Dermpoliep | ||
Klassifikasie en eksterne bronne | ||
’n Poliep van sowat 1 cm in deursnee wat tydens ’n kolonoskopie ontdek is. Dit is verwyder deur dit uit te brand. | ||
ICD-10 | K63.5 & verskeie | |
MedlinePlus | 000266 | |
eMedicine | med/414 | |
MeSH | C23.300.825 | |
Mediese waarskuwing |
’n Dermpoliep of kolorektale poliep is ’n poliep (groeisel) wat in die wand van die kolon of rektum voorkom.[1] Poliepe wat nie behandel word nie, kan in kolorektale kanker ontwikkel.[2]
Dermpoliepe word dikwels geklassifiseer volgens hul gedrag (kwaadaardig, voorkwaadaardig of niekwaadaardig) en/of oorsaak (byvoorbeeld weens ingewandsontsteking).
Dermpoliepe word gewoonlik nie met simptome verbind nie.[2] Wanneer simptome wel voorkom, is dit rektale bloeding, bloed in die stoelgang, maagpyn en moegheid.[2] ’n Verandering in toiletgewoontes kan voorkom, soos hardlywigheid en diarree.[3] Soms wanneer die poliep groot genoeg is om ’n obstruksie te veroorsaak, kan naarheid, vomering en kwaai hardlywigheid voorkom.[3]
Dermpoliepe is óf gesteeld (met ’n steel aan die kolon se wand vas) óf sessiel (groei uit die wand self).[4] Hulle kan opgespoor word met ’n kolonoskopie, sigmoïdoskopie, fekale okkultbloedtoets, DNS-toets van die stoelgang, digitale rektumondersoek of barium-enema.[3]
Hulle kan tydens ’n kolonoskopie of sigmoïdoskopie verwyder word deur hulle uit te sny of brand.[3] Poliepe wat moeilik is om te hanteer omdat hulle byvoorbeeld plat teen die kolon se wand lê, kan endoskopies verwyder word met ’n tegniek bekend as endoskopiese uitsnyding – ’n vloeistof word onder die groeisel gespuit om dit te lig en chirurgie te vergemaklik.
Bogenoemde tegnieke kan gebruik word as ’n alternatief vir ’n veel ingrypender kolektomie.[5]