Windhoek (Duits: Windhuk, luister(hulp·inligting); Engels: Windhoek, [wɪndhʊk]; Herero: Otjomuise, letterlik: "plek van stoom"; Nama: ǀAi-ǁGams) is die sentraalgeleë hoofstad van Namibië en lê in die Khomashoogland. Die stad is ongeveer 1 700 m bo seespieël en volgens die 2001-sensus het dit 'n bevolking van 233 529 gehad. 'n Invloei van mense van oral in Namibië laat navorsers raam dat daar teen 2011 sowat 322 500 mense in Windhoek gewoon het.[1]
Weens die stad se relatiewe grootte[2] is Windhoek in alle opsigte die sosiale, ekonomiese en kulturele sentrum van die land. Feitlik elke nasionale onderneming se hoofkantoor, die Universiteit van Namibië, asook die land se enigste teater en alle groot media en finansiële liggame is hier gesetel.[3] Die Stad Windhoek se begroting is naastenby gelyk aan al die ander Namibiese plaaslike owerhede saam.[4]
Windhoek is oorspronklik in 1870 as 'n Rynse sendingstasie gestig; die naam Windhoek is afgelei van die Nama-woord vir "Plek van rook". Die huidige stad is op 18 Oktober 1890 deur kaptein Curt von François gestig. Die Duitse koloniale owerheid het baie geld aan die ontwikkeling van die stad bestee en vandag nog huisves dit pragtige geboue uit die Duitse koloniale tydperk soos die Christuskerk en die Tintenpalast (letterlik "Inkpaleis").
Die stad groei in die tydperk ná 1907 baie vinnig en lok talle mense uit die binne- en buiteland, waaronder 'n groot aantal immigrante uit Duitsland en Suid-Afrika.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog is Windhoek op 13 Mei 1915 deur Unie-magte beset, toe Duitse troepe die stad ontruim het. Die Duitse atmosfeer, vermeng met talle ander kulturele elemente, het egter voortgeleef en dit is vandag die tuiste van die enigste Duitse dagblad in Afrika, die Allgemeine Zeitung en 'n groot Duitse privaatskool, die Deutsche Höhere Privatschule (DHPS).
Tussen 1920 en 1990 was die stad die administratiewe sentrum van Suidwes-Afrika in die Unie van Suid-Afrika en is sedert die Onafhanklikheid van Namibië op 21 Maart 1990 die hoofstad.
Vandag is Windhoek die opvoedkundige, administratiewe, handels-, nywerheids- en kommunikasiesentrum van die land. In 1965 verkry Windhoek stadstatus. Die hoofstraat, Kaiserstrasse, is na onafhanklikheid herdoop na Independence Avenue, so ook talle ander strate na vryheidsvegters en Afrika-leiers. Die huidige geskatte bevolking beloop 316 000 (volgens World Gazetteer).
Die stad is die hoof kommersiële en finansiële sentrum van Namibië. Dit is geleë op 'n hellende vlakte op die noordelike kant van die Khomashoogland op 'n hoogte van 1 728 meter.
Om die stadsgebied uit te brei is 'n uitdaging op finansiële vlak en weens die geografiese ligging van die stad. In die suidelike, oostelike en westelike rigting word Windhoek omring deur rotsagtige, bergagtige areas wat grondontwikkeling baie duur maak. Die suidelike kant is nie geskik vir industriële ontwikkeling nie omdat daar ondergrondse waterdraers teenwoordig is. Dit laat die uitgestrekte brakwaterarea noord van die stad as die enigste haalbare plek vir die uitbreiding van Windhoek.[6]
Windhoek is geleë in 'n halfwoestynagtige klimaatsgebied. Dae is meestal warm met baie warm dae gedurende die somermaande met aande wat oor die algemeen koel is. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 19.47 °C, wat hoog is vir 'n plek wat op so 'n hoë hoogte lê op die rand van die trope.[7] Dit is hoofsaaklik weens die voorkoms van 'n warm noordelike lugvloei en die berge ten suide wat die stad teen koue suiderwinde beskut.
Die wintermaande van Junie, Julie en Augustus kry gewoonlik min tot geen reën nie. Minimumtemperature wissel tussen 5 °C en 18 °C. Aande is gewoonlik koel maar die temperatuur val selde tot onder 0°C en dit sneeu amper nooit nie. Dae is gewoonlik warm en wissel tussen maksimumtemperature van 20 °C en 31 °C in Januarie.
Die gemiddelde jaarlikse reënval is ongeveer 360 mm, wat te laag is om gewasse te kweek of om tuine in stand te hou sonder om baie water te gebruik. Die natuurlike plantegroei is struike en steppe. Droogtes kom gereeld voor.
In 1971 was daar ongeveer 26 000 blankes in Windhoek teenoor 24 000 swartes. Ongeveer een derde van daardie blankes (9 000) was van Duitse oorsprong.[10]
Tans staan Windhoek se bevolking op meer as 300 000 (67% swart, 16% blank, 17% kleurlinge, Basters en Asiate) en groei met ongeveer 4% jaarliks met die informele nedersettings wat teen ongeveer 10% per jaar groei.[6]
Windhoek is verreweg die belangrikste ekonomiese sentrum van Namibië, en die meeste ondernemings het hulle Namibiese hoofkwartier in die stad. Ondanks die klein aandeel van die Duitstalige bevolking is 'n groot aantal maatskappye in besit van die nasate van Duitse immigrante. Weens die noue ekonomiese bande met Suid-Afrika speel ondernemings uit die RSA 'n baie groot rol in die land. Die hoofkantoor van Air Namibia is in die TransNamib-gebou in Windhoek.[11] Verskeie winkelsentrums is in die post-onafhanklikheidsera gebou, waaronder Maerua en Wernhillpark.
Christuskerk – 'n Lutherse kerk. Die konstruksie van die kerk het onder pastoor Wilhelm Anz in April 1896 begin. Aan die einde van die Herero-oorloë tussen die Duitsers en die Herero's, Khoikhoi's en Ovambo's, is dit ingewy as die Kerk van Vrede in 1910. Die kerk, wat in die Gotiese herlewingstyl met Art Nouveau-elemente gebou is, staan in die historiese middelpunt van Windhoek. Die 24 m hoë toring is soos die res van die kerk van sandsteen gemaak. Die uitsondering is die ingangsportaal en die altaar, wat van marmer gemaak is. Die kleurvolle loodglasvensters in die kerk was 'n geskenk van Kaiser Wilhelm II. Die kerk is langs die Parlementêre Tuin en die Tintenpalast.
St. Mariakatedraal
Dieretuinpark – 'n openbare park aan Onafhanklikheidslaan die sentrum van Windhoek. Die huidige park is versorg en het 'n dam, speelarea vir kinders en 'n opelugteater.[12]
Tintenpalast – Duits vir Inkpaleis, is die setel van albei kamers van die Namibiese wetgewer, die Nasionale Raad en die Nasionale Vergadering. Dit is net noord van Robert Mugabe-laan en is ontwerp deur die argitek Gottlieb Redecker en gebou deur die maatskappy Sander & Kock tussen 1912 en 1913 uit materiale wat in ei streek ontgin is as 'n administratiewe gebou vir die Duitse regering wat in daardie stadium in beheer van Duits-Suidwes-Afrika was. Die gebou is omring deur die Parlementêre Tuin.
Alte Feste – Duits vir Ou Fort. Dit is in 1890 gebou en huisves tans die Nasionale Museum.
In 1928 was Kaiserstraße, nou Onafhanklikheidslaan die eerste geplaveide straat in Windhoek. Tien jaar later is die volgende een, Gobabisweg (nou Sam Nujoma-rylaan), ook geplavei. Vandag is ongeveer 5 000 km van ongeveer 40 000 km se paaie in Namibië geseël.
Windhoek se drie hoof toegangsroetes van Rehoboth, Gobabis en Okahandja is geteer en is ontwerp om die grootste moontlike vloede wat in 50 jaar verwag word, te kan weerstaan. Geseëlde paaie kan verkeer dra wat teen snelhede van 120 km/h beweeg en behoort vir 20 jaar te hou.
Huurmotors is geredelik beskikbaar en word maklik uitgeken in die stad met tekens wat bestaan uit een letter en soveel as drie syfers (byvoorbeeld T681, T68, T1).
Windhoek word bedien deur twee lughawens. Die naaste is Eros 7 km suid van die middestad vir kleiner vliegtuie, en Hosea Kutako Internasionale Lughawe 42 km ten ooste van die stad. 'n Aantal buitelandse lugrederye vlieg na en van Windhoek. Huurvlugte en helikopters is ook beskikbaar.
Hosea Kutako Internasionale Lughawe, 42 km oos van Windhoek kan tot 400 000 passasiers per jaar hanteer. Dit het een aanloopbaan sonder kapasiteitsbeperkings. Ander internasionale lughawens is in Walvisbaai en Lüderitz. Daagliks vlugte vertrek na Frankfurt in Duitsland en Johannesburg, die spil waarom Suider-Afrika se lugverkeer draai, is twee uur per vliegtuig daarvandaan, vanwaar daar na meer as 50 stede gevlieg kan word. Tot hul bankrotskap het die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Air Namibia daaglikse vlugte na WDH gevlieg, met TAAG Angola Airlines wat steeds twee-weekliks na en van Luanda vlieg.
Eros lughawe is die besigste lughawe in Namibië in terme van vliegtuie wat opstyg en land. Hierdie lughawe het ongeveer 12 000 individuele vlugte per jaar waarvan die meeste ligte vliegtuie is. Beperkings soos die lengte van die aanloopbaan, geraas en lugruimopeenhoping het Eros daarvan weerhou om in 'n groter lughawe te ontwikkel. Die meeste van Namibië se huuroperateurs is by Eros gebaseer.
Die Goethe-Zentrum is die enigste Duitse kultuursentrum in Namibië. Dit maak deel uit van 'n internasionale netwerk van altesaam 158 Goethe-sentra, Goethe-institute, kulturele verenigings en ander instellings wat deur die Federale Republiek van Duitsland in 93 lande dwarsoor die wêreld onderhou word. In samewerking met die Namibies-Duitse Stigting bevorder die Windhoekse sentrum die kennis van die Duitse taal (taalkursusse word vir privaat persone en onderwysers aangebied) en interkulturele samewerking tussen Namibië en Duitsland. 'n Belangrike fokus is kulturele projekte wat huidige Namibiërs met die pynlike Duitse koloniale beleid van die verlede probeer versoen.
Naas kulturele programme bied die sentrum inligting oor die kulturele, maatskaplike en politieke lewe in Duitsland aan en onderhou 'n biblioteek. Sedert 2013 bied die Goethe-sentrum naas Duitse en Engelse ook Afrikaanse en Oshiwambo-taalkursusse aan.[13]