Wiki Baike:Voorbladartikels 2009

Hierdie is die argief van al die artikel wat tydens 2009 as spogartikel op die voorblad gepryk het.

Week 1

Saturnus

Saturnus is die sesde planeet van die Son af. Dit is 'n gasreus en die tweede grootste planeet in die sonnestelsel na Jupiter. Die planeet is vernoem na die Romeinse god Saturnus en sy simbool is 'n gestileerde weergawe van Saturnus se sekel (♄).

Saturnus het 'n kenmerkende ringstelsel wat hoofsaaklik bestaan uit ysdeeltjies, klipperige afval en stof. Die planeet het ten minste 60 mane, waarvan Titaan die grootste is. Die spoed van wind kan op Saturnus tot 1800km/h bereik.

...lees verder


besigtig


Week 2

Die ligging van Wes-Australië (rooi gekleur) in Australië

Wes-Australië is 'n Australiese deelstaat wat die hele westelike derde van die Australiese kontinent beslaan. Dit is die land se grootste staat, maar bevat met 2,1 miljoen inwoners slegs 10% van die totale bevolking. Hiervan is 85% in die suidwestelike hoek van die staat woonagagtig.

Perth is die hoofstad van Wes-Australië en is geleë op die staat se 12 889 km-lange kuslyn.

...lees verder


besigtig


Week 3

Die Kremlin in Moskou

Rusland is 'n land wat gedeeltelik in Europa en gedeeltelik in Asië lê. Met sy oppervlak van 17 098 242 km² is Rusland die grootste land ter wêreld.

In die 20ste eeu het Rusland die kern gevorm van die Sowjetunie, die wêreld se eerste en grootste grondwetlik sosialistiese staat en saam met Amerika een van die wêreld se twee supermoondhede. Toe die Sowjetunie in 1991 verbrokkel, is die Russiese Federasie gestig. Rusland is ’n permanente lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad en 'n voorste lid van die Gemenebes van Onafhanklike State en G8.

...lees verder


besigtig


Week 4

'n Saffraankrokusblom met rooi stempels

Saffraan is 'n spesery van die blom van die Saffraankrokus. Die blom se drie stempels en se styl (die steel wat die stigmas met die res van die plant verbind) word baie keer gedroog en in kookkuns as geur- en kleurmiddel gebruik.

Saffraan word gekenmerk deur 'n bitter smaak en 'n jodoform - of hooi-agtige geur en 'n gee aan kos 'n ryk goudgeel skakering. Hierdie eienskappe maak saffraan 'n gesogte bestanddeel in baie voedselsoorte die wêreld oor. Saffraan het ook mediese toepassings.

...lees verder


besigtig


Week 5

Die Amerikaanse vlag hang bo die vlae van die verskillende deelstate

Die Amerikaanse Rewolusie verwys na die tydperk gedurende die tweede helfte van die 18de eeu, toe die dertien kolonies hulle onafhanklikheid van die Britse Ryk gekry het.

In hierdie periode het die kolonies hulle onderlinge geskille laat staan en gesamentlik in opstand teen die Britse heerskappy gekom. Een van die hoofredes hiervoor was die Britse ekonomiese beleid ten opsigte van die kolonies. Die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog het gevolg en vanaf 1775 tot 1783 geduur. Die oorlog het sy hoogtepunt met die Amerikaanse Onafhanklikheidsverklaring in 1776 en die Kolonies se militêre oorwinning in 1781 bereik.

...lees verder


besigtig


Week 6

Die Kathaarse Kruis

Katharisme was 'n godsdienstige beweging wat aktief was tydens die laat Middeleeue in veral Suid-Frankryk, Italië, Spanje en Duitsland. Die Kathare het hulself as die ware Christelike Kerk beskou, waar Jesus die sentrale plek ingeneem het. Op die basis van hulle dualistiese opvattinge het hulle die Ou Testament afgekeur. Die Kathare het die God van die Ou Testament as die Demiurg beskou: die bose skepper van die fisiese wêreld.

Die Kathare is deur die 13de eeuse Rooms-Katolieke Kerk as ketters beskou; hulle is deur die Inkwisisie vervolg en in 'n bloedige kruistog uitgewis.

...lees verder


besigtig


Week 7

Pluimvee besig om aan 'n spit te rooster

Middeleeuse kookkuns verwys na die voedsel, kookmetodes en eetgewoontes van verskeie Europese kulture tydens die Middeleeue, 'n periode van ongeveer die 5de eeu tot die 16de eeu, wat sterk verskil van die verfynde kookkuns van die Griekse en Romeinse oudheid. Die veranderinge ten opsigte van die dieet en maniere van kos voorberei het regoor Europa in die spanningsveld tussen hongersnode, religieuse voorskrifte en adellike verspilsug plaasgevind. Brood was die algemene stapelvoedsel, gevolg deur ander graankosse soos pap en pasta. Vleis was hoër geag en duurder as graan of groente.

...lees verder


besigtig


Week 8

Oscar Niemeyer

Oscar Niemeyer is 'n Brasiliaanse argitek wat as een van die belangrikste figure van die internasionale moderne argitektuur beskou word. Hy was 'n pionier wat onder meer met die boukundige moontlikhede van gewapende beton geëksperimenteer het.

Niemeyer se geboue word deur baie dinamiese vorms en boë gekenmerk en sommige van sy bewonderaars verwys na Niemeyer eerder as 'n beeldhouer van monumente as 'n argitek. Sy beduidendste projek, die nuwe Brasiliaanse hoofstad Brasilia, wat hy saam met Lucio Costa ontwerp het, is deur die UNESCO in 1987 as wêrelderfenisgebied aangewys.

...lees verder


besigtig


Week 9

Pluimvee besig om aan 'n spit te rooster

Die seekoei is 'n groot, oorwegend plantetende Afrika-soogdier. Dit is 'n halfwaterliewende dier en woon in groepe van vyf tot dertig seekoeie in riviere en mere in Afrika suid van die Sahara. Bedags verkoel hy homself deur in die water of modder te bly. Voortplanting en geboorte gebeur ook hier; met territoriale bulle wat waghou oor hulle stukkie water.

Die diere verskyn teen skemer aan wal om gras te vreet. Hoewel groepsverband en -gebied in die water geld, vreet seekoeie alleen op land, sonder beskerming van grondgebied.

...lees verder


besigtig


Week 10

Nagtelike uitsig oor Milwaukee

Milwaukee is die grootste stad en belangrikste hawe van die VSA-deelstaat Wisconsin en die 22ste grootste stad in die land. Die stad lê aan die suidwestelike oewer van die Michigan-meer, 112 kilometer noord van Chicago. Dit dien as die administratiewe setel van die Milwaukee-distrik en as die kulturele en ekonomiese sentrum van die metropolitaanse gebied van Milwaukee-Racine-Waukesha. Die eerste Europeërs wat die gebied van Milwaukee verken het, was Franse sendelinge en pelshandelaars. Danksy die groot getalle Duitse en ander immigrante het die stad in die 1840's en in die volgende dekades vinnig gegroei.

...lees verder


besigtig


Week 11

Parasetamoltablette

Parasetamol is 'n gewilde pynstiller en koorswerende middel. Die middel is afkomstig van koolteer en word oor die algemeen deur die menslike liggaam goed verdra: baie van die newe-effekte van aspirien word nie aangetref nie. Dit is oor die toonbank verkrygbaar en word dikwels gebruik vir die afwering van koors, hoofpyn en ander klein pyne en skete. Dit word ook saam met ander nie-steroïede anti-inflammatoriese middels (soos ibuprofen) of opioïediese pynstillers gebruik om ernstiger pyn te behandel. Parasetamol is ook 'n hoofbestanddeel in verskeie geneesmiddels vir verkoue en griep.

...lees verder


besigtig


Week 12

Gotenburg

Gotenburg is aan die weskus van Swede naby die monding van die rivier Göta älv in die Kattegat geleë. Die geografies gunstige ligging halfpad tussen Stockholm, Kopenhagen en Oslo het van Gotenburg die belangrikste hawe in Noord-Europa gemaak. Die Gotenburghawe hanteer jaarliks 30 miljoen ton vrag en passasierskepe vervoer jaarliks meer as vier miljoen passasiers na Swede. Die tradisionele skeepsbou het vanweë die sterk mededinging agteruitgegaan, maar Gotenburg is nog steeds 'n beduidende nywerheidsentrum en huisves die hoofkwartiere van Volvo, SKF (koeëllaers) en Hasselblad (kameras).

...lees verder


besigtig


Week 13

Henry James

Henry James was 'n Amerikaans-gebore skrywer en letterkundige kritikus tydens die laat 19de en vroeë 20ste eeu. Hy was die seun van teoloog Henry James Sr. en broer van die filosoof en psigoloog William James en ook van dagboekskryfster Alice James. Hy is meestal bekend vir sy romans, novellas en kortverhale gebaseer op temas soos bewustheid en moraliteit. James was 'n veelbetekende bydraer tot die kritisering van fiksie, veral in sy aandrang dat skrywers die grootste moontlike vryheid toegestaan word om hulle siening van die wêreld aan te bied.

...lees verder


besigtig


Week 14

Nedersakse se wapen

Nedersakse is 'n deelstaat in die noorde van Duitsland. Volgens sy oppervlakte van 47 624 vierkante kilometer en sy bevolking van naastenby 8 miljoen mense is Nedersakse die grootste deelstaat van Noord-Duitsland en die tweede grootste in Duitsland ná Beiere.

Die oudste historiese dokumente wat na die gebied van die huidige Nedersakse verwys dateer uit die Romeinse tydperk. Die naam "Nedersakse" is al baie oud en die naam en wapen van die huidige Duitse deelstaat verwys na die Germaanse stam van die Saksers.

...lees verder


besigtig


Week 15

Finse padteken

Fins behoort tot die Fins-Oegriese tale en is nou verwant aan Esties en verlangs aan Hongaars. Dit is naas Sweeds een van die twee amptelike tale van Finland met sowat 4,7 miljoen moedertaalsprekers (92 persent van die totale bevolking) en ook een van die ampstale van die Europese Unie.

Fins verskil in baie opsigte sterk van die Indo-Europese tale wat oorwegend in Europa gepraat word. Oor die eeue heen het die kontak met Indo-Europese tale egter 'n groot invloed op byvoorbeeld die sinsbou en woordeskat van die Finse taal uitgeoefen.

...lees verder


besigtig


Week 16

Marlene_Dietrich

Marlene Dietrich was 'n Duits-gebore aktrise en sangeres. In die vroeë dertigerjare het sy internasionale erkenning behaal met rolprente soos Der blaue Engel. Sy was dan ook die eerste Duitse aktrise wat 'n suksesvolle loopbaan in Hollywood begin het.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het sy die Verenigde State se militêre optrede teen Nazi-Duitsland gesteun. Sy het haar ná haar loopbaan aan die openbare lewe onttrek en is in 1992 in haar Paryse woonstel oorlede. Sy is in haar geboortestad Berlyn ter ruste gelê.

...lees verder


besigtig


Week 17

Blouwalvis

Die blouwalvis is 'n seesoogdier wat aan die suborde van die baardwalvisse behoort. Met 'n lengte van tussen 23 en 30,5 m en 'n massa van tot 136 ton, is dit die grootste dier op aarde. Die blouwalvis se dieet bestaan hoofsaaklik uit planktonkrefies ('n soort skaaldier), asook klein vissies en soms pylinkvis.

Aan die begin van die twintigste eeu was blouwalvisse volop in byna al die planeet se oseane. Vir meer as 40 jaar is hulle egter byna tot uitsterwing gejag, totdat die internasionale gemeenskap in 1966 besluit het om die diere te beskerm.

...lees verder


besigtig


Week 18

Foto van Anne Frank in 1940

Anne Frank was 'n Joodse meisie wat postuum internasionale bekendheid verwerf met die publisering van haar dagboek, waarin sy haar ervaringe tydens die Tweede Wêreldoorlog aangeteken het. Anne het in 1933 saam met haar familie na Amsterdam verhuis, maar tydens die Duiste besetting van Nederland was hulle daar vasgevang.

Die Agterhuis beskryf haar lewensloop van 12 Junie 1942 tot 1 Augustus 1944. Dit is reeds na baie ander tale vertaal en is een van die wêreld se mees gelese boeke, asook die basis vir verskeie rolprente en toneelstukke.

...lees verder


besigtig


Week 19

Brasilië

Brasilië is die grootste land in Suid-Amerika en die vyfde grootste land in die wêreld. Die land strek oor die uitgestrekte gebied vanaf sentraal Suid-Amerika en die Atlantiese Oseaan. Brasilië grens inderwaarheid aan bykans elke Suid-Amerikaanse land buiten Ecuador en Chili.

Brasilië bevat uitgebreide landbougebiede en reënwoude. Met sy baie natuurlike hulpbronne en groot arbeidsmark is die land Suid-Amerika se leidende ekonomiese moondheid. Omdat dit 'n kolonie van Portugal was, is Portugees die amptelike taal van Brasilië.

...lees verder


besigtig


Week 20

Rustenburgkloof

J. H. Pierneef was 'n Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar en word algemeen beskou as een van die beste ou Suid-Afrikaanse meesters. Sy kenmerkende styl word wyd herken en sy werk is grootliks deur die Suid-Afrikaanse landskap beïnvloed.

Baie van sy kunswerke is van die Suid-Afrikaanse hoëveld, waarin hy ook 'n lewenslange inspirasie gevind het. Pierneef se styl was om die landskap tot meetkundige strukture te reduseer, deur plat vlakke, lyne en kleur te gebruik om die harmonie en orde in natuur voor te stel.

...lees verder


besigtig


Week 21

Swede se landsvlag

Swede is die grootste van die Skandinawiese lande. Die hoofstad is Stockholm. Swede is 'n konstitusionele, erflike monargie met koning Carl XVI Gustaf as seremoniële staatshoof en 'n parlementêre demokratiese regeringstelsel met 'n eenkamerparlement, die Riksdag.

Swede se ekonomie is sterk uitvoergerig en word ondanks die relatief klein bevolking deur 'n groot aantal multinasionale maatskappye gekenmerk wat suksesvol op die wêreldmark meeding.

...lees verder


besigtig


Week 22

Brasilië

Vermont is 'n deelstaat in die noordooste van die Verenigde State van Amerika met die bynaam The Green Mountain State. Bevolkingsgewys is dit die tweede kleinste deelstaat in die land.

Vermont is bekend vir sy natuurskoon, waaronder die Green Mountains-bergreeks in die weste en die Champlainmeer in die noordweste: sowat agt miljoen toeriste word jaarliks hierheen gelok. Die staat is ook die vernaamste produsent van esdoringstroop in die VSA.

...lees verder


besigtig


Week 23

Brasilië

Waterstof is die chemiese element met atoomgetal 1. Dit word voorgestel deur die simbool H. By standaard temperatuur en druk is waterstof 'n kleurlose, reuklose, nie-metallieke, smaaklose, hoogs vlambare, diatomiese gas met die molekulêre formule H2. Dit is nie net die ligste nie, maar ook die volopste element: dit vorm rofweg 75% van die heelal se elementêre massa. Die mees algemene isotoop van waterstof is protium met 'n enkel proton sonder neutrone. In ioniese verbindings kan dit 'n positiewe lading neem ('n katioon gevorm uit 'n ontblote proton) of 'n negatiewe lading ('n anioon, bekend as 'n hidried).

...lees verder


besigtig


Week 24

Brasilië

Koningin Victoria (1819 – 1901) was van 20 Junie 1837 tot en met haar dood die koningin van die Verenigde Koninkryk en van 1 Mei 1876 die eerste Keiserin van Indië. Sy het 63 jaar en 7 maande regeer, langer as enige ander Britse monarg. Die periode van haar bewind is bekend as die Victoriaanse tydperk: ’n era van nywerheids-, politieke en militêre vooruitgang in die Verenigde Koninkryk. Hoewel sy die troon bestyg het in ’n tyd waarin die monarg min politieke mag gehad het en invloed uitgeoefen het met die raad van die eerste minister, was sy steeds ’n baie belangrike simboliese figuur van haar tyd.

...lees verder


besigtig


Week 25

Brasilië

Chicago is die grootste stad in die Amerikaanse deelstaat Illinois en met 'n bevolking van byna drie miljoen ook die derde grootste stad in die Verenigde State.Die stad is in 1833 as 'n dorp gestig wat die Groot Mere met die Mississippirivierstelsel verbind het en het vinnig tot 'n beduidende vervoersentrum in die Noordwesgebied ontwikkel, met stoomboot-, kanaal- en (sedert 1855) spoorwegverbindings na ander belangrike gebiede in die VSA. In 1890 is dit reeds by die tien invloedrykste wêreldstede gereken en was ook 'n belangrike nywerheids-, politieke, geneeskundige en opvoedkundige sentrum.

...lees verder


besigtig


Week 26

Leonardo se selfportret

Leonardo da Vinci (14521519) was 'n Italiaanse veelweter: 'n wetenskaplike, wiskundige, ingenieur, ontleedkundige, uitvinder, skilder, beeldhouer, argitek, tuinkundige, musikant en skrywer. Hy word dikwels beskryf as die argetipiese "Renaissance-man" of universele genie: 'n man wie se skynbare eindelose verbeelding slegs deur sy uitvindingsvermoë geëwenaar is. Hy word tans veral vir sy skilderwerk onthou: twee van sy werke, die Mona Lisa en Die Laaste Avondmaal, beklee beide unieke posisies as die bekendste, mees geïllustreerde en mees nageaapte portret en religieuse skildery van alle tye.

...lees verder


besigtig


Week 27

Die Grote Markt

Die Groot Mark is die sentrale stadsplein in Brussel. Dit word omring deur versierde gildehuise in die Italiaanse Barokstyl, die stadsaal en die Broodhuis. Die plein is Brussel se belangrikste toeristebestemming en saam met die Atomium en Manneken Pis een van die stad se gewildste landmerke. UNESCO het die Groot Markplein in 1998 tot 'n wêrelderfenisgebied verklaar.

Aan die begin van Julie vind die jaarlikse "Ommegang", 'n geskiedkundige optog, hier plaas en die plein word tweejaarliks in mid-Augustus met 'n groot blomtapyt versier.

...lees verder


besigtig


Week 28

Die Capitol

Washington, D.C. is die administratiewe hoofstad van die Verenigde State van Amerika. Die stad is vernoem na George Washington, die militêre leier van die Amerikaanse Revolusionêre Oorlog en die eerste President van die Verenigde State. Die Distrik van Columbia dien as die sentrum van sowel die wetgewende en uitvoerende asook die regsprekende gesag van die Verenigde State. Die stad huisves daarnaas ook die hoofkwartiere van die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die Organisasie van Amerikaanse State en ander nasionale en internasionale instellings.

...lees verder


besigtig


Week 29

Ganesja

Ganesja is een van die bekendste en geliefdste Hindoegode. Aanbidding van Ganesja is nie slegs tot Hindoes en Indië beperk nie, maar kom wydverspreid voor, ook onder Djains en Boeddhiste. Ganesja word maklik geïdentifiseer as die god met 'n olifantkop en hy word oor die algemeen vereer as die Heer van Beginpunte en Heer van Hindernisse. Ganesja het as 'n afsonderlike goddelikheid ontwikkel in duidelik-herkenbare vorm in die 4de en 5de eeue. Hy het vinnig gewild geword en is in die 9de eeu plegtig ingesluit in die vyf hoofgode van Smartisme ('n Hindoe-denominasie).

...lees verder


besigtig


Week 30

Die Sonnestelsel

Die Sonnestelsel bestaan uit die Son en die ander hemelliggame wat deur swaartekrag daaraan gebind is en daarom wentel. Die hemelliggame in ons sonnestelsel bestaan uit die agt planete, hulle 166 bekende mane, vyf dwergplanete en biljoene ander klein liggame. Hierdie klein liggame, of klein sonnestelselvoorwerpe (KSV's), sluit asteroïdes, ysige Kuiper-gordelvoorwerpe, komete, meteoroïdes en interplanetêre stof in. Die planete in die Sonnestelsel (in volgorde van hulle afstand van die Son) is: Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus.

...lees verder


besigtig


Week 31

Salvador Dalí met kat en kierie

Salvador Dalí was een van die belangrikste skilders van die 20ste eeu en is beroemd vir sy surrealistiese werk. Een van sy bekendste werke, "Die volharding van herinnering" is in 1931 voltooi. Sy kunssinnige repertorium het ook rolprente, beeldhouwerk en fotografie ingesluit. Hy het saam met Walt Disney gewerk aan die Oscar-benoemde kort animasierolprent Destino, wat postuum in 2003 uitgereik is. Alhoewel hy in Spanje gebore is, het Dalí op sy Arabiese afkoms aangedring en beweer dat sy voorouers afkomstig was van die More wat Spanje in 711 binnegeval het.

...lees verder


besigtig


Week 32

Die Sterrestelsel Messier 51

'n Sterrestelsel is 'n massiewe stelsel wat deur swaartekrag gebind word en uit sterre, gas, stof en donker materie bestaan. Die sterre wentel almal om die sterrestelsel se massamiddelpunt of gemeenskaplike swaartepunt. Sterrestelsels kan ook sterstelsels (sterre wat om mekaar wentel), sterreswerms en verskeie interstellêre wolke bevat. Die Son is een van die sterre in die Melkweg: die sterrestelsel wat die Sonnestelsel en die Aarde bevat. 'n Gemiddelde sterrestelsel bevat 100 000 miljoen sterre en die meeste sterrestelsels kom in groepe voor, wat tussen slegs 'n paar tot selfs duisende stelsels kan bevat.

...lees verder


besigtig


Week 33

Jesus

Jesus is die sentrale figuur in die Christendom en is ook 'n belangrike figuur in verskeie ander gelowe. Christelike sienings oor Jesus fokus op die geloof dat Jesus die Messias is wie se aankoms in die Ou Testament van die Bybel voorspel word en dat hy opgestaan het uit die dood. Die meerderheid Christene glo dat Jesus die verpersoonliking van God is en dat hy gekom het om verlossing en versoening met God te bied. Jesus het self geen geskrewe werke agter gelaat nie en die hoofbronne van inligting rakende Jesus se lewe en sy leerstellings is die vier kanonieke Evangelies van die Nuwe Testament.

...lees verder


besigtig


Week 34

Standbeeld in Angkor Wat

Kambodja is 'n land in Suidoos-Asië met 'n bevolking van net onder 15 miljoen mense. Kambodja is die opvolgerstaat van die eens magtige Hindoe en Boeddhistiese Khmer-ryk, wat oor die grootste deel van die Indo-Sjinese skiereiland regeer het tussen die 11de en 14de eeue. Kambodja grens aan Thailand in die weste en noordweste, met Laos in die noordooste en Viëtnam in die ooste en suid-ooste. In die suide word dit begrens deur die Golf van Thailand.

Kambodja se grootste industrieë is die tekstielbedryf en toerisme. In 2006 het buitelandse toeriste die 1,7 miljoen vlak verbygesteek.

...lees verder


besigtig


Week 35

Eikevate

Wyn is 'n alkoholiese drankie, gemaak deur die fermentasie van druiwesap. Die natuurlike chemiese balans van druiwe is sodanig dat dit kan gis sonder dat suikers, suur, ensieme of ander voedingstowwe bygevoeg hoef te word. Alhoewel ander vrugte soos appels en bessies ook gegis kan word, word die wyn wat dit produseer gewoonlik vernoem na die vrug waarvan dit gemaak is, (byvoorbeeld appelwyn of vlierbessiewyn) en staan dit generies bekend as vrugtewyn.

Wyn dateer terug na ongeveer 6 000 v.C. en het waarskynlik sy oorsprong gehad in die landgebiede wat tans binne die grense van Georgië en Iran is.

...lees verder


besigtig


Week 36

Darmstadt se wit toring

Darmstadt is 'n stad in die Deelstaat Hesse in Duitsland. Darmstadt is reeds in die 11de eeu gevestig en, alhoewel dit tydens die Tweede Wêreldoorlog byna totaal vernietig was, is dit vandag die vierde grootste stad in Hesse.

Die stad het 'n buitengewoon hoë konsentrasie van wetenskaplike instellings en staan ook as die "Wetenskapstad" van Hesse bekend. Die Tegniese Universiteit van Darmstadt en twee Tegniese Kolleges het op enige gegewe tyd meer as 30 000 studente en met 'n ongewoon hoë konsentrasie van besighede, navorsingsinstellings en -assosiasies vorm Darmstadt 'n geïntegreerde netwerk van kennis.

...lees verder


besigtig


Week 37

'n Tornado

Tornado's is verwoestende werwelwinde wat gedurende die reënseisoen op die vastelande en eilande van Noord- en Sentraal-Amerika en die Karibiese See voorkom. Gewoonlik tree tornado's as donker, tregtervormige siklone op. Hulle word dikwels deur 'n donderbui en 'n muurwolk voorafgegaan. Tornado's behoort tot die mees verwoestende storms, en alhoewel hulle dwarsoor die wêreld in gebiede voorkom waar vogtige, tropiese winde oor uitgestrekte landstreke waai, is veral die Amerikaanse Midweste en in besonder die deelstate Oklahoma en Kansas, geneig tot tornado's.

...lees verder


besigtig


Week 38

Duitsland

Duitsland is een van die wêreld se voorste geïndustrialiseerde lande. Die Duitse Ryk is as 'n nasiestaat verenig tydens die Frans-Pruisiese oorlog in 1871. Vandag is die land 'n demokratiese, parlementêre en federale republiek wat uit 16 deelstate bestaan.

Duitsland is 'n lid van die Verenigde Nasies, NAVO, die G8- en die G4-nasies en is 'n stigterslid van die Europese Unie. Dit is die land in die Europese Unie met die grootste bevolking en is ekonomies die magtigste.

...lees verder


besigtig


Week 39

Pompei se pillaar met 'n sfinks in die voorgrond

Alexandrië is die tweede grootste stad van Egipte en sy belangrikste seehawe aan die Middellandse See met sowat vyf miljoen inwoners. Die stad huisves onder meer die Nuwe Biblioteek van Alexandrië en het danksy die aardgas- en oliepypleidings vanuit Suez tot 'n beduidende nywerheidsentrum ontwikkel. Dit beskik naas Kaïro oor die enigste internasionale lughawe in Egipte. Die stad is vernoem na Alexander die Grote dra en het danksy die invloedryke Ptolemeïese koningshuis tot een van die beduidendste metropole van die antieke wêreld en as hoofstad van Egipte tot die kulturele sentrum van die Hellenistiese wêreld ontwikkel.

...lees verder


besigtig


Week 40

Twee Bokke tydens 'n wedstryd

Die Springbokke is Suid-Afrika se nasionale rugbyspan. Die span neem saam met Nieu-Seeland se All Blacks en Australië se Wallabies aan die Drie-Nasies Reeks deel, sowel as aan ander internasionale kompetisies soos die Rugby Wêreldbeker. Die Springbokke speel reeds sedert 1891 internasionale rugby toe 'n span van die Britse Eilande 'n toer na Suid-Afrika onderneem het waartydens die Springbokke hulle eerste toets op 30 Julie gespeel het. Die span word as een van die top-rugbyspanne ter wêreld beskou. Die huidige afrigter is Peter de Villiers en die kaptein John Smit.

...lees verder


besigtig


Week 41

Mos op 'n boom

Mos is klein plante wat selde hoër as 10 cm groei. Mos groei gewoonlik in digte trosse of matte in klam plekke of in skaduwee en kan op bome, rotse, vrot hout en grond groei. Veenmosse versamel in neerslae wat verskeie honderd meter dik kan wees. Mosplante kom in meeste landhabitatte voor en kan soms die dominante plantvorm wees. Moskolonies is belangrike elemente van talle ekostelsels, van die toendra tot die tropiese reënwoud. Hulle help om gronderosie te bekamp, water en voedingstowwe op te vang, verskaf beskutting vir mikrofauna en dien as kwekerye vir saailinge.

...lees verder
besigtig


Week 42

Die All Blacks-haka

Die All Blacks is Nieu-Seeland se nasionale rugbyspan. Die span het vir die eerste keer in 1893 'n internasionale wedstryd gespeel en is tans tweede op die rugbywêreldranglys. Rugby is Nieu-Seeland se nasionale sport en die All Blacks is 'n gedugte krag in internasionale rugby met 'n wenrekord teen alle ander lande.

Die All Blacks speel elke jaar teen die Wallabies en die Springbokke in die Drienasiesreeks en het die reeks reeds nege keer in die toernooi se dertien jaar bestaan gewen.

...lees verder
besigtig


Week 43

Besoekers aan die Oktoberfest les hul dors

Die Oktoberfest is die grootste volksfees ter wêreld en word elke jaar in die Beierse hoofstad München in Suid-Duitsland gehou. Die plaaslike brouerye brou 'n spesiale bier, die sogenaamde Wiesn Märzen, met meer wort en 'n hoër alkoholgehalte vir hierdie fees, waar meer as ses miljoen besoekers kom om hul dors te les.

Oktoberfeeste is vroeër dikwels in Beiere gehou om die laaste voorrade Maartbier voor die begin van die nuwe brouseisoen te verbruik. Dié in München is vir die eerste keer op 17 Oktober 1810 gehou.

...lees verder


besigtig


Week 44

Gevangenes besig om te werk

Die Goelag (Russies: ГУЛАГ) was in die Sowjet-era verantwoordelik vir die bestuur van gevangenekampe. Later is die naam ook gebruik vir die kampe self.

Die naam het in die Weste bekend geword ná die verskyning van 'n boek deur Aleksandr Solzhenitsyn in 1973, waarin hy die kampe met eilande vergelyk, omdat hulle oor die hele Sowjetunie verspreid was. Sowat 10 miljoen mense is na raming in die Goelag dood, sowel Sowjet-burgers as buitelanders soos Duitse, Poolse, Finse en Japannese krygsgevangenes.

...lees verder


besigtig


Week 45

'n Sekretarisvoël

Die sekretarisvoël is 'n groot roofvoël wat endemies aan Afrika is. Hierdie voëls word aan hulle unieke voorkoms gekenmerk: lang, kaal bene, met 'n statige houding en kuifvere met 'n swart punt. Hulle word gewoonlik in die oop grasvlaktes en savannes van sub-Sahara Afrika gevind, waar hulle bedags aktief op jag is na prooi.

Die sekretarisvoël het 'n prominente plek op die Suid-Afrikaanse staatswapen. Dit simboliseer waaksaamheid en militêre slaankrag, sowel as die opkoms en die trots van die moderne Suid-Afrika. Die goue kleur van die embleem op die landswapen assosieer dit ook met die son en die hoogste gesag van die land.

...lees verder


besigtig


Week 46

Die esdoringblad is die nasionale simbool van Kanada

Kanada is die noordelikste land ter wêreld en is (met 'n totaaloppervlak van byna 10 miljoen km²) ook die tweede grootste land. Hierdie uitgestrekte land is dun bevolk en die oorgrote meerderheid woon in die suide. Dis ook hier waar die meeste groot stede geleë is, soos die hoofstad Ottawa en die groot metropole Montreal en Toronto.

Aangesien dit voorheen 'n Franse en toe 'n Britse kolonie was, is beide Engels en Frans die amptelike tale. Kanada is 'n moderne en tegnologies gevorderde land, en is grootliks self-ondersteunend as gevolg van groot reserwes fossielbrandstowwe, kernkrag- en hidro-elektriese kragopwekking. Die ekonomie is tradisioneel afhanklik van 'n groot oorvloed natuurlike hulpbronne en handel met die Verenigde State.

...lees verder


besigtig


Week 47

Perth

Perth is die hoofstad van Wes-Australië en met 1,5 miljoen inwoners is dit ook die grootste stad in hierdie staat. Byna 'n driekwart van die staat se inwoners woon in Perth en omliggende streke. Die stad is in 1829 deur Kaptein James Stirling gestig as die politieke sentrum van die vrye setlaars van die Swanrivierkolonie en is tot vandag steeds die setel van die Wes-Australiese regering.

Die sentrale besigheidsdistrik en die woongebiede van Perth is aan die oewer van die Swanrivier geleë. Naas 'n bedrywige sakelewe is die stad ook gasheer vir verskeie kuns- en kultuurfeeste en word dit tans as die vyfde mees bewoonbare stad ter wêreld beskou.

...lees verder


besigtig


Week 48

Arktiese Oseaan

Die Arktiese Oseaan, ook genoem die Noordelike Yssee, is hoofsaaklik in die Noordpoolstreek geleë. Dit is die kleinste van die wêreld se vyf oseane en die vlakste. Groot dele van die oseaan word vir dele van die jaar of die hele jaar deur see-ys bedek. Die oseaan se temperatuur en soutgehalte verskil seisoenaal, soos die boonste yslae smelt en weer vries. Dit het die laagste soutgehalte van die vyf oseane, as gevolg van die lae verdamping, hoë tal varswater wat afkomstig is van riviere en strome en die beperkte verbinding met die omliggende oseaniese waters wat hoër soutgehaltes het.

In die winter is die oseaan in donkerte gehul wat gepaard gaan met koue stabiele weerstoestande en oop lug. In die somer is dit permanent dag met vogtige en mistige weer met swak siklone wat reën en sneeu teweegbring.

...lees verder


besigtig


Week 49

Ingmar Bergman

Ingmar Bergman (14 Julie 191830 Julie 2007) was 'n Sweedse teater- en rolprentregisseur. Hy word as een van die groot meesters in rolprentgeskiedenis beskou.

Hy was die regisseur van 62 rolprente (die meeste hiervan het hy self geskryf) en 170 toneelstukke. Die meeste van sy rolprente het in sy geboorteland, Swede, afgespeel. Die deurlopende temas van sy werke was dikwels mistroostig en het oor fisiese en psigiese siektes gehandel.

Bergman was vir meer as 60 jaar aktief, maar sy loopbaan was ernstig bedreig in 1976, ná 'n verknoeide misdaadondersoek rakende beweerde belastingontduiking. Bergman het 'n aantal van sy produksies gestaak, sy ateljee gesluit en daarna tydens 'n selfopgelegde bannelingskap vir agt jaar vanuit Duitsland gewerk.

...lees verder


besigtig


Week 50

Die Aarde

Die Aarde is die derde planeet van die Son af. Dit is die tuiste van miljoene spesies, waaronder ook die mens, en is die enigste plek in die heelal waar, sover kennis strek, lewe bestaan. Ongeveer 71% van die oppervlak word deur oseane bedek en die res deur kontinente en eilande. Die Aarde se binnenste dele is steeds aktief, met 'n dik mantellaag (wat relatief solied is), 'n vloeibare buitekern (wat die magneetveld skep) en 'n binnekern wat uit soliede yster bestaan.

Die Aarde is in wisselwerking met ander voorwerpe in die ruimte, soos die Son en die Maan. Vir elke een keer wat die Aarde om die Son wentel, wentel dit ook ongeveer 366,26 keer om sy eie as; hierdie tydperk staan as 'n sterrejaar bekend. Die Aarde het 'n skuins as: dit lê in 'n helling van 66,6 grade ten opsigte van sy baanvlak en dit is hierdie skuinste van die as wat tot die verskillende seisoene in 'n jaar lei. Die Aarde se natuurlike satelliet, die Maan, is verantwoordelik vir die getye van die oseane. Verder stabiliseer die Maan die Aarde se as en vertraag hy stadigaan die planeet se omwenteling.

...lees verder


besigtig


Week 51

'n Muurskildery in 'n Etruskiese grafkamer

Die Etruskers was 'n historiese etniese groep en die beduidendste Voor-Romeinse beskawing in die antieke Italië, wat deur die Grieke "Tyrrhenoi" of "Tyrsenoi" en deur die Romeine "Etrusci" of "Tusci" genoem is. Die terme Tirreense See en Toscana is van hierdie benamings afgelei. Die Etruskers het na hulself as Rasenna verwys, 'n term wat verkort is tot Rasna of Raśna.

Die hoogs ontwikkelde Etruskiese beskawing vorm saam met die Romeinse en Griekse beskawings een van die belangrikste kulturele en historiese fondamente van die Westerse beskawing. Ons huidige kennis oor die Etruskers gaan terug op antieke skrywers en argeologiese opgrawings. Die Etruskiese alfabet en tekste is maklik leesbaar, maar die taal self is nouliks bekend. Die meeste Etruskiese tekste is kort inskrifte op grafstene. Die werke van die Etruskiese literatuur het verlore gegaan. Etruskies is nie verwant aan enige bekende taal nie en baseer moontlik op 'n Voor-Indo-Europese substraat.

Die Etruskiese beskawing het sy hoogtepunt in die stigtingsperiode van Rome en die Romeinse koninkryk bereik, en sy drie konfederasies het oor groot gebiede van Sentraal- en Noord-Italië gestrek: Etrurië, die Povallei en Latium, en Kampanië (Campania). Selfs Rome was oorspronklik in die Etruskiese gebied geleë. Argeologiese en historiese bewyse dui daarop dat die Etruskers die vroeë Rome tot by die Romeinse plundering van die Etruskiese stad Veii in 396 v.C. oorheers het.

...lees verder


besigtig


Week 52

Johanna van Arkel

Johanna van Arkel was 'n 15de eeuse nasionale heldin van Frankryk. Johanna het beweer dat sy visioene van God gehad het waarin sy aangesê is om haar land van Engelse oorheersing te bevry laat in die Honderdjarige Oorlog. Sy het vernaamheid verwerf toe sy die minagtende houding van die ervare bevelvoerders by die beleg in Orléans oorkom het en die beleg in slegs nege dae opgehef het.

Sy is weens politiese redes van kettery aangekla en tereggestel toe sy slegs 19 jaar oud was. Die veroordeling is 24 jaar later deur die pous opsy gesit en sy is onskuldig en as martelaar verklaar. Johanna van Arkel is in 1909 saligverklaar en in 1920 tot heilige verklaar. Vandag is sy 'n belangrike figuur in Westerse kultuur en die res van die wêreld.

...lees verder


besigtig


Week 53

Saturnus

Saturnus is die sesde planeet van die Son af. Dit is 'n gasreus en die tweede grootste planeet in die sonnestelsel na Jupiter. Die planeet is vernoem na die Romeinse god Saturnus en sy simbool is 'n gestileerde weergawe van Saturnus se sekel (♄).

Saturnus het 'n kenmerkende ringstelsel wat hoofsaaklik uit ysdeeltjies, klipperige afval en stof bestaan. Die planeet bestaan self hoofsaaklik uit waterstof, met klein proporsies helium en spore van ander elemente. Inwendig bestaan die planeet uit 'n klein kern van rots en ys wat deur 'n dik laag waterstof en 'n gas-agtige buitelaag omhul word. Die spoed van wind kan op Saturnus tot 1800km/h bereik, wat besonders vinniger is as die spoed van wind op Jupiter. Saturnus het ook 'n planetêre magnetiese veld, die sterkte van dié veld lê tussenin die sterkte van die Aarde se magnetiese veld en die kragtiger veld om Jupiter.

Die planeet het ten minste 61 mane, waarvan Titaan die grootste is.

...lees verder


besigtig

🔥 Top keywords: Spesiaal:SoekTuisbladKategorie:Artikels met LCCN-identifiseerdersKategorie:Artikels met BNC-identifiseerdersKategorie:Artikels met MusicBrainz area-identifiseerdersKategorie:Artikels met CINII-identifiseerdersKategorie:Artikels met NKC-identifiseerdersKategorie:Artikels met Trove-identifiseerdersKategorie:Artikels met GND-identifiseerdersSpesiaal:Onlangse wysigingsKategorie:Artikels met BNE-identifiseerdersPaasfeesPornhubCarles PuigdemontAngkor WatRob HersovAfrikaansGrieksArmeniëJapanWestdenedam-rampDuitslandModule:ArgumentsRuslandGoogle MapsGoeie VrydagBaike: GebruikersportaalSeksposisieBaike: GeselshoekieSwangerskapSkildklierNieu-SeelandVerenigde KoninkrykSuid-AfrikaSeksAgorafobieGordelroosWiki BaikeT20I-wêreldbeker 2014Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bomeBaike: OmtrentFIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2022Baike: Nuus vir gebruikersCiceroKanadaBaike: HulpJaarKantons van SwitserlandVergelykings (taalkunde)NierversakingMesopotamiëHidroponikaBosluisbytkoorsLys van Suid-Afrikaanse musikanteKolorektale kankerBloeddrukWit-DonderdagGalblaasGianna MichaelsOnderhandelinge om apartheid te beëindigBreinvliesontstekingMenstruasieBulgaryeMadison IvyGebruikerbespreking:RooiratelTrappe van vergelykingOekraïneSeksuele penetrasieAnrich HerbstPlae van EgipteCleopatra VIIMaagsweerJavaScriptBaike: Welkom nuwelingeHartversakingBernice WestHuisgenoot: Ware LewensdramasLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)LewerCarike KeuzenkampAngina pectorisLêer:Flag of India.svgBorskankerGoogle TranslateIslamVolksrepubliek ChinaDuitse nasionale rugbyspanIndonesiëWarmlugballonPlanete in astrologieDikdermMenslike seksuele gedragFIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1982Lys van openbare vakansiedae in Suid-AfrikaHemelvaartsdagHartKolitisPtolemeusMaroela Media