Hierdie artikel is 'n bespreking van verskillende soorte tradisionele literatuur. Daar word gefokus op tradisionele literatuur as kernletterkunde vir die multi-kulturele klaskamer sowel as mondelinge en orale letterkunde.
Verder is die soorte verhale wat behandel word fantasie, volksverhale (soos sprokies), mites, legendes, fabels, sages, diereverhale, bedrieërverhale en verhale met ekologiese perspektief.
Uiteindelik word gekyk na die funksies van volksverhale.
In 'n veelvolkige land soos Suid-Afrika behoort harmonie tussen die verskillende bevolkingsgroepe nagestreef te word. Een metode om harmonie te bereik, is om die hedendaagse kind voor te berei dat hy in harmonie met sy landgenote sal wil saamleef en kulturele sensitiwiteit te ontwikkel. Hierin het die opvoeder 'n besondere taak, en die onderrig van 'n kernliteratuur kan nuttig in beide die Afrikaans Huistaal- en die Afrikaans Eerste Addisionele Taalklaskamer aangewend word.
Met kernliteratuur word bedoel daardie aktiwiteite en ervarings van menswees wat gedeel word deur al die mense in 'n gemeenskap, en wat dieselfde is vir alle volke, taalgroepe, godsdienstige oortuigings, geslagte en stande. Dit sluit in ervarings van die mens wat spreek van sy basiese behoeftes, die vermoë om te groei, te voel, te kommunikeer, die werklikheid deur sy verstand te beheers en om 'n geestelike dimensie te beleef. Kortom: 'n kernliteratuur kom uit 'n kernkultuur. Dit sluit uit spesifieke geloofsoortuigings, spesifieke voorkeure en vooroordele, voorregte en ongelykheid – met ander woorde: daardie dinge wat die omgewing toegevoeg het aan die mens se bestaan. Sommige skrywers noem dit dié dinge wat alle mense gemeen het en wat kom uit die kollektiewe menslike onderbewuste. 'n Kernliteratuur sal dus die verwoording wees van hierdie dinge wat inherent aan die mens as spesie is.
Die tipe literatuur wat hierdie inherente deel van menswees verwoord, is volksverhale en veral volksprokies. Die luister daarna of die lees daarvan is een van die min plekke waar alle mense mekaar kan ontmoet en hulle humaniteit realiseer.
Baie van die verhale in ons Afrika-volksverhaalskat en volkskuns het mondelinge oorsprong – dit is van geslag tot geslag oorvertel. Orale kulture het mooi en ryk mondelinge uivoerings van hoë estetiese waarde geproduseer. Ongelukkig het baie van die waarde daarvan verlore gegaan met die opteken daarvan, omdat die ontwikkeling van wetenskap, geskiedenis, filosofie, ander kunste, taalwetenskap en die begrip van geskrewe letterkunde daarmee ingemeng het.
In enige mondelinge kultuur is die gehoor baie belangrik – daar moet iemand wees om na die stories te luister. Daarom word die orale voordragkunstenaar beïnvloed deur die teenwoordigheid van die gehoor en hy/sy ekploiteer hierdie teenwoordigheid. By tye betrek hy/sy die luisteraars direk deur openings-formules wat die gehoor se belangstelling en aandag stimuleer. In baie gevalle word van die gehoor verwag om deel te neem in die liedere of refreine in die verhale.
In voor-Christelike tye was mense al bewus van die bestaan van fantasie. En hulle was nie net intuïtief daarvan bewus nie – hulle het 'n woord gehad om die verskynsel te beskryf. Die woord fantasie is afgelei van die Latynse phantasticus, en dit gaan selfs nog verder terug na 'n Griekse woord wat beteken: dit wat sigbaar gemaak word.
Fabels en mites het reeds in die vroeë Griekse tyd hul beslag gekry – verhale oor groothede wat nie sintuiglik of wetenskaplik fundeerbaar is nie en as fantasie omskryf kan word.
'n Wanbegrip van die ware aard van die fantasieverhaal kom by baie mense voor. Daar bestaan die wanopvatting by mense dat enigiets in die fantasieverhaal moontlik is. Dit kan onlogies wees, inkonsekwent, en die aard van die fantasiekarakters kan so onbeperk wees as wat die verbeelding van die skrywer toelaat. As dit die geval was, dan sou die fantasieverhaal vir die leser geen betekenis gehad het nie.
Elemente uit die sigbare werklikheid word (dikwels humoristies) verander in die droom wat terselfdertyd fantasie is – grense word opgehef en nuwe vryhede word geskep. Daarna kan die mens sinvol terugkeer na die realiteit – nadat die lewenswaarhede deur middel van fantasie verhelder en probleme van die lewe opgelos is.
1. Enige woordskepper neem die primêre werklikheid as afspringplek en omskep dit met behulp van verbeelding of fantasie. Die primêre wêreld bly die verwysingsraamwerk, en alles waarmee die woordskepper omgaan, het uiteindelik weer daarmee te doen. Maar binne hierdie raamwerk word geskep: wesens wat nog nooit bestaan het nie, gebeurtenisse wat nie kan gebeur nie, met kreature wat die woordskepper self vir die eerste keer laat leef.
Die sigbare, sintuiglike en wetenskaplik meetbare werklikhede kan nie al wees waaruit die skepping saamgestel is nie. Dis te min. Dit sluit die menslike gees met alles wat dit behels en wat sigbaar gemaak kan word, in. Fantasie gaan dus om die mens self, al is dit net 'n sekondêre werklikheid wat geskep word om verligting te ervaar, om verheldering en insig te gee as gevolg van distansiëring wat plaasvind.
Die fantasie moet met die werklikheid ooreenstem, dit wil sê dit moet aanvaarbaar, logies, konsekwent en moontlik wees. Die skeidslyn tussen werklikheid en fantasie is baie dun. Die mens is 'n wese met geestelike vermoëns en daarom is sy verbeeldingswêreld 'n werklikheid. Dit vorm 'n wesenlike deel van sy lewe waarsonder hy nie ten volle mens kan wees nie. Daar kan dus gepraat word van die reële werklikheid en 'n fantasiewerklikheid. Dit is belangrik om te onthou dat albei werklik-hede is. Vir die kind is daar dikwels 'n vaer onderskeid tussen die twee werklikhede as wat daar vir volwassenes is. Dit is verder belangrik om te besef dat die fantasie gedurig deur die mens getoets word aan die reële werklikheid. Vrae soos: Is dit waar? Het dit werklik gebeur? Is daar iets soos 'n … ? kom spontaan voor by veral kinders wat fantasieverhale lees. Dit is juis omdat sulke vrae gevra word, dat hierdie toetsing plaas-vind en dat dit nodig is dat die fantasieverhaal die nodige beperkinge moet hê.
2. Die tweede element van fantasie is drome en die skakeling daarvan met die onderbewuste. Die mens se drange en begeertes en ook pogings om probleemoplossings te vind, word uit die bewuste oorgeplaas na die onderbewuste en deur drome simbolies uitgesorteer. Daar is ook trekke van die absurde en surrealisme wat 'n nagmerriekwaliteit het en nie van fantasie losgemaak kan word nie. Hier is kreatiwiteit en oorspronklikheid van belang.
Oorspronklikheid is 'n belangrike vereiste. In die fantasieverhaal gaan dit om die verbeeldingswêreld en dus is dit nie aan die stereotiepe gebonde nie. Oorspronklikheid by die outeur stimuleer weer die verbeelding van die leser. Daar moet beklemtoon word dat met oorspronklikheid nie bedoel word dat die tradisionele fantasiefigure soos kabouters, hekse en towenaars nie meer in verhale mag voorkom nie. Wat wel belangrik is, is dat hulle deur die outeur op 'n oorspronklike, nuwe wyse gehanteer moet word. Die outeur van 'n geslaagde fantasieverhaal doen dit só dat die kind met nuwe oë na die fantasiekarakter kyk en sodoende geprikkel word deur die andersheid daarvan.
3. 'n Element wat algemeen aanvaar word as onlosmaaklike bestanddeel van fantasie is towery, die toweragtige of magiese. As mag is dit onpersoonlik, maar dit word in werking gestel (uitgebeeld) deur 'n karakter – met goeie of slegte gevolge vir die held/heldin.
Towery vorm dikwels die fokuspunt in 'n fantasieverhaal: daardeur word die positiewe in staat gestel om te oorwin, of die goeie karakter moet daarteen veg om die uiteindelike wenner te wees. As die rol daarvan uitgespeel is, kan die verhaal terugkeer na die primêre werklikheid en die storie kan eindig.
Toorkrag is onderworpe aan streng wetmatighede en kan alleen plaasvind binne die woordwerklikheid wat geskep word. Slegs een karakter het byvoorbeeld die mag om te toor en kan dit net onder bepaalde omstandighede doen. Of dit is 'n gawe wat eenmalig, of moontlik drie keer aan die karakter toegesê word. Die getal drie is in die letterkunde altyd betekenisvol/simbolies en in 'n fantasieverhaal speel dit dikwels 'n magiese rol.
'n Belangrikele element wat na vore kom in towery, is die spel met die onmoontlike, waar andersheid uitgedruk word deur die breek van aanvaarde grense van die realiteit d.m.v. metafore en simbole.
4. Taalgebruik is die instrument waarmee die woordkunswerk geskep word. Daarom skuil daar poëtiese krag in fantasie. Elke effektiewe en selfs evokatiewe woord help mee om 'n nuwe wêreld voort te bring waarin magiese vryheid en toweragtige grense harmonies gekombineer word.
Inkantasies kom dikwels voor en kan terselfdertyd as motief 'n fantasieverhaal tot eenheid bind. Dit kan ook saamhang met 'n toor-element: om towerkrag in werking te stel, moet sekere woorde of 'n rympie byvoorbeeld presies nagesê of gesing word.
Ook retoriese vrae of beskrywings wat kort-kort opnuut voorkom kan 'n sterk rol speel in 'n verhaal en indruk maak op die hoorder/leser. Die herhaling van woorde aksentueer die mag van die woord.
5. Karakters in fantasieverhale word nie baie genuanseerd en vol geteken nie, omdat dit nie eerstens om húlle gaan nie. Sowel karakters as gebeure illustreer 'n dieper waarheid of lewensiening wat op onderbewuste vlak aan die leser/hoorder deurgegee word. Tog is hulle nie blote figurante wat vlak en vervelig is nie. Veral die hoofkarakter moet oortuig en duidelike skakels hê met die primêre wêreld – of dit nou 'n mens met of sonder een of meer fantasie-eienskappe is, of 'n volledige fantasie-personasie of dalk 'n dier. Wat noodsaaklik is, is dat die karaktertrekke funksioneel moet wees ten opsigte van die geheel – dit moet 'n doel hê, al is dit net om humor te bewerkstellig of te bewys dat logiese menswerklikheid opgehef kán word.
'n Volledig fantasiematige karakter kan lyk soos hy wil en op enige wyse optree – en tog is hy ook gebonde aan inherente wetmatighede. Daar moet konsekwensie en oortuigingskrag wees in wat hy doen. Ook moet daar assosiasies wees met die mens, omdat die verhaal vir volwassenes of kinders bedoel is.
Karakters in fantasieë ontwikkel min, hoewel daar uitsonderings is. Daar kom gewoonlik tog verheldering of verdieping van insig – al is dit nooit 'n vereiste nie. Dit moet egter altyd oortuigend wees en nie dwangmatig nie.
6. Vertellerperspektiewe word in die geslaagde fantasieverhaal gegee om universele waardes in die regte lig te stel. In die reële werklikheid is daar nie net uiterstes nie. Daar is talle tussenstadia en die skeidslyne tussen die stadia is ook baie vaag. In die fantasie-werklikheid val die klem meer op absolute waardes sodat daar veel minder tussenstadia bestaan.
Die fantasiekarakters verteenwoordig in die eerste plek hierdie absolute waardes. 'n Lelike feetjie en 'n mooi heks is ondenkbaar omdat elkeen juis 'n verteenwoordiger van die teenoorgestelde waarde is. Waar dit egter wel voorkom (soos by Liewe Heksie) dien die teenstellende eienskap juis om die normale eienskap te beklemtoon. Die andersheid van die een lê die klem op die eendersheid van die ander. ln die tweede plek gee ook die handeling perspektief. Die handeling of gebeure word in die fantasieverhaal gereduseer tot die essensiële. Dit wat goed of sleg en mooi of lelik is, vind ook uiting in die handeling en word daardeur beklemtoon.
Die oogpunt / perspektief waaruit vertel word, is baie belangrik in 'n fantasieverhaal. 'n Duidelik volwasse verteller kan 'n blik op gebeure gee sodat die leser of luisteraar bewus is van 'n volwassene se simpatieke meelewing en instemming met wat daar gebeur – maar dit nooit neerbuigend of prekerig/moralisties gedoen word nie. Ook waar daar 'n vermenging is van die werklikheid en verbeelding, moet die een werklikheid nie as minderwaardig of meerderwaardig ten opsigte van ander uitgebeeld word nie. Die twee elemente moet saamwerk en mekaar aanvul en die oorskakeling moet fyn en subtiel wees sodat dit inmekaar verweef is.
Fantasie kan ook gepaard gaan met angs; gebeure kan dus skrikwekkend wees. Dit is egter nooit 'n uitsiglose angservaring nie: die erns bly speels en selfs deurlig met humor.
Gebeure volg mekaar gewoonlik chronologies op. In die Afrika-fantasieverhale is daar egter dikwels 'n sikliese tydsopvolging moontlik. Geen aandag word gegee aan onnodige detail of newe-temas nie, sodat 'n hegte samehang kenmerkend is.
7. 'n Hegte konstruksie is 'n kenmerk van die geslaagde fantasieverhaal. Indien die nodige beperkinge nie op die fantasieverhaal geplaas word nie, sou die verloop van die gebeure uitgerek en heelwat meer as die essensiële besonderhede toegevoeg kan word. Dit sou dan kon lei tot 'n losse konstruksie. Die fantasieverhaal, soos enige ander verhaal, vorm ’n hegte eenheid wat alles bevat wat dit moet bevat, maar ook niks meer nie.
Volksverhale word gewoonlik vertel deur oumas in die aande om die vuur, of partykeer buite in die maanlig op warm somersaande. Dit word meer opgevoer as vertel. Die ouma of ander vertellers gebruik gebare, mimiek, dramatiese handelinge, liedere, stemtoon, spraakritme, ens. wat die gehoor meer betrek as blote vertellings.
Volksverhale kan gedefinieer word as "prose narrative which are regarded as fiction. They are not considered as dogma or history, they may or may nog have happened and are not to be taken seriously."[1]
Die tradisionele sprokie is wêreldwyd van die bekendste kinderlektuur. Dit is nie aan tyd of plek gebonde nie en daarom universeel aanvaarbaar. Dit neem 'n heel besondere plek in die lektuur van die kind in en kan ook bestempel word as lektuur met besliste moontlikhede om te beïnvloed. Die redes hiervoor moet gesoek word in die aard van die sprokie. Slegs wanneer 'n opvoeder bewus geword het van die kenmerke van die sprokie, kon hy dit na waarde skat.
Die tradisionele sprokie is 'n vorm van die volksverhaal wat aanvanklik mondeling oorgelewer is. Die oorsprong van tradisionele sprokies kan nie meer vasgestel word nie. Sprokies het waarskynlik vroeg, kort na die ontstaan van die mens, vorm begin aanneem. Die meeste sprokies is oud en kom wêreldwyd voor. Dit is dus vanselfsprekend dat daar verskillende variante aangetref sal word. Dit gebeur ook dat dieselfde gebeure in verskillende sprokies voorkom. Die moontlikheid bestaan dus dat dit of 'n gemeenskaplike oorsprong het en dus uit dieselfde oervorm ontwikkel het, of dat daar sterk wedersydse beïnvloeding moes plaasgevind het. 'n Voorbeeld hiervan is Rooikappie en die wolf en Die wolf en die sewe bokkies. In albei gevalle lê die wolf teen die einde en slaap, sy maag word oopgesny en diè wat hy ingesluk het, word bevry, waarna sy maag vol klippe gepak en toegewerk word.
Sprokies kan soos volg gedefinieer word: "Sprokies is fantastiese volksverhale, heeltemal vry van beperkings van persoon, plek of tyd, wat slegs bedoel is om lewensvreugde of genot te verskaf. Constantine Georgiou definieer hierdie element as volg: "The story satisfyingly entertains with the drama, romance, fun and fantasy that are characteristic of the finest fairy tales. This is the heart of the fairy story, and it may be described as its essential distinction-aesthetic value." [2] Hattingh beskou die sprokie as die oerbron van ons moderne letterkunde. Die vorm van die sprokie is eenvoudig en primitief en word bepaal deur die smaak en beperkte ondervinding van 'n ongekunstelde gehoor. (Dink bv hoe populêr sprokies is by die pre-adolessente kind).
By die aanhoor van die sprokie word alle klemmende aardse bande en bekommernisse vergeet. 'n Ietwat romantiese definisie van sprokies sou lui dat die sprokie die towerfee van droomland is waarin 'n mens vir 'n kort, maar die gewig van die aarde bande vir 'n kort, geluksalige oomblik nie meer druk nie.
Kenmerkend van die tradisionele sprokie, en dit hang ook saam met die kompakte vorm daarvan, is dat die begin van die verhaal dadelik die volgende bepaal: die plek, die karakters, die tyd en die situasie waaroor dit handel. Vir die kind is dit waardevol om dit van die begin of te weet. Dit verskaf duidelikheid, sodat hy nie daaroor hoef te wonder nie maar sonder enige versuim op die verhaal self kon begin konsentreer.
In sprokies kom meestal argetipes voor, wat iets van die oerkenmerke, oerbegeertes en oer-worstelinge van menswees en ontwikkeling soos wat dit in die kollektiewe onderbewuste bestaan, verwoord (bv. hoogmoed, nederigheid, verlossing, armoede, rykdom, seksualiteit, ens.)
Ook stereotipes kom in volksprokies voor en stem ooreen met die een-dimensionaliteit van die karakters. Ons kry dikwels die pragtige meisie, of die swakkeling-vader, ook die bose stiefma, die slim broer/held en die tipiese dom/onnosele karakter.
Kunssprokies of moderne sprokies kan toegeskryf word aan 'n spesifieke outeur. Dit toon verskeie ooreenkomste met die tradisionele sprokies. Daar is ook die absolute sin van goed en kwaad, bonatuurlike wesens, sensitiewe en vokatiewe taalgebruik en kompakte en fyn-uitgewerkte konstruksie.
Voorbeelde hiervan is die volgende:
Dit is maklik om die gewone fantasieverhaal te verwar met die volksprokie. 'n Belangrike verskil is dat nuwe fantasieverhale steeds in verskillende tale geskryf word, terwyl bestaande volksprokies in alle lande bly voortleef en die afgelope eeue nie meer aangevul word nie.
Sowel die volksprokie as die fantasieverhaal het 'n vinnige, chronologiese gang met klem net op essensiële elemente, terwyl rympies geredelik aangetref word. Daar is 'n oorheersende indruk van dramatiese eenvoud en gewoonlik bring die slot oorwinning van die goeie oor die bose.
Ander ooreenkomste is dat die getal drie (soms ook vyf of sewe) 'n belangrike strukturele rol speel en ook magiese implikasies kan hê. Towery kan die verhaal ingrypend beïnvloed en karakters neig na enkellynigheid. In albei gevalle is 'n verteller duidelik aan die woord.
'n Verskil tussen die fantasieverhaal en die volksprokie is dat die verteller by die fantasieverhaal wissel van 'n alwetende verteller tot die belewing van die karakter self. Daarteenoor is die verteller in die volksprokie altyd 'n alwetende, simpatieke volwassene wat die wêreld vir die kind oopmaak.
Nog 'n verskil is dat die fantasieverhaal op 'n dieper vlak van betekenis werk met lewenswaarhede wat aan die kind oorgedra word sonder dat hy eksplisiet daarvan bewus is. Deur die verteller of 'n karakter word die leser/luisteraar na onderbewuste bestaansfere geneem. Daarteenoor sak die volksprokie verder deur die lae van die persoonlikheid en spreek die diepste vlakke van hierdie onderbewuste aan – net 'n volwassene kan hom in dié proses begelei.
As tydsaanduiding in baie fantasieverhale vaag is, dan is dit in alle volksprokies nóg vaer. Omdat tyd nie duidelik aangedui word nie, word historiese agtergrond ook nie in volksprokies aangetref nie. Kultuurverwysings kom nie voor in die mondeling oorgelewerde verhale nie.
Ruimte is in fantasieverhale 'n element wat op 'n groot verskeidenheid wyses geskep word. Maar in die volksprokie is daar 'n vae, maar duidelik aardse ruimte in die begin – daarna word oorgegaan na 'n toweragtige ruimte, of die bestaande omgewing kry 'n towerdimensie by. In die afloop word teruggekeer na 'n gewone ruimte en die toweragtigheid is verby.
'n Volksprokie werk met vasgelegde besonderhede. Daar is gewoonlik 'n kasteel en/of 'n bos. Eersgenoemde dui op die geestelike woning van die kind as heerser oor sy eie lot; laasgenoemde wys op 'n toestand van onsekerheid en soeke. Eers as die karakter(s) weer uit die bos kom, is die oorwinning finaal.
Karakters maak nie lukraak in 'n volksprokie hul verskyning nie: argetipes word aangetref wat vaste betekenisse het, sodat hulle tot die diepste vlakke van die onderbewuste kan spreek. Hulle verteenwoordig kwaad (wat die hoofkarakter bedreig) of goed (wat die held/in help – dikwels deur towery). Ook het net die belangrikste karakters in die volksprokie name,en hierdie name is baie algemeen sodat 'n kind hom maklik onbewustelik in die plek van so 'n karakter kan stel. Daarteenoor kan al die karakters in 'n fantasieverhaal name hê volgens die skrywer/verteller se besluit en keuse.
In alle opsigte gehoorsaam die volksprokie dus strenger wette en dit het 'n onbuigsamer patroon as die fantasieverhaal. Dit geld ook vir die struktuur as sodanig: in albei gevalle is daar 'n vinnige gang. Terwyl die fantasieverhaal binne perke variasies toelaat, het die volksprokie altyd 'n sikliese struktuur. Dit begin met ewewig in die gewone wêreld, gevolg deur probleme en kragmetings in 'n toweragtige milieu, waarna daar verlossing kom en die balans in die gewone werklikheid herstel word.
Johan Degenaar bespreek verskillende interpretasies van 'n sprokie soos Rooikappie[3] en noem o.a. die volgende:
Die mite kan beskryf word as 'n denkbeeldige verhaal waarin die primitiewe mens sy gedagtes oor die wêreld en die mens in konkrete gedagtes uitbeeld. Tussen sprokies en mites bestaan 'n noue verband en baie sprokies is dan ook dikwels goeie voorbeelde van mitiese denkwyse.
Die woord mite is afglei van die Grieks "muthos" wat storie of verhaal beteken. Vandag verwys ons na mites as dáárdie verhale wat die oermens vir homself saamgestel het om natuurverskynsels te verduidelik of om die heldedae van gode en mense te laat voortleef van geslag tot geslag.
Die primitiewe mens wat in 'n atmosfeer van mistisisme en vrees geleef het, kon sy drang na kennis omtrent die wêreld waarin hy woon en ander mense op die volgende wyses bevredig:
Die gesette tyd van die son en die maan, die wisseling van die seisoene, die seegetye, die opvolging van dag en nag – al hierdie natuurwonders het die primitiewe mens met verwondering, nuuskierigheid en angs vervul. Hy wou graag die oorsake en betekenisse van dié onbekende dinge begryp. Omdat hy oor geen wetenskaplike kennis beskik het nie, het hy op intuïtiewe en subjektiewe wyse sy eie verduidelikings opgebou.
Die bekendste mites wat vir kinders geskik is kry ons oorgelewer van die Grieke, die Romeine en van die Noorderlande.
Dit is ook vir kinders interessant om te weet dat die name van die dae afgelei is van die name van Noorse gode:
Die mens se eindelose soeke na kennis en sy drang om te verklaar, het ook neerslag gevind in die verhale wat hy geskep het.
Mites (mitologie) het ontstaan uit die mens se verklarings wat hy probeer gee het vir onder andere natuurverskynsels en sy verhouding tot die natuurmagte en die gode wat, soos hy geglo het, oor hom 'n mag uitoefen. Die mite handel dus oor natuurverskynsels, die mens se verhouding tot die gode, die onderlinge verhouding tussen die gode, die ontstaan van die mensdom, die dood, eienskappe van voëls en diere, geografiese elemente en natuurverskynsels, die wyse waarop die mens sy roeping vervul, die stryd tussen verskynsels soos goed en kwaad, en die bonatuurlike.
Die mites soos ons dit vandag ken, was dus oorspronklik glad nie bedoel as kinderlektuur nie, en sekere mites sal selfs vandag in verwerkte vorm nie as kinderlektuur kan werk nie. Daar is egter 'n hele aantal mites uit veral die Griekse en Noorse mitologie wat as geskikte kinderlektuur beskou kan word, omdat die moderne verwerkers daarvan dit toeganklik gemaak het vir die kind. Dit word as geskik beskou omdat dit baie aksie bevat, daar 'n duidelike stryd of konflik aanwesig is wat aanleiding gee tot spanning, dit gewoonlik taamlik kort is, en die verwerking sodanig is dat dit begryp kan word sonder 'n diepgaande kennis van die mitologie.
Blykbaar is mites redelik skaars in Afrika, hoofsaaklik omdat dit eintlik stories van helde is wat aandag trek, en nie soveel verhale oor die bonatuurlike nie. Tog kan Minnie Postma se verhale van die Basoeto’s, en Eugène Marais se verhale van die Boesmans, in hierdie kategorie val.
Verskille tussen die sprokie en die mite:
Legendes kan beskou word as geskiedenis van 'n primitiewe soort, altyd gebaseer op een of ander historiese werklikheid.
Mites en legendes so nóu verbonde dat die meeste geleerdes dit as een groep behandel. Daar is egter verskille:
Legendes toon groot ooreenkomste met mites. Die oorsprong daarvan strek egter nie so ver terug nie. Die legendes handel oorspronklik oor die lewe van heiliges en is aanvanklik by sekere geleenthede in die Christelike kerk en in kloosters voorgelees. Mettertyd sluit hierdie voorlesings ook verhale oor die lewe van martelare in. Na die Middeleeue verbreed die term sodanig dat dit ook lewensverhale van mense insluit wat nie as heiliges of martelare beskou is nie. Die belangrikste eienskap van die legende bly steeds dat dit oor die lewe van 'n heldefiguur handel. Hierdie heldefiguur kan van universele belang wees (soos in die Christus-legendes), of van nasionale belang (Koning Arthur). In ons moderne tyd kan die heldefiguur selfs van streeks- of plaaslike belang wees (soos in Legendes uit die misrook van Minnie Postma). Die waarheidselement het mettertyd ook verflou, sodat dit nie moontlik is om vas te stel of die feite waarheid of verdigsel is nie.
Legendes het die volgende eienskappe:
Fabels bestaan gewoonlik uit 'n kort diereverhaal en dit eindig met 'n eksplisiete sedeles. In fabels word abstrakte idees soos onkunde, wysheid, vraatsug, trots of ydelheid deur middel van dierekarakters of lewelose voorwerpe in konkrete en visuele vorm voorgestel sodat dit verstaan en onthou kan word.
GK Chesterton beweer dat geen ware fabel menslike karakters mag bevat nie – en dit is waar dat die meeste fabels diere, voëls of lewelose voorwerpe as die hoofkarakters besit. Tóg is daar verskeie uitsonderings waar persone die hoofrol speel en dit doen geen afbreuk aan die kwaliteit van die fabel nie.
Sages is volksverhale wat uit die volksgeloof ontstaan het. Die woord sage verwys na die werkwoord "sê" en dit hou dus verband met "meedeling, berig, vertelling". Dit verwys meestal na 'n buitengewone voorval wat deur die luisteraar geglo sal word.
Daar is verskeie soorte sages
In hierdie tipe diereverhaal is die karakters diere wat nie in die werklikheid bestaan nie, maar net in die verbeelding van die skrywer en dus ook in die verbeelding van die leser. Die karakters toon egter ooreenkomste met bestaande diere en kan hare, skubbe, horings, kloue, sterte en selfs kamme en vere hê, na gelang van hoe sterk die verbeelding is. Afgesien van die voorkoms van hierdie diere, kan hulle ook dinge doen wat gewone diere nie kan doen nie, soos om vuur deur hulle neusgate te blaas of om geweldige krag te hê en alles plat te vee wat voorkom.
In hierdie verhale tree bekende diersoorte op. Hulle word egter vermenslik deur aan hulie menslike eienskappe soos spraak, kleredrag en menslike handeling toe te ken. In die geslaagde diereverhaal met vermenslikte karakters moet daar 'n fyn balans tussen die dierlike en die menslike wees. Die karakter is 'n dier en moet 'n dier bly, al vertoon hy menslike eienskappe. Sy mensheid mag nooit sover gevoer word dat hy sy unieke eienskappe as dier verloor nie. Daar moet dus 'n sinvolle kombinasie van eienskappe wees.
Die vraag wat ontstaan is of daar 'n risiko verbonde is aan die vermensliking van die dier; waarom is dit dan nodig om die diere in hierdie verhale te vermenslik? Die antwoord hierop moet gesoek word in die onvermoë van die kind in die nie-leesstadium om tussen die aard en eienskappe van die dier en dié van die mens te onderskei. Dit is vir hom natuurlik dat die dier soos 'n mens kan doen en dink en mens voorkom. Dit kom ook ooreen met die kind se verbeeldingspel waarin die dier in staat is om in mensetaal te praat en soos 'n mens op te tree.
Nog 'n interessante feit is dat skrywers die vermenslikte dier gebruik om aan die leser meer van sowel die mens as die dier te vertel. 'n Goeie diereverhaal met vermenslikte diere laat by die kind 'n begrip vorm van die dier en van die mens. As die vermensliking egter te ver gevoer word, dan verloor die karakter sy diere-aard, met die gevolg dat die kind weinig of niks van die dier leer of begryp nie.
Uit bogenoemde behoort dit duidelik te wees dat vermensliking van diere in die kinder-verhaal nie net toelaatbaar is nie, maar dat dit vir die kind in die nie-leesstadium wenslik is. Dit is belangrik dat die vermensliking van die dierekarakters met die nodige insig en aanvoeling gehanteer moet word, anders het dit nie die waarde vir die kind wat dit behoort te hê nie.
Die woord troetel beteken: om met liefde te behandel. 'n Troeteldier is 'n dier wat aangehou word vir die plesier daarvan, om liefde te gee en te ontvang. Daar bestaan by kinders van alle ouderdomme 'n groot behoefte in hierdie verband en gevolglik word verhale met troeteldiere as karakters vir baie verskillende ouderdomsgroepe aangetref. Die verhaal draai gewoonlik om die samesyn van 'n kind en sy troeteldier, om die kameraadskap tussen die twee en die gevoel wat hulle vir mekaar het. Die gesamentlike optrede van kind en dier in hierdie tipe verhaal bring soms mee dat dit moeilik word om te bepaal om wie die gebeure nou eintlik draai, of wie die hoofkarakter is. Die liefde vir mekaar is die band wat die twee so saamsnoer dat hulle 'n eenheid vorm. Daar is ook min sprake van 'n meerdere en 'n mindere, want die twee vul mekaar aan en waar die een in een opsig die ander se meerdere is, is die ander een dit weer in 'n ander opsig.
Kinders is in die moderne samelewing nie altyd in die posisie om 'n troeteldier aan te hou nie, daarom kan verhale oor troeteldiere in 'n sekere sin plaasvervangend wees. Die kind se begeerte om 'n troeteldier te besit, spoor hom aan om hierdie soort verhaal te lees.
In baie dele van die wêreld het die natuur as gevolg van die mens dierloos geword. Die Suid-Afrikaanse kind verkeer in die gelukkige posisie dat sy omgewing nog gekenmerk word deur die aanwesigheid van diere. Met sy groot inheemse fauna, bied Suid-Afrika aan sy skrywers inspirasie vir die skep van verhale oor diere in hulle natuurlike staat. Die uitbeelding van die dier kan òf objektief wees, dit wil sê hy kan bloot as objek beskryf word, òf dit kan subjektief wees, in welke geval die skrywer hom indink en invoel in die innerlike van die dier. In laasgenoemde geval beskryf hy nie net nie, hy beeld werklik uit.
Oorlewing van diere in die natuur hang van die natuurwette af, en om hierdie rede bied diereverhale dikwels konflik en drama. Dit is dus verstaanbaar dat veral seuns in die leesstadium (groterkindfase), daarvan sal hou.
Ten slotte moet beklemtoon word dat die kind-dier-verhouding uniek is. Die dier is die kind se metgesel, sy vertroueling, sy held, sy dienskneg, sy beste maat, sy trotste besitting. Die dier praat nooit teë nie, hy verwyt nie as hy sleg behandel word nie en hy tree nooit selfsugtig op nie. Dis geen wonder dat die kind op alle ouderdomme so graag oor diere lees nie.
Bedrieërverhale word aangetref in die meeste Afrikaanse mondelinge letterkunde verhaalskatte. 'n Algemene kenmerk daarvan is hulle groot klem op klein, skelm en geslepe diere (soos die hasie of die jakkals) wat groot en sterk diere (soos die wolf) bedrieg en uitoorlê. Die bedrieërs lei die ander om die bos in wedrenne, bedrieg die ander om hulleself of hulle familie dood te maak. Ook plaas hulle straf vir hul eie wandade op onskuldige persone, eet hul opponente se kos op en maak asof hulle onskuldig is, en so meer.
Diere-bedrieërs het dikwels dubbelsinne karakters: semi-menslik en semi-dierlik. Hulle doen wat beide menslike wesens en diere sou doen. Verder is hulle in staat om vrylik tussen die menslike en dierlike werklikhede te verwissel. Dit is hierdie tweesydige aard wat inherent aan hulle is, wat maak dat hulle kan slaag as bedrieërs. Dit gebeur soms ook dat bedrieërs self trap in slaggate wat hulle vir ander stel.
Soos in die geval van diere, gebruik vertellers dikwels ook natuurverskynsels (soos die wind, water, vuur, son en maan) as karakters. Dit gebeur eintlik in verhale waar geloof in die bo-natuurlike op hierdie manier uitgebeeld word. Die verhale wat opgeteken is en afkomstig van die Boesmankultuur, is goeie voorbeelde hiervan.
Hierdie volksverhale is antropomorfies – dit beteken dat hulle 'n verwoording is van die San- of ander Afrika-lewensbeskouings dat alles in die skepping met mekaar in verhouding staan en dat daar nie duidelike onderskeid is tussen plante, grond, natuurverskynsels, diere, mense en geestelike wesens nie. Hierdie verhale het dus 'n ekologiese perspektief en toon ook baie ooreenkoms met mitologie.
Enkele voorbeelde van die metafore en argetipiese temas wat verken word en hierin voorkom (en dikwels simboliese betekenis kry) is die volgende:
Temas wat ontgin word in bogenoemde metafore om gestalte te gee an die noodsaaklikheid van ekologiese balans en daarmee gepaardgaande balans in die menslike psige:
Verhale met 'n ekologiese perspektief strek hierdie verhale wyer en verder as kultuur en ras. Nog 'n kenmerk van hierdie verhale is dat dit kulturele en inter-kulturele diversiteit respekteer. Dit bied verder 'n uitdaging aan die leser om verantwoordelik met hulleself en hul fisiese omgewing om te gaan. Ook waarsku dit teen die neiging om die aarde en lewende wesens te eksploiteer en uit te roei.
Afrikaanse skrywers wat respek betoon het aan die Afrika-mitologie en hierdie verhale opgeteken het, is Eugene Marais, I.D. du Plessis en G.R. von Wielligh. Selfs die verhale van Minnie Postma kan in hierdie kategorie val.
In die ou dae was daar geen formele skole nie, en kinders is tuis opgevoed, veral deur die ouma, wat die tradisionele opvoeder was. Kinders is geleer deur volksverhale. Die verhale is op genotvolle eerder as moraliserende wyse oorgedra. Harmonie, saamwees, hulp aan ander mense, respek en ander ideale en waardes van die samelewing is geleer deur die ouma deur middel van volksverhale. Aanvaarbare en onaanvaarbare sosiale gedrag en toestande is beskryf d.m.v. dié verhale.
Diere in fabels verteenwoordig menslike wesens in vermomming. Die bose verteenwoordig slegte mense, terwyl die edele goeie mense in die samelewing verteenwoordig. Gewetenlose en hebsugtiges het hul teenhangers in die samelewing. Mense word gewaarsku teen al hierdie mense. Kinders word gewaarsku teen bedrieërs in die werklike lewe deur die bedrieër-volksverhale.
Wanneer volksverhale gesien word as opvoeding, ontstaan die vraag of volks-verhale nog geldig is weens die bestaan van skole. Die antwoord is dat die algemene doelwitte van opvoeding nog steeds deur volksverhale benadruk word, net soos in die ou dae.
Oorsprongsleer verduidelik die oorsprong van goed en kwaad. Volksverhale word vertel om die kinders se verwondering en belangstelling oor hoe dinge ontstaan het, te bevredig. Die meeste van hierdie verhale is ook didakties-lerend en/of moraliserend.
Voorbeelde:
Die artikel is grootliks gebaseer op die navorsing van Combrink[4] en aangevul deur klasaantekeninge van Kruger.[5]