die Prins-William-sund het Port Valdez groot onderwatergrondverskuiwing gely, wat die lewens van 32 mense geëis het tussen die ineenstorting van die Valdez-stadhawe en dokke, en binne die skip wat destyds daar vasgemeer was. Daar naby het 'n 8,2 m-tsoenami die dorp Chenega verniel en 23 van die 68 inwoners is dood; oorlewendes het die golf uitgehardloop en na hoë grond geklim. Tsoenami's ná die aardbewing het ook Whittier, Seward, Kodiak en ander Alaska-gemeenskappe erg geraak, asook mense en eiendom in Brits-Columbië, Washington, Oregon en Kalifornië.[23] Tsoenami's het ook skade berokken in Hawaii en Japan. Bewyse van grondbewegings wat direk met die aardbewing verband gehou het, is ook uit Florida en Texas aangemeld.
Alaska is voorheen deur geen groot ramp in 'n hoogbevolkte gebied geraak nie en het baie beperkte hulpmiddels tot sy beskikking gehad om die gevolge van só 'n gebeurtenis te hanteer. Die stad Anchorage en die Alaska-staatsbehuising het op aansoek van die geoloog Lidia Selkregg 'n span van 40 wetenskaplikes aangestel, waaronder geoloë, grondkundiges en ingenieurs, om die skade wat die aardbewing aan die stad aangerig het, te bepaal.[24] Die span, Ingenieurs- en Geologiese Bepaalingsgroep genoem, is gelei deur Ruth A. M. Schmidt, 'n geologieprofessor aan die Universiteit van Alaska Anchorage. Die span wetenskaplikes het gebots met plaaslike ontwikkelaars en middestadse sake-eienaars wat onmiddellik wou herbou; die wetenskaplikes wou toekomstige gevare identifiseer om te verseker dat die herboude infrastruktuur veilig is.[25] Die span het sy verslag op 8 Mei 1964, net 'n bietjie meer as 'n maand ná die aardbewing, uitgereik.[24][26]
Die Amerikaanse weermag, wat 'n groot aktiewe teenwoordigheid in Alaska het, het ook binne oomblikke ná die einde van die aardbewing ingespring om te help. Die Amerikaanse weermag het vinnig die kommunikasie met die 48 vastelandse deelstate herstel, troepe ontplooi om die inwoners van Anchorage by te staan en 'n konvooi na Valdez gestuur.[27] Op advies van militêre en burgerlike leiers het president Lyndon B. Johnson die volgende dag die hele Alaska tot 'n groot rampgebied verklaar. Die Amerikaanse Vloot en Amerikaanse Kuswag het skepe ontplooi na geïsoleerde kusgemeenskape om met onmiddellike behoeftes te help. Slegte weer en swak sig het lugredding en waarnemingpogings op die dag ná die aardbewing belemmer, maar op Sondag, die 29ste, het die situasie verbeter en reddingshelikopters en waarnemingsvliegtuie is ontplooi.[27] 'n Militêre lugbrug het onmiddellik verligtingsvoorrade aan Alaska verskaf en uiteindelik 1 170 000 kg aan voedsel en ander voorrade verskaf.[28] Die uitsaaijoernalis Genie Chance het gehelp met herstel- en noodlenigingspogings en op die KENI-luggolwe oor Anchorage vir meer as 24 ononderbroke ure gebly as die stem van kalmte vanuit haar tydelike pos binne die Anchorage Openbare Veiligheidsgebou.[29] Sy is deur die stad se polisiehoof effektief aangewys as die openbare veiligheidsbeampte.[29] Chance het nuus verskaf oor die rampspoedige gebeurtenisse wat ná die aardbewing ontvou het en sy het gedien as die stem van die openbare veiligheidskantoor, reaksiepogings gekoördineer, beskikbare hulpbronne aan behoeftes rondom die gemeenskap verskaf, inligting oor skuilings en voorbereide voedselrantsoene versprei, boodskappe van welstand tussen geliefdes oorgedra en gehelp met die hereniging van gesinne.[30]
Op die langer termyn het die Amerikaanse Weermagkorps van Ingenieurs die pogings gelei om paaie te herbou, rommel op te ruim en nuwe dorpe te bou vir gemeenskappe wat heeltemal verniel is teen koste van $110 miljoen.[28] Die Weskus- en Alaska-tsoenami-waarskuwingsentrum is gestig as 'n regstreekse reaksie op die ramp. Federale rampverligtingsfondse het betaal vir heropbou asook die herontwikkeling van Alaska se verwoeste infrastruktuur finansieel ondersteun, waarvoor honderde miljoene dollars bestee is wat gehelp het om Alaska finansieel solvent te hou tot die ontdekking van massiewe olie-afsettings by Prudhoe-baai. Op bevel van die Amerikaanse Verdedigingsdepartement het die Alaska Nasionale Wag die Alaska-afdeling van Nooddienste gestig om op enige toekomstige ramp te kan reageer.[27]
Olie-oplewing
wysigDie ontdekking van ruolie in 1968 by Prudhoe-baai en die voltooiing van die Trans-Alaska-pypleidingstelsel in 1977 het gelei tot 'n olie-oplewing. Die groot inkomste uit die ruolie-ontginning het van 1980 af groot staatsbegrotings befonds.
Olieproduksie was nie die enigste ekonomiese waarde van Alaska se grond nie. In die tweede helfte van die 20ste eeu het Alaska toerisme as 'n belangrike inkomstebron ontdek. Toerisme het ná die Tweede Wêreldoorlog gewild geword toe militêre personeel wat in die streek gestasioneer was, teruggekeer het huis toe en die natuurlike prag daarvan geprys het. Die Alcan-snelpad, wat tydens die oorlog gebou is, en die Alaska-mariene snelwegstelsel, wat in 1963 voltooi is, het die deelstaat meer toeganklik gemaak as ooit tevore. Toerisme het toenemend belangrik geword in Alaska en deesdae besoek jaarliks meer as 1,4 miljoen mense dié deelstaat.[31]
Terwyl toerisme al hoe belangriker geword het vir die ekonomie, het omgewingsbewustheid ook in belangrikheid gestyg. Die Alaska National Interest Lands Conservation Act (ANILCA) van 1980 het 217 000 km² tot die National Wildlife Refuge-stelsel toegevoeg, gedeeltes van 25 riviere tot die National Wild and Scenic Riversstelsel, 13 000 km² as National Forest-land en 176 000 km² as nasionale parke. As gevolg van die wet bevat Alaska nou tweederdes van al die Amerikaanse nasionale parklande. Vandag is meer as die helfte van Alaska-grond in besit van die federale regering.[32]
In 1989 het die Exxon Valdez 'n rif getref in die Prins-William-sund, waarna meer as elf miljoen gellings (42 megaliter) ruolie 1 800 km se kuslyn besmet het. Vandag spruit die stryd tussen filosofieë van ontwikkeling en bewaring in die omstrede debat oor olieboorwerk in die Arctic National Wildlife Refuge en die voorgestelde klippiemyn.
Geografie
wysigAlaska se ongerepte wildernis
wysigToe die federale geograaf Henry Gannett (1846−1915), een van die stigterslede van die National Geographic Society, in 1904 as landmeter in Alaska werksaam was, het hy reeds die potensiaal van die gebied se uitgestrekte wildernisgebiede raakgesien wat tans die ruggraat van toerisme in die deelstaat vorm. Die beperkte padnetwerk bepaal nogtans die hoofroetes vir toeriste van wie die oorgrote meerderheid per bus, trein of motor besoeke aan ontwikkelde nasionale parke en ander bewaringsgebiede of nedersettings bring. Inheemses verwys na Alaska se afgeleë wildernisgebiede, wat nie deur paaie ontsluit word nie, as Alaskan Bush, en na hul bewoners as Alaskan Bush people.
Georganiseerde of privaat ekotoerisme neem besoekers na Alaska se ongerepte wildernis met 38 bergreekse, 100 000 gletsers (wat 4,5 persent van die deelstaat se oppervlakte of 29 000 vk myl bedek[33]), 3 000 riviere en meer as drie miljoen mere waarvan die grootste, die Iliamna-meer in Suidwes-Alaska, 2 850 km² of 1 100 vierkante myl beslaan. Die deelstaat se wye spektrum van klimaatsones en ekostelsels strek van gematigde reënwoude tot droë Arktiese streke.
Net vyf van Alaska se vyftien nasionale parke, beskermde wildernisgebiede en natuurmonumente word deur paaie ontsluit. So kan die Nasionale Glacier Bay-park slegs per boot of vliegboot bereik word. Ook die mees noordelike van die deelstaat se nasionale parke, Gates of the Arctic National Park, is slegs toeganklik vir rugsaktoeriste, hondeslee- en vlotekskursies.
Grenslyn
wysigDie grenslyn tussen Alaska en Brits-Noord-Amerika (die latere Kanada) is oorspronklik in 1825 deur die twee koloniale moondhede Rusland en die Verenigde Koninkryk getrek. Nadat die Verenigde State Alaska in 1867 van Rusland gekoop het, was die historiese grensooreenkoms en die presiese grensverloop omstrede. Die Amerikaanse standpunt is in 1903 deur 'n internasionale tribunaal gesteun wat die huidige grensverloop bevestig en die grensgeskil sodoende besleg het.
Publieke grond
wysigGroot dele van Alaska word deur die staat of organisasies van die inheemse bevolkings bestuur. Meer as die helfte van die deelstaat se oppervlakte word deur die federale owerheid geadministreer. In teenstelling met ander deelstate mag hierdie grond vir bestaansboerdery, visvangs of jag gebruik word. Selfs nasionale parke val in hierdie kategorie.[34] In nasionale parke, wat in hul amptelike naam die byvoegsel and Preserve voer, soos byvoorbeeld Denali National Park and Preserve, staan bepaalde gebiede oop vir visvangs en jag vir eie gebruik, of die beoefening van sport. Net dele van 'n park, wat deur borde as wilderness aangedui word, en waar gewoonlik ook die meeste besienswaardighede geleë is, geniet beskerming en mag nie deur jagters of vissers betree word nie.
Land van die middernagson – land van die poolnag
wysigAlaska ontvang in die lente en somer meer sonlig as enige ander Amerikaanse deelstaat en baie ander plekke op aarde.[35] Sy ligging naby die Noordpool maak van die deelstaat gedurende die somermaande 'n land van die middernagson en van die poolnag gedurende die winter. In Utqiaġvik (tot 2006 bekend as Barrow), die mees noordelike nedersetting in die deelstaat, gaan die son twee-en- 'n-half maande lank, tussen 10 Mei en 2 Augustus, nie onder nie. In die donker poolnag tussen 18 November en 24 Januarie klim die son nie meer bo die horison nie en bly die nedersetting in permanente donkerheid gehul.
Die Land van die Middernagson word rofweg begrens deur die Arktiese Sirkel, op die 66ste breedtegraad, 33 minute noord. Hierdie verbeelde lyn markeer die laagste breedtegraad waar die son gedurende die Somerstilstand op 20 of 21 Junie 'n volle 24 uur lank bo die horison bly – en 'n volle 24 uur benede die horison op 21 of 22 Desember, die dag van die Wintersonstilstand.
Byna 'n derde van Alaska is noord van die Arktiese Sirkel geleë, alhoewel informeel dikwels na die hele deelstaat as 'n "land van die middernagson" verwys word. Enige plek in Alaska geniet lang dagligure in die somermaande – selfs in Ketchikan, die mees suidelike stedelike nedersetting, kry meer as 17 ure daglig op Juniedae.
Tydsones
wysigToe die eerste setlaars hulle in Alaska gevestig het, het plaaslike gemeenskappe grotendeels self besluit oor hul tydsones – dit was 12 uur middags op hul plek wanneer die son daar direk oorhoofs was. Gaandeweg het daar nogtans 'n behoefte ontstaan aan 'n geordende struktuur van tydsones. Vervolgens is die gebied op 18 November 1883 deur spoorwegmaatskappye in vier tydsones ingedeel wat by hul besondere behoeftes en roosters aangepas is – die Pasifiese of Stille Oseaantyd (in Suidoos-Alaska), die Yukon-tydsone (in die omgewing van Yakutat), die Alaska-tydsone (wat vanuit 'n gebied oos van Cold Bay tot die gebied net wes van Yakutat en noordwaarts tot Nome gestrek het), en die Bering-tydsone wat die Aleoetiese Eilande en die noordkus gedek het.
Ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Alaska se hoofstad Juneau besluit om van die Stille Oseaantyd oor te skakel na die Alaska-standaardtyd – en was vervolgens in 'n ander tydsone geleë as sy omgewing. Stadsbewoners het in opstand gekom teen die besluit wat uiteindelik herroep is.
Vier verskillende tydsones in een deelstaat was nogtans nie net vir die sakegemeenskap hoogs onbevredigend nie, hulle het kommunikasie vir alle bewoners belemmer. Goewerneur Bill Sheffield (Demokratiese Party) het in sy verkiesingsveldtog in 1982 belowe om die grootste deel van Alaska in 'n gemeenskaplike tydsone te verenig. Die Alaskaanse regering het die federale regering in Washington, DC versoek om Alaska se tydsones te wysig, en ná openbare verhore het die destydse minister van vervoer, Elizabeth Hanford Dole, die versoek in die najaar van 1983 toegestaan.
Vandag gebruik sowat 90 persent van die deelstaatbevolking die Alaska-standaardtyd wat een uur agter die weskus van die Verenigde State is. Bewoners in die res van Alaska – hoofsaaklik op die Aleoetiese en die Sint Lawrence-eilande – bevind hulself in die Hawais-Aleoetiese Standaardtydsone.[36]
Demografie
wysigRussiese invloede
wysig. Die sendingwerk van Russies-Ortodokse geestelikes het Christelike waardes in 'n gebied gevestig wat, net soos Siberië anderkant die Beringstraat, tradisioneel deur sjamanistiese oortuigings oorheers is. Russiese sendelinge het die Heilige Skrifte en himnes vertaal in inheemse tale soos gepraat deur Aleoete, Alutiiq, Tlingit en Yup’ik[37]
Al het die Russiese Tsareryk die gebied oor 'n langer tydperk geadministreer en sy rykdomme ontgin, het Russiese setlaars hulle nie in groot getalle in Alaska gevestig nie. Die gebied is as ongeskik geag vir nedersetting deur Europeërs. Gedurende die hele tydperk onder Russiese bewind tussen 1741 en 1867 het die getal Russiese setlaars in Alaska nouliks die 500-kerf oorskry.[38]
Russiese koloniste het die binneland van Alaska nouliks binnegedring, en nedersettings het net in kusgebiede ontstaan. Russiese koloniste was ook in bloedige konflikte met inheemse bevolkings gewikkel. Die verspreiding van die Christelike Russies-Ortodokse geloof is nogtans as instrumenteel beskou vir Rusland se koloniale ambisies. In 1860 is die getal inheemse Russies-Ortodokse Christene op sowat 12 000 beraam. Die Russies-Ortodokse kerkinfrastruktuur het uit 35 kapelle, nege kerkgeboue, 17 skole en drie weeshuise in 43 gemeentes bestaan. Die Russiese regering het Alaska aan die Verenigde State verkoop onder die voorwaarde dat die Russies-Ortodokse Kerk en sy gemeentes beskerming moet geniet. Tot en met 1917 het die Russies-Ortodokse Kerk sendelinge en fondse aan kerkgemeentes in Alaska beskikbaar gestel.[39]
So is die belangrikste kulturele erfenis uit die Russiese tydperk die sakrale boukuns van Ortodokse kerke en betreklik groot gemeentes van Russies-Ortodokse gelowiges – nasate van inwoners wat deur Russiese sendelinge bekeer is. Russiese Ougelowiges vorm 'n uitsondering. Hulle het eers in die 20ste eeu na Alaska geïmmigreer. Die meeste lede van hierdie groep, wat op enkele duisend siele beraam word, het hulle op die Kenai-skiereiland en in die omgewing van Kodiak gevestig. So is daar klein nedersettings soos Nikolaevsk in die Kenai Peninsula Borough waar Russies die huistaal vir twee derdes van die bevolking van iets meer as 300 siele is. Ougelowige vroue word uitgeken aan hul lang klere, mans aan hul lang baarde. Besoekers kom soms in aanraking met Oulowiges – byvoorbeeld wanneer hulle inkopies doen in winkels of hulself besig hou met visvangs.
Ander Europese invloede
wysigIn 1773 het die Spaanse koloniale owerheid verkenners na Alaska gestuur om Russiese aktiwiteite in die gebied dop te hou, sy eie aanspraak op geweste in die noorde te bevestig en die Noordwestelike Deurvaart te vind. In 1795 het die Spanjaarde hulle uit die noorde onttrek nadat hulle 'n stukkie grond in Nootka Sound aan die Britte afgestaan het. So bly die Spaanse erfenis in Alaska beperk tot enkele plekname soos Valdez, Cordova, Revillaigedo en Malaspina.
Die meeste setlaars, wat hulle in die tydperk kort ná die Alaska Purchase in 1867 in die gebied gevestig het, was immigrante uit Duitsland (tans is 19 persent van inheemse blankes van Duitse afkoms) en Ierland (twaalf persent van die permanente bevolking het wortels op die Groen Eiland).
Ekonomie
wysigLandbou
wysigKlein groentetuine, wat deur Russiese pelshandelaars aangelê is, word as die beskeie begin van moderne landbou in Alaska beskou. In die tyd van die goudstormlope het inwoners en delwers begin belangstel in Alaska se landboukundige potensiaal, maar eers in 1935 is met kommersiële landbou-aktiwiteite in noemenswaardige omvang begin toe president Franklin D. Roosevelt as deel van sy New Deal-beleid tydens die Groot Depressie sowat 200 boeregesinne uit die Amerikaanse Middeweste in die Matanuska-vallei in suidelike Sentraal-Alaska hervestig het om in die gebied se voedselbehoeftes te kan voorsien. Alhoewel baie van hulle nul boerderybedrywighede later weer gestaak het weens die ongunstige klimaat en betreklik onvrugbare grond, is daar met die projek se probeer en fouteer-proses waardevolle ervaring opgedoen vir latere generasies van boere wat in Alaska beter sou vaar.
Klimaattoestande is nogtans nie die grootste uitdaging vir Alaskaanse boere nie. Hoë produksiekoste, 'n tekort aan maklik toeganklike landbougrond en mededinging uit die ander vastelandse deelstate, die Lower 48, is die belangrikste struikelblokke.[40] Hulle is nogtans nie onoorkomelik nie. Aanpassing by die deelstaat se besondere omstandighede was die sleutel vir 'n groeiende suksesbedryf. Terwyl die getal boerderye in die Lower 48-deelstate tussen 2012 en 2017 met 'n gemiddeld van jaarliks 3,2 persent afgeneem het, toon die USDA (Amerikaanse Departement van Landbou) se 2017 Census of Agriculture[41] (Landbousensus), wat in April 2019 gepubliseer is, dat die getal Alaskaanse boerdrye in dieselfde periode met dertig persent gegroei het.[42]
Huidige landbou-aktiwiteite in Alaska, waarna ook as high latitude agriculture (landbou op hoë breedtegrade) verwys word, varieer volgens omvang van klein agtertuine tot groot plase met 'n oppervlakte van sowat 3 000 akker. Weeruiterstes en die betreklik kort groeiseisoen plaas beperkings op die bedryf, maar gewasse soos aartappels (soos die Yukon Gold-kultivar wat sy oorsprong in Kanada het), rabarber,[43][44] kool, blomkool, brokkoli en worteltjies aard goed in Alaska se koeler landbougrond – en breek met hul gewig soms rekords nadat hulle aan die ononderbroke daglig van Alaskaanse somers blootgestel is. Plaaslike boere het wêreldrekords behaal vir 'n worteltjie van 19 pond, 'n rutabaga (koolraap) van 76 en 'n kool van 127 pond.[45]
Die Alaskaanse somer met sy permanente sonlig gedurende die hoofgroeiseisoen laat groente en vrugte selfs beter smaak. Die koolhidrate, wat tydens fotosintese in gewasse opbou, word in Alaska in 'n groter omvang in suiker omgesit as in die suidelike 48 deelstate. Groente en vrugte word sodoende nie net groter nie, hulle smaak ook baie soeter. So kan Alaskaanse worteltjies agt keer soeter wees as worteltjies uit ander klimaatsones. Alaskaanse zucchini het opvallend helder kleure en is groter as kultivars wat in Kalifornië geoes word.
Die deelstaat se belangrikste boerderygebiede is die Matanuska-vallei noordoos van Anchorage (wat in 2004 sowat 62 van die totale landbouproduksie volgens waarde opgelewer het) en die Tanana-vallei wat vanaf Fairbanks tot Delta Junction strek (32 persent). Alhoewel tussen 15 en 18 miljoen akker van Alaska se totale oppervlakte teoreties beboubaar is, word tans slegs 900 000 akker (minder as 'n halfpersent) as deel van plase vir landboudoeleindes gebruik. Landerye met graangewasse het in 2004 sowat 31 000 akker beslaan, die res is as weiveld gebruik of nie bewerk nie.
Bees- en varkvleis, hooi, eiers en ander vars landbouprodukte word langs die sogenaamde Railbelt geproduseer, 'n gebied wat deur die Alaska Railroad (Alaska-spoorweg) ontsluit is en vanaf Seward noordwaarts tot Fairbanks strek. Tans word 95 persent van alle kos, wat in Alaskaanse winkels en supermarkte verkoop word, ingevoer. Hierdie persentasie sal moontlik verminder namate aardverwarming die groeiseisoen verleng en die verbouing van nuwe gewasse moontlik sal maak. Winters is in die vroeë 21ste eeu sowat ses grade warmer as gedurende die 1950's sodat vir die eerste keer appelbome en ander gewasse 'n kans op oorlewing het.[46]
Tans is plaaslik verboude groente en vrugte byna uitsluitlik vir die Alaskaanse mark bestem. Die enigste gewas, wat in noemenswaardige omvang na ander dele van die VSA uitgevoer word, is pioenrose wat as blomversierings gewild is by huweliksplegtighede.
Vervoer
wysigAlaska Marine Highway System
wysigOpenbare vervoer vir Alaska se kusgemeenskappe word verskaf deur die Alaska Marine Highway System (AMHS), 'n veerbootstelsel langs die suidelike kuslyn wat oor 'n afstand van 3 500 myl strek en 35 gemeenskappe bedien waarvan baie nie per pad toeganklik is nie – van Bellingham in die deelstaat Washington tot Unalaska/Dutch Harbor, 'n nedersetting op die Aleoete-eilande – in die uiterste suidweste van die deelstaat. AMHS se vloot is ontwerp om sowel passasiers asook voertuie en houers te vervoer. Die veerbootstelsel maak deel uit van die Amerikaanse snelweg- en grootpadstelsel, die National Highway System, en word deur die owerheid op dieselfde manier befonds soos snelweë.
Die veerbote word onderverdeel in groot hooflynskepe wat in talle hawens aandoen en groter gemeenskappe bedien op roetes wat oor duisende myle kan strek, met vaartye wat so lank soos 38 ure kan wees – soos op die veerbootroete tussen Bellingham en Ketchikan in Suidoos-Alaska, en kleiner veerbote (sogenaamde day boats) wat kleiner gemeenskappe met mekaar of met die hoofroetes verbind. Hulle word aangevul deur kleiner veerbote (shuttle ferries) wat heen-en-weer-dienste tussen gemeenskappe verskaf.[47]
Daar is altesaam 32 veerbootterminale, waarvan dertig in Alaska, een in Kanada (in Prince Rupert, provinsie Brits-Columbië) en een in die deelstaat Washington. Die laasgenoemde terminaal in Bellingham speel 'n belangrike rol in motorvervoer tussen Alaska en die suidelike 48 deelstate van die VSA. Die roete tussen Alaska en Bellingham is nie onderhewig aan immigrasie-, doeane- of invoerregulasies nie.
Verwysings
wysig- ↑ (en) "2020 Census Apportionment Results". Amerikaanse Sensuskantoor. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2021. Besoek op 26 April 2021.
- ↑ (en) Claus-M. Naske and Herman E. Slotnick: Alaska. A History of the 49th State. Sagteband-uitgawe. Norman: University of Oklahoma Press 1994, bl. 5
- ↑ (en) Naske/Slotnick (1994), bl. 3
- ↑ (en) 100 Years of Alaska's Legislature. Besoek op 24 Junie 2018
- ↑ (en) Knut Bergsland, red. (1994). Aleut Dictionary: Unangam Tunudgusii. Alaska Native Language Center. pp. 49, 50, 508. ISBN 978-1-55500-047-9.
- ↑ (en) William Bright (2007). Native American Placenames in the United States. University of Oklahoma Press. ISBN 978-0-8061-3598-4.
- ↑ (en) Ransom, J. Ellis. 1940. "Derivation of the Word 'Alaska'", American Anthropologist n.s., 42: bl. 550–551
- ↑ (en) "Native American populations descend from three key migrations". UCL News. 12 Julie 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Desember 2023. Besoek op 9 Desember 2023.
- ↑ (en) Brian Handwerk (5 Junie 2019). "Ancient DNA Reveals Complex Story of Human Migration Between Siberia and North America". Smithsonian Magazine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2023. Besoek op 22 Desember 2023.
- ↑ (en) "Lost Native American Ancestor Revealed in Ancient Child's DNA". National Geographic Society. 3 Januarie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Januarie 2018. Besoek op 3 Januarie 2018.
{{cite magazine}}
: Cite magazine requires|magazine=
(hulp) - ↑ (en) Brian C. Hosmer, American Indians in the Marketplace: Persistence and Innovation among the Menominees and Metlakatlans, 1870–1920 (Lawrence, Kansas: University Press of Kansas, 1999), bl. 129–131, 200.
- ↑ (ru) Свердлов Л. М. Русское поселение на Аляске в XVII в.? "Природа". М., 1992. No. 4. С.67–69.
- ↑ (en) Alexey V. Postnikof (2000). "Outline of the History of Russian Cartography". Regions: a Prism to View the Slavic Eurasian World. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Januarie 2013. Besoek op 17 Januarie 2013.
- ↑ (ru) Аронов В. Н. Патриарх Камчатского мореходства. // "Вопросы истории рыбной промышленности Камчатки": Историко-краеведческий сб.—Вып. 3.—2000. Вахрин С. Покорители великого океана. Петроп.-Камч.: Камштат, 1993.
- ↑ (en) Doyle, Don H. (2024). The Age of Reconstruction: How Lincoln's New Birth of Freedom Remade the World. Princeton & Oxford: Princeton University Press, bl. 99-120.
- ↑ (en) "The man who $old Alaska". Anchorage Daily News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Desember 2020. Besoek op 1 Desember 2020.
- ↑ (en) Keith Wheeler (1977). "Learning to cope with 'Seward's Icebox'". The Alaskans. Alexandria, Virginië: Time–Life Books. pp. 57–64. ISBN 978-0-8094-1506-9.
- ↑ (en) Alfred H. Brooks (1920). "Mineral Resources of Alaska, 1920" (PDF). USGS: 7.
- ↑ (en) John Haile Cloe (2017). Attu: the forgotten battle. United States National Park Service. ISBN 978-0-9965837-3-2. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Maart 2023. Besoek op 31 Maart 2023.
- ↑ (en) G.A. McBeath (2011). The Alaska State Constitution. Oxford commentaries on the state constitutions of the United States. Oxford University Press. p. 7. ISBN 978-0-19-977829-4. Besoek op 6 November 2024.
- ↑ (en) J.S. Whitehead (2004). Completing the Union: Alaska, Hawai'i, and the Battle for Statehood. Histories of the American frontier. University of New Mexico Press. pp. 273–300. ISBN 978-0-8263-3637-8. Besoek op 6 November 2024.
- ↑ (en) Alan Taylor. "1964: Alaska's Good Friday Earthquake". The Atlantic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Februarie 2021. Besoek op 13 Februarie 2021.
- ↑ (en) "1964 Alaskan Tsunami". University of Southern California Tsunami Research Group. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2015. Besoek op 8 Mei 2015.
- ↑ 24,0 24,1 (en) Friedel, Megan K. (2010). Guide to the Anchorage Engineering Geology Evaluation Group papers, 1964. UAA/APU Consortium Library Archives and Special Collections. HMC-0051. https://archives.consortiumlibrary.org/collections/specialcollections/hmc-0051/ Geargiveer 28 Maart 2019 op Wayback Machine
- ↑ (en) "Ruth Anne Marie Schmidt Ph.D." Alaska Women's Hall of Fame. 2015. Besoek op 23 November 2015.
- ↑ (en) Saucier, Heather (April 2014). "PROWESS Honors Historic Earthquake Survivor". American Association of Petroleum Geologists. Besoek op 31 Julie 2018.
- ↑ 27,0 27,1 27,2 (en) Cloe, John Haile "Helping Hand" Military response to Good Friday earthquake Geargiveer 27 Oktober 2016 op Wayback Machine Alaska Historical Society, 3/4/2014
- ↑ 28,0 28,1 (en) Galvin, John Great Alaskan Earthquake and Tsunami: Alaska, March 1964 Geargiveer 27 Oktober 2016 op Wayback Machine Popular Mechanics, 6/29/2007
- ↑ 29,0 29,1 (en) "When a Quake Shook Alaska, a Radio Reporter Led the Public Through the Devastating Crisis". Smithsonian Magazine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Maart 2020. Besoek op 21 Maart 2020.
- ↑ (en) Michael Barbaro (22 Mei 2020). "Genie Chance and the Great Alaska Earthquake". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Januarie 2021. Besoek op 2 Januarie 2021.
- ↑ (en) Phillips, James G. (1969). "Alaskan Oil Boom". CQ Researcher by CQ Press. CQ Researcher Online. CQ Press: 835–854. doi:10.4135/cqresrre1969111200. S2CID 264579055. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Julie 2018. Besoek op 31 Julie 2018.
- ↑ (en) Bruce Wells (12 Julie 2022). "First Alaska Oil Wells". American Oil & Gas Historical Society. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Maart 2016. Besoek op 7 Maart 2016.
- ↑ (en) Alaska Centers – Public Lands Information: Glaciers. Besoek op 10 Maart 2020 Geargiveer 29 April 2020 op Wayback Machine
- ↑ (en) National Park Service – U.S. Department of the Interior: Promises to Keep – Subsistence in Alaska's National Parks. Besoek op 10 Maart 2020 Geargiveer 29 April 2020 op Wayback Machine
- ↑ (en) "Alaska Centers – Public Land Information: Midnight Sun". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2020. Besoek op 21 Maart 2020.
- ↑ (en) worldatlas.com: How Many Time Zones Are in Alaska? Besoek op 22 Maart 2020
- ↑ (en) "Russian Colonization of Alaska: Transformation from Siberian Shamanism to Orthodox Christianity". Medium.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Maart 2020. Besoek op 27 Maart 2020.
- ↑ (en) The Alaska Almanac. 25th Anniversary Edition. Portland OR: Alaska Northwest Books 2001 , bl. 195
- ↑ (en) Ilya Vinkovetsky: Russian America. An Overseas Colony of a Continental Empire, 1804−1867. New York, NY: Oxford University Press 2011, bl. 10
- ↑ (en) The Alaska Almanac. Facts about Alaska. 30th Edition. Anchorage • Portland: Alaska Northwest Books 2006, bl. 9
- ↑ (en) 2017 Census of Agriculture – United States Summary and State Data. Volume 1 • Geographic Area Series • Part 51
- ↑ (en) Politico.com, 30 April 2019: Agriculture – Alaska's agriculture boom is driven by a local-first spirit. Besoek op 19 Maart 2020
- ↑ (en) Alaska Public Media, 15 Mei 2012: Celebrate Your Rhubarb, Alaska. Besoek op 4 April 2020
- ↑ (en) Atlas Obscura, 30 Julie 2019: How Alaska Became Home to Humongous Rhubarb. Besoek op 4 April 2020
- ↑ (en) farmflavor.com: Alaska Agriculture. Besoek op 19 Maart 2020
- ↑ (en) High Country News, 18 September 2017: Farming in Alaska is increasingly possible. Besoek op 19 Maart 2020
- ↑ (en) The Great State of Alaska: Alaska Marine Highway System. Besoek op 21 Maart 2020
Eksterne skakels
wysig- Wiki-webtuistes
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Alaska.
- Amptelike webtuistes
- (en) Amptelike webtuiste
- Ensiklopediese inligting
- (en) "Alaska". Encyclopædia Britannica. Besoek op 18 Julie 2024.
- Toerisme
- (en) Toerisme-inligting oor Alaska op Wikivoyage
- (en) Travel Alaska
- Geskiedenis
- Russiese erfenis
- (en) Russia Beyond, 7 September 2020: Ninilchik language: How a rare Russian dialect remains in Alaska
- Media
Verenigde State van Amerika | ||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
|