Frankryk

Republiek in Wes-Europa

Frankryk (Frans: France, [fʁɑ̃s], ), amptelik die Franse Republiek (République française, [ʁepyblik fʁɑ̃sɛːz], ), is 'n sentralistiese, demokratiese republiek in Wes-Europa, begrens deur België, Luxemburg, Duitsland, Switserland, Italië, Monaco, Spanje en Andorra.

Franse Republiek
République française (Frans)
Vlag van FrankrykWapen van Frankryk
VlagWapen
Nasionale leuse: Liberté, égalité, fraternité
(Frans vir: "Vryheid, Gelykheid, Broederskap")
Volkslied: Marseillaise
Ligging van Frankryk
HoofstadParys

48°51′N 2°21′O / 48.850°N 2.350°O / 48.850; 2.350

Grootste stadParys
Amptelike taleFrans
Regering Unitêre semi-presidensiële
grondwetlike republiek
Emmanuel Macron
Gabriel Attal
Onafhanklikheid
Stigting van die
Frankiese Ryk
Wes-Frankiese Ryk
• Koninkryk Frankryk
• Eerste Franse Republiek
• Huidige grondwet


486
10 Augustus 843
3 Julie 987
22 September 1792
4 Oktober 1958
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
643 801[1] km2  (42ste)
248 573 myl2
0,86 (2015)[2]
Bevolking
 - 2023-skatting
 - 2012-sensus
 - Digtheid
 
68 042 591[3] (20ste)
64 880 000[4]
121 / km2 (89ste)
313,4 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$4 010 miljard[5] (10de)
$60 735[5] (27ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$3 184 miljard[5] (7de)
$48 223[5] (23ste)

MOI (2021) 0,903[6] (28ste)  –  baie hoog
Gini (2022)29,8[7] –  laag
GeldeenheidEuro (€) (EUR)
Tydsone
 - Somertyd
MET (UTC+1)
MEST (UTC+2)
Internet-TLD.fr
Skakelkode+33
Portaal Europa
Die Eiffeltoring in Parys

Frankryk is 'n stigterslid van die Europese Unie (en tans volgens sy oppervlakte ook die grootste lidland) asook 'n stigterslid van die NAVO en die Verenigde Nasies. In 1999 is die Euro-geldeenheid ingevoer en in 2002 die Euro-banknote en -muntstukke.

Naas die metropolitaanse (Europese) gebied van Frankryk is daar oorsese gebiede in die Karibiese See (onder meer 'n gedeelte van die eiland Saint-Martin), Suid-Amerika (Frans-Guyana), Noord-Amerika (Sint Pierre en Miquelon), in die Indiese Oseaan (Mayotte en Réunion) en in Oseanië (Frans-Polinesië en Wallis en Futuna).

Die naam Frankryk is afgelei van die Franke, 'n Germaanse volk wat die gebied ná die einde van die Romeinse Ryk verower het. Hulle het met Frans 'n Romaanse taal aangeneem en uiteindelik die Franse geword.

Die land, wat meer as dubbel so groot is soos die Verenigde Koninkryk, het ná die Tweede Wêreldoorlog 'n vinnige groei van sy stedelike gebiede beleef. Desondanks is die grootste deel van die land plattelandse gebiede, en die landbousektor speel tradisioneel 'n baie belangrike rol in die binnelandse politiek van Frankryk.

Die land se lang en ryk geskiedenis bly lewendig in sy Romeinse ruïnes, middeleeuse katedrale en stede. Die erfenis van die tydperk voor die Franse Rewolusie van 1789 sluit talle 18de eeuse kastele (châteaux) in. Frankryk was ook in 2018 met 89,4 miljoen besoekers die gewildste toeristebestemming ter wêreld.[8]

Etimologie

Die naam "Frankryk" het oorspronklik na die hele Frankiese Ryk verwys en is ontleen aan die Latynse Francia, "ryk van die Franke".[9] Die moderne Frankryk word in Italiaans en Spaans steeds Francia genoem, terwyl die Afrikaanse "Frankryk", die Duitse Frankreich, die Nederlandse Frankrijk en die Noorse asook Sweedse Frankrike almal na die "land/ryk van die Franke" verwys.

Die naam van die Franke is verwant aan die Engelse woord frank ("vry"): laasgenoemde stem ooreen met die Ou Franse franc ("vry", "edel", "opreg") wat oorspronklik ontleen is aan die Middeleeuse Latyn francus ("vry", "van diens vrygestel"; "vryman", "Frank"), 'n veralgemening van die stamnaam wat 'n Laat Latynse leenwoord van die gerekonstrueerde Frankiese endoniem *Frank is.[10][11][12] Volgens 'n teorie is die betekenis van "vry" oorgeneem omdat, nadat die verowering van Gallië, slegs die Franke belastingvryheid geniet het,[13] of meer algemeen omdat hulle die status as vrye mans geniet het in teenstelling met bediendes of slawe.[12]

Die etimologie van *Frank is onseker. Dit word tradisioneel ontleen aan die Proto-Germaanse woord frankōn wat vertaal word as "spiesgooi" of "lans" (die gooibyl van die Franke was bekend as "franziska"),[14] hoewel dié wapens dalk weens hul gebruik deur die Franke só genoem is en nie andersom nie.[12]

Geografie

Lac du Der in Champagne-Ardenne
Nasa-Satellietbeeld van Frankryk
Die Puy de Pariou in die Sentraalmassief
Kaart van Frankryk se groot stede

Terwyl die grootste deel van Frankryk se staatsgebied in Wes-Europa lê, is daar wyd verspreide Franse gebiede en besittings in Noord-Amerika, die Karibiese See, Suid-Amerika, die westelike en suidelike Indiese Oseaan, die noordelike en suidelike Stille Oseaan en Antarktika.

Wanneer daar na die Europese gebied van Frankryk verwys word (insluitend Korsika), word dikwels die term die metropolitaanse Frankryk gebruik (afgelei van Frans la France métropolitaine, of net la Métropole), in teenstelling met die oorsese départements en gebiede, wat as die oorsese Frankryk (la France d'outre-mer, of kort les DOM-TOM, 'n afkorting van die Franse départements d'outre-mer – territoires d'outre-mer) bekend staan.

Die metropolitaanse Frankryk, wat danksy sy vorm dikwels ook l'Hexagone (die heksagoon) genoem word, het 'n oppervlak van meer as 'n halfmiljoen vierkante kilometer, wat in die noorde en weste deur kusvlaktes en heuwels gekenmerk word. Meer as die helfte van die oppervlakte lê minder as 250 meter bo seevlak. Die res van die land is bergagtig, met die Sentraalmassief (Massif Central) in die suidelike middel van die land, die Pireneë in die suidweste en die Alpe in die suidooste. Frankryk se hoogste berg, Mont Blanc, is tegelykertyd ook die hoogste in Europa met 4 810 meter. Die Bretonse Massief sluit 'n gedeelte van Normandië in en strek in suidwaartse rigting tot by La Rochelle. Ander berggebiede is die Vogese-bergreeks in Elsas en die Franse gedeelte van die Ardenne. Sowat 27 persent van Frankryk se oppervlak word deur bosgebiede beslaan; die land is die bosrykste in die Europese Unie.

Die Sentraalmassief, wat sowat 'n sesde van Frankryk se landoppervlakte tussen die Rhône-Saônevallei en die Akwitaanse bekken beslaan, is deur vulkaniese aktiwiteite sowat tien tot dertig miljoen jare gelede gevorm. Die hoogste bergpieke is Puy de Sancy (1 886 meter) en Plomb du Cantal (1 858 meter). Die oorheersende kalksteen maak die Sentraalmassief minder geskik vir landbouaktiwiteite.

Tussen die berggebiede lê uitgestrekte rivierbekkens soos dié van die Loire, Rhône, Garonne en Seine. Die groot riviere word deur kanale met mekaar verbind.

Korsika, die grootste Franse eiland in die Middellandse See met 'n oppervlak van 8 680 vierkante kilometer, word veral deur bergagtige landskapsvorme met gereelde sneeuval in die winter gekenmerk. Meer as veertig bergpieke bereik hoogtes van meer as 2 000 meter. Net sowat 'n kwart van die eiland is geskik om as weivelde vir skape en bokke te dien. Naas die beboste gebiede, wat ook 'n kwart van Korsika se oppervlak beslaan, is daar net sowat twee persent landbougebiede in die valleie, langs die kus en op geterrasseerde berghange.

Frankryk het met uitsondering van die noordooste slegs natuurlike grense, waarvan die helfte deur die Ryn, die Alpe en die Pireneë gevorm word. Die ander helfte van die land se sowat 5 500 kilometer lange grenslyn word deur die kuste van die Engelse Kanaal in die noorde, die Atlantiese Oseaan in die weste en die Middellandse See in die suidooste gevorm.

Danksy die oorsese départements en gebiede, wat wêreldwyd verspreid is, beskik Frankryk oor die tweede grootste Eksklusiewe Ekonomiese Sone (EES) na dié van die Verenigde State, met 'n totale oppervlak van 11 035 000 vierkante kilometer.

Bergreekse

Nasa-Satellietbeeld van die Franse Alpe

In die suide en ooste van Frankryk lê vier groot bergkettings: die Pireneë, wat die grens tussen Spanje en Frankryk vorm; die Alpe en die Jura, wat die grens tussen Frankryk, Italië en Switserland vorm; en die Vogese in die noordooste.

Die Pireneë strek sowat 450 km van oos na wes, van die Baai van Biskaje in die weste tot aan die Middellandse See in die ooste. Hoewel die ketting smal is, vorm dit 'n doeltreffende versperring tussen Frankryk en Spanje, aangesien daar slegs enkele maklike passe deur die berge is. Die hoogste pieke, wat bo die boomlyn uitstyg, is bedek met gras of net kaal rots. Die hoogste punt is die bergspits Vignemale (3 298 meter).

Die Franse Alpe strek van die Meer van Genève na die Liguriese See. Hierdie kort bergreeks is baie hoog en bevat een van die hoogste pieke in Europa, Mont Blanc (4 810 meter), waarvan die westelike helfte in Frankryk en die oostelike helfte in Italië is. Hierdie gebied ondervind 'n swaar sneeuneerslag in die winter, en word druk deur skiërs besoek. Die hoogste pieke is permanent onder sneeu bedek, en daar is verskeie gletsers.

Die Franse Jura is sowat 250 km lank en nêrens breër as 80 km, nie. Die oostelike deel bestaan uit geplooide lae, en daar is 'n hele aantal indrukwekkende, diep klowe. Die hooglandgebied in die weste is onvrugbaar en dun bevolk. Die hoogste piek is Crêt de la Neige (1 723 meter).

Die Vogese vorm 'n hooglandgebied met 'n lengte van omtrent 160 km. Dit bestaan in hoofsaak uit kristallyne gesteentes, wat in die noorde gedeeltelik deur sandsteen bedek is. Die pieke is in die algemeen gerond, in teenstelling met die van die Alpe en die Pireneë. Hohneck (1 423 meter) is die hoogste punt.

Riviere

Kaart van Franse riviere

Frankryk word in hoofsaak deur vier groot riviere gedreineer. Hulle is die Seine, die Loire, die Garonne en die Rhône. Die riviere ontspring almal in die Sentrale Massief en vloei daarvandaan na die see. Aangesien die meeste riviere self nie bevaarbaar is nie, word op groot skaal van kanale gebruik gemaak om hul bevaarbaarheid te verhoog, veral in die nywerheidsgebiede.

Die Seine (776 km) is die bedrywigste rivier in Frankryk. Die rivier word tot by die groot hawe Rouen deur getye beïnvloed, en dit is bevaarbaar tot by die groot nywerheidsgebied rondom Parys, waar fabrieke op die rivieroewers aangetref word. Die skeepsverkeer tussen Parys en die Rhône-rivier bereik die stad oor die Bo-Seine en die Bourgondiese kanaal.

Die Loire (1 005 km) is die langste rivier in Frankryk, maar dra nie juis baie skeepsverkeer nie. Die rivier kom sterk af in die winter, of wanneer die sneeu in die lente smelt, en dan voer dit ook groot vragte sand mee, sodat die rivierbedding verstop en skeepsverkeer ontwrig word. In die somer het die rivier baie minder water as in die winter.

Die Garonne (650 km) word ook nie op groot skaal vir skeepvaart gebruik nie. Soos die Loire kom die rivier sterk af in die winter en dra dan 'n groot vrag sediment, wat sandbanke in die rivier opbou.

Die Rhône vloei 812 km. van sy oorsprong in Switserland na die see. Hierdie rivier het twee nadele: 'n onreëlmatige afloop, en ’n steil gradiënt, sodat verkeer moeilik stroomop beweeg. Die delta-monding van die Rhône word dikwels toegeslik. In die moerasagtige gebied rondom die delta word rys gekweek.

Klimaat

Winter in Le Havre, Normandië

Danksy vogtige lugmassas, wat vanuit die Atlantiese Oseaan na die binneland beweeg, word die noordweste van Frankryk deur 'n maritiem-gematigde klimaat met reënval dwarsdeur die jaar, relatief klein daaglikse en seisoenale temperatuurskommelinge en dikwels winderige weer gekenmerk. Die suide toon Mediterreense invloede met warm en relatief droë somers en hoë reënval gedurende die najaar. Die Paryse Bekken en Noordoos-Frankryk het 'n meer kontinentale klimaat met groter seisoenale temperatuurskommelinge en laer neerslae. In die berggebiede daal die kwik in die winterseisoen dikwels benede vriespunt, en sneeuvalle kom gereeld voor.

Volgens hierdie hooftrekke kan die metropolitaanse Frankryk rofweg in vier klimaatsones verdeel word:

  • Die gebied wes van die lyn Bayonne-Lille het 'n vogtige kusklimaat met dikwels frisse somers.
  • In Elsas, in Lotaringe, langs die Rhônevallei en in die bergagtige streke van die land (Alpe, Pireneë en Sentraalmassief) is die klimaat al halfkontinentaal met koue winters en warm somers.
  • Die noordelike deel van die land, Parys en sy omgewing en die sentrum van die land is in klimatiese opsig oorgangsgebiede met koue winters en warm somers. Die gebied kry die hele jaar deur reën. Wingerde, wat teen die suidelike hange lê, lewer in hierdie noordelike gebiede wyne van uitstekende kwaliteit op.
  • Die suide van die land, wat van die Franse Riviera se vlaktes tot by die Rhône- en Saônevalleie in die noorde en Languedoc en Narbonne in die weste strek, het 'n Mediterreense klimaat met milde winters en baie warm somers. Dit is net soos Suid-Afrika se Kaapland 'n winterreënstreek en danksy die warm temperature en droë weer in die somer uiters geskik vir wynbou.

Geskiedenis

Die huidige Frankryk kom grootliks met die antieke Keltiese Gallië ooreen wat deur Gaius Julius Caesar verower is, maar sy naam is nogtans van 'n Germaanse volk, die Franke, afgelei. Franke beteken letterlik "vrye mense"; die volk het hom in die laat-antieke tydperk in Romeinse gebiede gevestig. As 'n volk van oorwegend Keltiese en Romeinse afkoms het die Franse sodoende ook 'n Germaanse substraat gekry.

Wes-Frankiese Ryk (843–987)

Verdeling van die Frankiese Ryk in Wes-, Midde- en Oos-Frankeland volgens die Verdrag van Verdun in 843

Karel die Kale, die seun van Lodewyk die Vrome en Judith van Beiere, het tussen 843 en 877 as koning van die Wes-Frankiese Ryk geregeer. In 875 is hy deur pous Johannes VIII na Rome genooi en tot keiser gekroon, maar slegs twee jaar later oorlede. Weens die vroeë afsterwe van sy seun Lodewyk die Stamelaar (877–879) en sy twee seuns het die ryk egter geleidelik begin ontbind.

Neder-Boergondië het in 877 onder die heerskappy van Boso van Wene en Hoog-Boergondië (Franche-Comté) in 888 onder Rudolf I (888–912) onafhanklike koninkryke geword. Die seuns van albei heersers is later tot konings van Italië gekroon.

Ná die gedwonge bedanking van koning Karel III is Odo, graaf van Parys (888–898), tot die eerste teenkoning verkies. Die Karolingiese dinastie het vervolgens nog sowat honderd jaar lank aan die bewind gebly, maar die werklike gesag in die koninkryk is deur Odo se nasate, die Robertyne, uitgeoefen.

Net soos in Duitsland het ook in die Wes-Frankeryk groot administratiewe geweste begin vorm: Francia, Champagne, Akwitanië, Gascogne, Toulouse, Gothië, Katalonië, Bretagne, Normandië en Vlaandere.

Middeleeue

In die 14de eeu ontwikkel Frankryk met sy twintig miljoen inwoners (in vergelyking met Duitsland se veertien en Engeland se vier miljoen) tot die magtigste nasie in Europa.

Franse Rewolusie

Tweede Republiek (1848–1852)

Straatversperring in die Paryse Rue Soufflot (24 Junie 1848)

Die verbod op 'n sogenaamde hervormingsbanket in Parys het die aanleiding tot die sogenaamde Februarie-rewolusie tussen 22 en 24 Februarie 1848 gegee. Studente, werkers en lede van die Nasionale Garde het straatversperrings opgerig en sodoende die "burgerlike koning" gedwing om afstand van die troon te neem. Ná die proklamasie van die republiek het 'n progressief-sosialistiese regering begin om sosiale wette soos die "reg op arbeid" af te kondig en "nasionale werkwinkels" vir werkloses in die lewe geroep. Die eerste algemene verkiesing van die Franse parlement in April 1848 is egter deur burgerlik-konserwatiewe partye gewen.

In Mei van dieselfde jaar het radikale Sosialiste soos Louis Auguste Blanqui begin om volskaalse betogings teen die nuwe regering te organiseer. Aangesien die nasionale werkwinkels nie lewensvatbaar was nie, is hulle in Junie gesluit. Die Paryse werkers het onmiddellik in opstand teen die regering gekom. Die oorlogsminister Eugène Cavaignac (1802–1857) het onbeperkte volmagte ter beëindiging van die onluste gekry en besluit om die "rooi gevaar" summier dood te skiet. Sowat 20 000 opstandelinge het hul lewens verloor.

Die nuwe Franse grondwet van November 1848 het voorsiening gemaak vir 'n eenkamerparlement en 'n regstreeks verkose staatspresident as regeringshoof. Die Franse burgery, wat besorg was oor die politieke stabiliteit van die land, het met driekwart van die uitgebragte stemme Louis Napoléon, 'n neef van Napoleon I, as prins-president verkies. Sy anti-parlementêre houding en beleid is deur groot dele van die bevolking en die kerk verwelkom, terwyl die Republikeine veral teen Louis se Roomse Ekspedisie in 1849 ter beskerming van die Kerkstaat beswaar aangeteken het. 'n Republikeinse opstand in Junie 1849 is neergeslaan.

Louis Napoléon se voorstel om die grondwet te wysig en sodoende sy herverkiesing moontlik te maak is in 1850 deur die parlement afgekeur. Met die staatsgreep van Desember 1851 het Louis die kamer ontbind, en die Franse kiesers het in 'n referendum ten gunste van 'n nuwe grondwet gestem wat voorsiening vir 'n tienjarige ampstermyn van die president gemaak het. In 'n tweede referendum het kiesers met 97 persent die herinstelling van die monargie ondersteun. In Desember 1852 het Louis as keiser Napoleon III 'n erflike monargie in Frankryk gestig.

Tweede Keiserryk (1852–1870)

Napoleon III in 1852. Skildery deur Franz Xaver Winterhalter

Napoleon III se regeringsvorm was dié van 'n monargistiese diktatuur waarin die volk deur middel van referendums nog 'n beperkte invloed op die politiek uitgeoefen het. Die regeringstyl van Napoleon, wat homself as die verteenwoordiger van die Franse nasie beskou het, is soms as demokratiese caesarisme beskryf, en sy hoofoogmerk was om die uitwerkings van klasverskille te verminder. Onder die indruk van die Sosialistiese opstande van die verlede het die burgery die nuwe bewind halfhartig gesteun.

Danksy die uitbou van die finansiële en die nywerheidsektor en grootskaalse kapitaaluitvoere het die Franse ekonomie vinnig begin groei. Die sosiale beleid was deur nasionale programme ten opsigte van werkverskaffing en armoedeverligting, maar ook deur 'n verbod op werkersorganisasie en stakings gekenmerk.

Die Paryse wêreldtentoonstellings van die jare 1855 en 1867 en die grootskaalse bouprojekte in Parys tussen 1852 en 1865, wat van die metropool die "wêreld se hoofstad" sou maak was kenmerke van Frankryk se nuwe welvarendheid. Tegelykertyd het Algerië 'n belangrike verskaffer van graan geword en talle Franse setlaars het hulle hier gevestig. Ook in Afrika, Libanon, Sirië, Indië en China het Frankryk as 'n koloniale moondheid opgetree. Tussen 1859 en 1869 het die Suezkanaal in Egipte onder meer danksy Franse steun ontstaan.

Die Franse steun vir nasionalistiese bewegings in Italië, Duitsland en op die Balkanskiereiland was daarop gemik om die Franse invloed ná die nederlaag van 1815 weer te vergroot. Die land het ook 'n belangrike rol in verband met die Krimoorlog (1854–1856) gespeel en as bemiddelaar tussen Rusland en Engeland opgetree.

In 1867 het Napoleon se buitelandse beleid egter 'n aantal teenslae ervaar – Nederland het geweier om Luxemburg aan Frankryk te verkoop, die Verenigde State het die Franse inmenging in Meksiko afgeweer, en weens die voortgesette optrede as militêre bondgenoot van die Kerkstaat het betrekkinge met Italië gespanne gebly.

Die teenstelling tussen die vryheidsbeleid ten opsigte van die buiteland en die diktatoriese binnelandse bewind het uiteindelik tot kritiek gelei; die keiser is genoodsaak om 'n "program van noodsaaklike vryhede" vir individue, die pers en die parlementskamer goed te keur. Die oorwinning van die opposisie in die verkiesing van 1869 het gepaard gegaan met die ontwerp van 'n nuwe grondwet, en in die referendum van 1870 het 83 persent van die kiesers vir 'n liberale monargie gestem.

Frans-Duitse Oorlog (1870–1871)

Napoleon III en die Pruisiese kanselier Otto von Bismarck ná die Slag van Sedan

Dit was veral Frankryk se strewe om sy prestige in die internasionale politiek te behou en die dreigende Duits-Pruisiese hegemonie in Europa te beveg wat die land onder die minister van buitelandse sake, Gramont, tot militêre optrede teen Duitsland gedryf het. Die Duits-Franse geskil oor die Spaanse troonopvolging het die aanleiding tot die Franse oorlogsverklaring gegee.

Terwyl die meeste Europese moondhede danksy die bekwame Duitse kanselier Otto von Bismarck se diplomatiese onderhandelinge hul neutraliteit verklaar het, is die Franse troepe ná 'n Duitse offensief en hewige gevegte verslaan. Op 1 September 1870 het 'n Franse leër onder maarskalk MacMahon (1808–1893) naby Metz gekapituleer, en Napoleon III is deur die Duitsers gevange geneem. Gematigde republikeinse politici het op 4 September die Derde Franse Republiek geproklameer en 'n nasionale regering ter verdediging van die land gevorm.

Tydens die beleg van Parys het gewapende burgers, die sogenaamde Franctireurs, teen die Duitse troepe geveg, maar in Januarie 1871 het ook die Franse hoofstad gekapituleer. Die Nasionale Vergadering van Frankryk het in Bordeaux president Thiers tot die hoof van die uitvoerende gesag verkies. In die voorvrede van Versailles het Frankryk Elsas-Lotaringe aan Duitsland afgestaan en toegestem om 'n oorlogskadevergoeding ter waarde van vyf miljard frank aan Duitsland te betaal, terwyl gebiede in Oos-Frankryk onder Duitse besetting gekom het. Op 10 Mei 1871 is die amptelike Vrede van Frankfurt am Main gesluit.

Ná die oorlog het die nuut verenigde state Duitsland en Italië as nuwe moondhede in Europa opgetree. Nadat Frankryk se leidende rol op die vasteland aan die Duitse Keiserryk moes afstaan, het die kloof tussen Duitsers en Franse steeds verder gegroei.

Derde Republiek (1870–1940)

Frankryk tydens die Tweede Wêreldoorlog

Nog voor die vredesluiting met Duitsland het Kommunistiese en Sosialistiese groeperings, die sogenaamde Communards, 'n poging onderneem om die regering omver te werp. Die opstand van die Paryse Commune tussen Maart en Mei 1870 is egter deur maarskalk MacMahon bloedig neergeslaan, en in die sogenaamde "Bloedige Week" het sowat 30 000 opstandelinge gesneuwel.

Ná die betaling van 'n oorlogskadevergoeding het die Duitse besettingstroepe Oos-Frankryk voortydig ontruim, en die konserwatiewe meerderheidspartye het MacMahon tot president verkies. Pogings om die monargiese stelsel te herstel was vergeefs nadat die laaste Bourbonse troonpretendent, die graaf van Chambord, geweier het om Frankryk se nasionale vlag, die Trikolore, te erken. Met 'n meerderheid van slegs 353 teen 352 stemme is in 1875 die Derde Republiek geproklameer.

Die nuwe grondwet het algemene stemreg en 'n Nasionale Vergadering, wat uit die Kamer van Gedeputeerdes en die Senaat bestaan het, ingestel. Die staatspresident, wat die gesag oor die ministers en hul departemente uitgeoefen het, is vir 'n ampstermyn van sewe jaar deur die Nasionale Vergadering verkies. Hy het oor die reg beskik om die grondwet te wysig.

Die meeste partye in die parlement het nie oor 'n spesifieke program beskik nie en is hoofsaaklik deur hul leiers oorheers; die meerderheid in die parlement het gevolglik steeds gewissel, en in die tydperk tot by die jaar 1914 was daar nie minder as 50 verskillende kabinette nie. Nogtans was die nuwe bedeling veral danksy sy moderne administrasie wat steeds onpolities gebly het relatief stabiel; die destydse Franse staat is eerder deur advokate, professore en skrywers oorheers as deur politici, en dit het vanweë sy buitelandse beleid 'n goeie reputasie op die internasionale toneel geniet.

Ná die monargiste se oorwinning in die verkiesing van 1885 is 'n outoritêr-nasionalistiese beweging in die lewe geroep, wat volgens sy leier, die oorlogsminister Georges Boulanger (1837–1891) Boulangisme genoem is en naas monargiste ook konserwatiewe en radikale groeperings verenig het. Die republikeinse oorwinning in die verkiesing van 1889 het egter 'n einde aan Boulanger se diktatoriese aspirasies gemaak. Ná sy vlug uit Frankryk het hy in Brussel selfmoord gepleeg.

Vierde Republiek (1946–1958)

Frans-Indo-China: Laos, Kambodja en Viëtnam

Ná die Tweede Wêreldoorlog het generaal Charles de Gaulle op 25 Augustus 1944 die Vierde Republiek as 'n reaksie op die Vichy-bewind en sy oormatige magskonsentrasie geproklameer. Die verkiesings vir 'n grondwetlike vergadering, wat 'n nuwe grondwet sou saamstel, is in Oktober 1945 gehou. Die afgevaardigdes het generaal de Gaulle as regeringsleier verkies, maar in die volgende maande het dit duidelik geword dat sy ambisieuse projek om die Franse staatkundige bedeling te hervorm nie die nodige toestemming sou kry nie. De Gaulle het op 20 Januarie 1946 bedank.

Die nuwe grondwet, wat op 13 Oktober 1946 in 'n referendum aanvaar is, het voorsiening gemaak vir 'n sterk wetgewende gesag. So het die Franse parlement nie net die staatspresident verkies nie, maar ook die belangrike besluite wat deur die eerste minister geneem is (die aanstelling van nuwe ministers en die instelling van nuwe regeringsprogramme) moes vooraf deur die afgevaardigdes goedgekeur word.

In die verkiesings vir die eerste nasionale vergadering van die Vierde Republiek het die Franse kiesers op 10 November 1946 sterk steun vir partye getoon wat gedurende die oorlog aktief by die Franse weerstandsbeweging Résistance betrokke was – die kommunistiese PCF, die gaullistiese MRP en die sosialistiese SFIO wat 'n regeringskoalisie onder leiding van die sosialistiese president Vincent Auriol (1947–1954) gevorm het. Dit was egter vinnig duidelik dat die politieke standpunte van die drie partye aanmerklik van mekaar verskil het, veral met betrekking tot Frankryk se buitelandse beleid.

So was die Moskou-georiënteerde Kommunistiese Party sterk gekant teen Frankryk se politieke toenadering tot die Verenigde State tydens die Koue Oorlog en het derhalwe liewer hul plekke in die opposisiebanke ingeneem. So was die Franse regering in staat om 'n aktiewe rol by die Europese integrasieproses te speel. Die land het tot die OESO en NAVO toegetree en nouer politieke bande met Duitsland gesmee – 'n beleid wat die basis vir 'n Europese versoeningsbeleid sou vorm.

Die onafhanklikheidsbewegings in Frankryk se oorsese kolonies was eweneens hoog op die politieke agenda van die Vierde Republiek. Die oorlog in Indo-China, wat in November 1946 uitgebreek het, sou enkele jare lank die buitelandse beleid van Frankryk oorheers. Ondanks grootskaalse beleggings en militêre steun van Amerikaanse kant het Frankryk uiteindelik 'n militêre nederlaag gely. Nadat die nuut verkose president René Coty (1954–1959) op 7 Mei 1954 'n vredesooreenkoms onderteken het, het Frankryk hom aan dié Asiatiese gebiede onttrek.

In Noord-Afrika het Marokko en Tunisië twee jaar later hul onafhanklikheid van Frankryk verklaar. In Algerië met sy groot aantal Franse setlaars was die politieke situasie ingewikkelder en sou in 1954 tot 'n militêre konflik lei waaroor die Franse publiek jare lank verdeeld sou wees. Om die konflik te besleg, is generaal de Gaulle op 29 Mei 1958 deur Coty as nuwe premier benoem. De Gaulle het vir homself verregaande bevoegdhede vir 'n tydperk van ses maande asook omvattende grondwetwysigings geëis. Die nuwe grondwet, wat ná 'n referendum afgekondig is, sou die begin van die Vyfde Republiek markeer.

Vyfde Republiek (sedert 1958)

Charles de Gaulle, stigter en eerste president van die Vyfde Republiek

Die Grondwet van die Vyfde Republiek, wat met medewerking van Charles de Gaulle en Michel Debré geskryf is, is op 4 Oktober 1958 aanvaar. Dit het as die grondslag van 'n nuwe, half-parlementêre staatsbestel gedien wat meer uitvoerende gesag aan die Staatspresident verleen het en sodoende ook 'n einde aan die politieke instabiliteit van die vroeëre parlementêre republieke gemaak het.

Die huidige president Emmanuel Macron

Sedert die sestigerjare speel Frankryk danksy die versoening en latere noue samewerking met Duitsland 'n belangrike rol as 'n dryfkrag agter die Europese beweging, wat met die stigting van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) 'n groot politieke sukses behaal het. Vandag is Frankryk een van die belangrikste lande van die Europese Gemeenskap en 'n voorstander van die idee dat Europa ook wêreldwyd 'n politieke rol moet speel.

In 1995 het die neo-gaullistiese politikus Jacques Chirac as opvolger van François Mitterrand die presidentsamp oorgeneem. Sy eerste ampstermyn is deur politieke skandale en spanninge met die sosialistiese eerste minister Lionel Jospin oorskadu. By die presidentsverkiesing van 2002 het die verregse kandidaat Jean-Marie Le Pen verrassenderwys daarin geslaag om in die tweede en finale ronde teen Chirac te staan, maar het uiteindelik 'n nederlaag gely. Die regsliberale politikus Jean-Pierre Raffarin is as nuwe eerste minister benoem.

Frankryk se kritiese houding teenoor die Amerikaanse optrede in Irak het in 2002 en 2003 tot politieke spanninge met die Verenigde State gelei, terwyl die binnelandse politieke debat deur geskille oor sosiale hervormings oorheers is. In 2005 het die Franse kiesers die Europese Grondwetsooreenkoms in 'n referendum afgekeur en erge verleentheid vir die Franse regering op Europese politieke terrein veroorsaak. In dieselfde jaar is Dominique de Villepin as nuwe eerste minister benoem.

Sosiale spanninge in die voorstede van Franse metropole het in laat 2005 en 2006 tot gewelddadige onluste gelei. In die presidensiële verkiesing van 2007 het Nicolas Sarkozy as kandidaat van die regeringsparty UMP teen Ségolène Royal gestaan en in die finale ronde 'n oorwinning behaal. Sarkozy is in 2012 opgevolg deur die Sosialistiese Party (PS) se kandidaat, François Hollande. In dieselfde jaar het die PS die meerderheid setels in die Nasionale Vergadering, die Franse parlement, verower. Die ekonomiese ontwikkeling in die land word as die grootste uitdaging vir die Franse regering beskou. In verband met die Eurokrisis het die regering se onvermoë om ekonomiese hervormings in te stel, die hoë staatsskuldlas te verlig en die omvang van Frankryk se openbare sektor te verminder kritiek van ander EU-lidstate uitgelok.[15][16] Hollande is in 2017 opgevolg deur die sosiaalliberale Emmanuel Macron.

Politiek

Gabriel Attal, sedert Januarie 2024 eerste minister van Frankryk
Die Palais Bourbon, setel van die Assemblée nationale (Nasionale Vergadering) in Parys
Die Palais du Luxembourg, setel van die Sénat (Senaat) in Parys

Frankryk is sedert die jaar 1875 'n republiek met 'n parlementêre stelsel. Vandag is die land 'n sentralistiese, demokratiese republiek met 'n semi-presidensiële regeringstelsel. Die grondwet van die Vyfde Republiek van Oktober 1958 verleen meer gesag aan die Staatspresident, wat regstreeks deur die volk vir 'n ampstermyn van vyf jaar verkies word.

Die Franse President het die meeste bevoegdhede van alle staatshoofde in die Europese Unie. Hy benoem die eerste minister en die kabinet, het 'n vetoreg op die besluite van die parlement en die reg om die parlement te ontbind. Hy is die opperbevelvoerder van die Franse Weermag en koördineer die veiligheids- en verdedigingsbeleid en buitelandse beleid van Frankryk. Danksy die Franse kernwapens en die vetoreg in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad oefen hy groot invloed op die internasionale politiek uit. In krisistye het hy selfs onbeperkte bevoegdhede. Die President kan vir 'n onbeperkte aantal ampstermyne herverkies word en het as gevolg van 'n wysiging van die Franse grondwet in Februarie 2007 immuniteit tydens sy ampstermyn. Tans is François Hollande die sesde Staatspresident van die Franse Republiek.

Die regering onder die leiding van die eerste minister, sedert Januarie 2024 Gabriel Attal, bepaal die beleid van die nasie.

Die parlement bestaan uit twee kamers, die Nasionale Vergadering (Assemblée nationale) met 577 vyfjaarliks direk verkose afgevaardigdes en die Senaat (Sénat) met 331 lede, wat indirek verkies word. Die parlement kontroleer die regering en beraadslaag en besluit nasionale wette.

Die oorsese gebiede word deur 22 afgevaardigdes in die Nasionale Vergadering en 14 in die Senaat verteenwoordig. 'n Bykomende 12 senatore word deur Franse burgers in die buiteland verkies.

Buitelandse beleid

Die Franse kernaangedrewe vliegdekskip Charles de Gaulle

Frankryk is 'n permanente lid van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad en beskik oor die vetoreg. Die buitelandse beleid van die land konsentreer op die noue bande met Duitsland binne die strukture van die Europese Unie en sy belangrike betrekkinge met voormalige kolonies in Afrika. In baie Afrikalande tree die Franse regering met 'n soort ordende gesag op.

Frankryk staan skepties teenoor die Verenigde State se beleid as die enigste oorblywende supermoondheid en maak steeds eie voorstelle in verband met internasionale vraagstukke. Volgens sy eie internasionale rol-konsep is Frankryk een van die oorblywende groot moondhede vanweë sy vetoreg in die Veiligheidsraad, sy kernwapenarsenaal en sy vermoë om wêreldwyd as 'n militêre mag op te tree.

Die land probeer steeds op internasionale vlak as onafhanklike moondheid optree en sodoende by internasionale aktiwiteite en vraagstukke betrokke te raak. Die land se buitelandse beleid kan dus naas "aktiwisme" met sleutelwoorde soos grandeur, rang en gloire ("grootheid", "rang" en "glorie"), maar ook trots, prestige en waardigheid opgesom word.

Verdediging

Die Franse Dassault Mirage 2000 vegvliegtuig

Die land was in 1949 een van die stigterslede van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) en is op militêre gebied deur die Verenigde State beskerm. Met die presidentskap van generaal de Gaulle in 1958 het die betrekkinge met die Verenigde State en die Amerikaans-oorheerste NAVO egter begin verander. Frankryk het die militêre afdeling van die NAVO in 1968 verlaat, maar gaan steeds voort om 'n aktiewe rol by die politiese aktiwiteite van die organisasie speel.

Onder die leiding van de Gaulle het Frankryk vanaf 1960 sy eie kernwapens ontwikkel. As 'n kernmoondheid het die land vanaf 1965 met sy Force de Frappe op vyftig vliegtuie met kernwapens gesteun, en in 1968 het die Franse weermag reeds oor agttien lanseerplatforms vir middelafstandmissiele beskik, wat in die jare 1970 en 1971 met kernmissiele toegerus is.

In die sewentigerjare is die Force de Frappe versterk deur duikbote met sestien middelafstandmissiele.

Diensplig is sedert die Algeriese Oorlog geleidelik afgeskaal en uiteindelik in 2001 deur Jacques Chirac opgeskort. Frankryk beskik tans oor 'n beroepsweermag van sowat 359 000 soldate. Die land se militêre begroting beloop sowat 2,6 persent van sy bruto geografiese produk, effens meer as die Verenigde Koninkryk met 2,4 persent, en is die hoogste in die Europese Unie waar lidstate gewoonlik slegs 'n gemiddelde van minder as 1,5 persent aan verdediging bestee. Dit beteken dat die Franse en Britse begroting sowat 40 persent van die EU se totale militêre uitgawes beloop. Frankryk belê sowat tien persent van sy militêre begroting in sy force de frappe (kernwapens). Die militêre uitrusting word oorwegend plaaslik vervaardig.

Ekonomie

Hoofkenmerke


Ekonomie van Frankryk


Air France
CAC 40
Euro
Landbou
SNCF

Die nuwe Airbus A380 is op 18 Januarie 2005 in die Franse stad Toulouse bekend gestel

Frankryk is 'n lid van die G8-groep van leidende nywerheidslande en is tans die vyfde grootste ekonomie ter wêreld, na die Verenigde State, Japan, Duitsland en die Verenigde Koninkryk, asook die tweede grootste nywerheidsland in Europa na Duitsland. Frankryk het by nog 11 ander EU-lede aangesluit om die Euro as nuwe gemeenskaplike geldeenheid te gebruik vanaf 1 Januarie 1999. Die Euromunte en -banknote het die Franse Franc totaal vervang in 2002.

Die Franse ekonomie steun sowel op die private entrepreneurskap (met meer as 2,5 miljoen geregistreerde ondernemings) asook staatsbeheerde bedrywe. Alhoewel die invloed van die staat nou geleidelik verminder word, beheer publieke ondernemings nog 'n groot deel van die Franse infrastruktuur, met name die spoorweë (SNCF), elektrisiteit, lugvaart en telekommunikasie. Die regering is tans besig om sy aandele aan Air France, France Télécom, versekerings-, bank- en krygstuigbedrywe te verkoop. Ekonomiese patriotisme, dirigisme, sentralisering en hiërargiese strukture bly egter tipiese kenmerke van die Franse ekonomie.

Desondanks die patriotiese tendense van die land se ekonomiese beleid is 46 persent van aandele in ondernemings, wat in die CAC 40 gelys word, in buitelandse besit. Maar sedert die Sosialistiese oorwinning in die verkiesing van die jaar 1981 het Frankryk se ekonomiese beleid duidelik in 'n ander rigting beweeg as dié van byvoorbeeld die Verenigde Koninkryk of Duitsland. Die Franse regering het in die verlede aktief opgetree teen vyandige oornames van Franse ondernemings en meer aandag aan sosiale vraagstukke gegee as aan die stabiliteit van sy geldeenheid.

Buitelandse handel en beleggings

Die eksklusiewe ekonomiese sone van Frankryk en sy oorsese gebiede

Die hoofsaalike uitvoergoedere is motors, vliegtuie, farmaseutiese produkte, elektroniese toerusting en wyn. Volgens die OESO was Frankryk in 2004 die vyfde grootste uitvoerder van vervaardigde produkte, ná die Verenigde State, Duitsland, Japan en die Volksrepubliek China. Tegelykertyd is dit die vierde grootste invoerder van vervaardigde goedere (ná die Verenigde State, Duitsland en die Volksrepubliek China).

In 2005 het Frankryk se uitvoere €355 miljard beloop. Uitvoere na die Verenigde State het met nege en uitvoere na Asiatiese lande selfs met sestien persent gegroei. Nogtans voer die land minder goedere en dienste uit as ander vergelykbare nywerheidslande.

Die statistieke van die OESO toon in 2003 dat Frankryk die lidstaat met die meeste direkte buitelandse beleggings is (met die uitsondering van Luxemburg, waar buitelandse beleggings grotendeels in die vorm van geldtransaksies van internasionale banke met 'n setel in Luxemburg gemaak word). Met buitelandse beleggings ter waarde van 47 miljard VSA-dollar oortref Frankryk selfs die Verenigde State met 39,9 miljard VSA-dollar, Duitsland (12,9 miljard VSA-dollar) en Japan (6,3 miljard VSA-dollar).

Ekonomiese sektore

La Défense, die sakesentrum van Parys

Die vernaamste sektore van die Franse ekonomie is die motornywerheid, ruimte- en lugvaartnywerheid, masjienbou, chemiese nywerheid en die inligtings- en kommunikasietegnologie. Die metropolitaanse gebied van Parys is die grootste nywerheids- en handelsentrum. Ander belangrike sentrums is Lyon, Marseille, Lille, Toulouse, Bordeaux, Straatsburg, Nantes, Nice en Rennes.

Landbou en toerisme is eweneens hoogs ontwikkel. Sedert 1969 het die landbousektor 'n positiewe handelbalans, en Frankryk het tot die tweede grootste uitvoerder van landbouprodukte op die wêreldmark ontwikkel, met wyn, dranke, graan, suiwelprodukte en suiker as sy vernaamste uitvoergoedere. Die land produseer jaarliks 55 miljoen hektoliter wyn en is met meer as 75 miljoen buitelandse besoekers in 2003 die belangrikste toeristebestemming ter wêreld, nog voor Spanje (52,5 miljoen toeriste) en die Verenigde State (40,4 miljoen toeriste). Frankryk lok met sy kulturele erfenis in historiese stede soos Parys, lang strande en gesofistikeerde vakansieoorde langs sy kuslyn, ski-oorde in die Sentraalmassief, die Alpe en die Pireneë en landelike gebiede wat met hulle natuurskoon en rustigheid bekoor en gewild is by ekotoeriste.

Die luukse goederebedryf

Louis Vuitton-bybehore in die vertoonvenster van 'n Hongkongse winkel

Die Franse luukse goederebedryf het oor die eeue 'n mededingende posisie op internasionale markte gehandhaaf. Sy suksesverhaal berus op die tradisionele samewerking tussen staat, ambagsbedryf en samelewing wat in die afgelope jare met 'n uiters doeltreffende strategie van ondernemings in dié bedryf gepaard gegaan het. Groot eiendomsmaatskappye en handelsmerke van wêreldfaam verseker dat Frankryk se aandeel op die wêreldmark vir tradisionele luukse goedere meer as 'n derde beloop.[17]

Luukse is oorspronklik verbind met oorvloed, veelvuldigheid en afwisseling, waarby die klemtoon in Frankryk dikwels op sinlike genot en lewensvreugde val. Onafhanklik van al die emosionele en maatskaplike aspekte van luukse het die belangrikheid van luukse goedere in Frankryk sy wortel in suiwer ekonomiese oorwegings. In die 17de eeu, die tydperk van Lodewyk XIV, die Sonkoning, het die Franse minister van finansies, Jean-Baptiste Colbert, die verhoging van uitvoere bepleit om 'n oorskot op die handelsbalans aan te teken en sodoende die staat se skatkis te vul.

Colbert het die stigting en uitbreiding van fabrieke bevorder wat hoogwaardige produkte sou vervaardig om hulle na die buiteland uit te voer, waaronder edele tekstielstowwe en porselein. Die luukse goederebedryf het gaandeweg tot 'n soort nasionale kultuurgoed ontwikkel wat in die Franse bewussyn veranker is. Toe die bedryf in 2009 weens die internasionale finansiële krisis in 'n resessie gedompel is, was die Franse staat dan ook bereid om dit met belastinggeld te subsidieer.

Dit is veral kleding, bybehore, juweliersware, horlosies, parfuums, kosmetiek en meubels waarmee die bedryf sukses op die wêreldmark behaal. Volgens die tydskrif Forbes se ranglys van welvarende persoonlikhede in 2011 was vier verteenwoordigers van die Franse luukse goederebedryf onder die top vyf rykste mense in die land: Bernard Arnault (LVMH-groep), Liliane Bettencourt (dogter van die stigter van L'Oréal), François Pinault (voormalige voorsitter van Pinault-Printemps-Redoute/PPR) en die Gebroeders Wertheimer (eienaars van Chanel). Die enigste nyweraar was Serge Dassault (lug- en ruimtevaart) wat die vierde plek beklee het.

Die sterk uitvoergerigte Franse luukse goederebedryf dra sowat een persent tot die land se bruto geografiese produk by en het 200 000 werknemers in diens. In 2012 het kopers wêreldwyd sowat €200 miljard (ZAR2,7 miljard) aan luukse goedere bestee, waarvan veertig persent aan Frans-vervaardigde produkte. Tien persent van alle luukse goedere word na Japan uitgevoer, terwyl uitvoere na nuut geïndustrialiseerde lande stewig groei. Hier word sekere luukse goedere in tye van ekonomiese onsekerheid of hoë inflasiekoerse as 'n veilige belegging beskou. Vervaardigers en klante heg daarnaas groot waarde aan eksklusiwiteit sodat luukse merke ook tydens 'n ekonomiese insinking nie by uitverkope betrokke raak nie.

Een van die belangrikste bates van die bedryf naas eksklusiwiteit is dan ook die beheer oor die handelsmerk, die prysvlak en die vervaardiging van produkte. Baie Franse vervaardigers van luukse goedere beskik oor hul eie winkelkettings sodat prysvlakke beheer kan word en plaas nie die vervaardiging van hul produkte uit nie (sowat tagtig persent van Franse luukse goedere word deur ondernemings in dié bedryf self vervaardig). Baie ondernemings is steeds in familiebesit, alhoewel die bedryf deur groot beheermaatskappye oorheers word. Die hoofstad Parys word as die wêreldhoofstad van luukse goedere beskou – 'n groot persentasie ondernemings in die bedryf het sy hoofkwartiere in die sogenaamde "Goue Driehoek" (Triangle d'or) tussen die Rue du Faubourg Saint-Honoré, die Avenue Georges-V en die Avenue Montaigne, of in die Rue de la Paix en op die Place Vendôme.

Die luukse goederebedryf word naas die lug- en ruimtevaartbedryf, die farmaseutiese bedryf en die landbousektor by die suksesvolste ekonomiese sektore van die land gereken wat grootskaals na die buiteland uitvoer en 'n stabiele oorskot op die handelsbalans toon – terwyl die nywerheidsektor se bydrae tot die Franse BGP tussen 2000 en 2011 van agttien tot twaalf persent gedaal het.

Infrastruktuur

'n TGV-hoëspoedtrein in die stasie van Lyon

Frankryk het 'n goed ontwikkelde infrastruktuur wat in sy metropolitaanse gebiede en nywerheidsentrums selfs as uitstekend beskryf kan word. Die uitgebreide netwerk van snelweë sluit 'n groot persentasie privaat tolpaaie in. Die land beskik tans ook oor die grootste spoorwegnetwerk vir hoëspoedtreine wat steeds verder uitgebrei word. Nuwe spoorlyne vir Franse TGV- en Duitse ICE-hoëspoedtreine tussen Parys en Saarbrücken, Straatsburg, Frankfurt am Main, Stuttgart en München is in 2007 in bedryf gestel. Tot en met 2020 sal 2 000 kilometer se nuwe hoëspoedspoorlyne gebou word.

Die Franse regering het vir homself daarnaas 'n ambisieuse doelwit gestel om die aantal elektriese motors teen die jaar 2020 tot twee miljoen te verhoog.

Demografie

Teen die begin van 2019 is die bevolking van metropolitaanse Frankryk en die oorsese gebiede op sowat 67  miljoen beraam. Die bevolkingsdigtheid was 116 inwoners per vierkante kilometer.

Die volkskleredrag van Batz-sur-Mer (Loire-Atlantique)
Verspreiding van plaaslike tale en dialekte in Frankryk

Daar is tans 73 stede wat saam met hulle voorstede 'n inwonertal van meer as 100 000 het. Die grootste stedelike gebiede is Parys (12,3 miljoen), Lyon (2,3 miljoen), Marseille (1,7 miljoen), Toulouse (1,3 miljoen), Lille (1,2 miljoen), Bordeaux (1,2 miljoen), Nice (1 miljoen), Nantes (0,9 miljoen), Straatsburg (0,8 miljoen) en Rennes (0,7 miljoen).

Frankryk het naas Duitsland die tweede grootste bevolking in die Europese Unie (EU). Anders as in Duitsland is daar 'n aansienlike natuurlike bevolkingsgroei, met 828 000 geboortes teenoor 542 600 sterfgevalle in 2010. Frankryk toon ná die Republiek Ierland die tweede gunstigste demografiese ontwikkeling in die EU. In 2003 is 280 300 huwelike gesluit.

Op 1 Januarie 2004 is 25,3 persent van die Franse jonger as twintig en 16,2 persent ouer as 65 jaar. Die gemiddelde lewensverwagting van vroue is 83,8 jaar, terwyl dié van mans 76,7 jaar is.

Die amptelike taal in metropolitaanse Frankryk en die oorsese gebiede is Frans, tog praat die grootste deel van die Franse bevolking 'n plaaslike dialek. Naas Frans bestaan daar 'n aantal inheemse tale soos (Baskies, Bretons, Katalaans, Korsikaans, Nederlands (Vlaams), Duits (Elsassiese Duits) en Oksitaans), maar die Franse regering en skoolstelsel het die gebruik van hierdie tale sterk afgeraai tot redelik onlangs.

Buitelandse bevolking

Mense volgens geboorteland wat in Frankryk woon, soos in 1999

Vanweë die stadige bevolkingsgroei was daar reeds teen die middel van die 19de eeu 'n knellende tekort aan mannekrag in Frankryk. So het reeds met die begin van die nywerheidsomwenteling gasarbeiders uit ander Europese lande soos Italië, Pole, Duitsland, Spanje en België na Frankryk gekom om hulle in die metropolitaanse gebied van Parys of in die mynboustreke en swaar nywerheidsgebiede van Nord-Pas-de-Calais en Lotaringe te vestig.

Vanaf 1880 het die buitelandse bevolking sowat een miljoen beloop, en immigrante het tussen sewe en agt persent van die ekonomies aktiewe bevolking verteenwoordig.[18]

Die demografiese fenomeen van massa-emigrasie, wat in hierdie tydperk kenmerkend vir byvoorbeeld Duitsland was, was in Frankryk heeltemaal onbekend. In die tyd van die Eerste Wêreldoorlog was sowat drie persent van die bevolking van buitelands afkoms, en onverdraagsaamheid teenoor vreemdelinge het geleidelik begin toeneem. Die aantal buitelanders het in die volgende jare verder toegeneem en in 1931 6,6 persent van die totale bevolking beloop. Nog tot en met 1974 was Frankryk se immigrasiebeleid relatief liberaal. In 2006 was 5,8 persent van die bevolking van buitelandse afkoms, naas 'n bykomende 4,3 persent wat in die buitelande gebore was en ingeburger is (die sogenaamde Français par acquisition).[19]

Ten opsigte van die herkomslande was daar groot verskuiwings. Terwyl in 1931 meer as 90 persent van die buitelandse bevolking van Europese afkoms was, veral uit Italië en Pole, het hulle aandeel in die 1970's tot sowat 60 persent gedaal. Intussen was Portugese die belangrikste groep immigrante.

In 2010 was 6,7 miljoen inwoners in die buiteland gebore – sowat elf persent van die totale bevolking. Dit maak van Frankryk die sesde belangrikste immigranteland ter wêreld ná die Verenigde State (42,8 miljoen), die Russiese Federasie (12,3 miljoen), Duitsland (9,1 miljoen), Saoedi-Arabië (7,3 miljoen), Kanada (7,2 miljoen), maar nog voor die Verenigde Koninkryk met 6,5 en Spanje met 6,4 miljoen immigrante.

Kinders van immigrante – met een of twee buitelandse ouers – het in 2008 elf persent van die totale bevolking of 6,5 miljoen beloop. By drie miljoen van hulle is albei ouers van buitelandse herkoms. Tans is die meeste immigrante uit die Europese Unie (34 persent, veral Portugese, Italianers en Spanjaarde), die Magreb-lande van Noord-Afrika (Algerië, Marokko en Tunisië, 30 persent), Asië (14 persent, waarvan 'n derde uit Turkye) en Afrika suid van die Sahara (elf persent) afkomstig.

Immigrante in 2004 : 4 930 000
Genaturaliseerde buitelanders met Franse burgerskap :
1 970 000
Buitelanders wat in die buiteland gebore is :
2 960 000
Buitelanders wat in Frankryk gebore is :
550 000
Buitelanders : 3 510 000

Geloof

Die Mont-Saint-Michel aan die Bretons-Normandiese grens

Frankryk is 'n laïsistiese republiek waar staat en godsdienstige gemeenskappe streng van mekaar geskei word volgens die grondwetlike beginsel van sekularisme. Religieuse gemeenskappe beoefen hul geloof volgens die wet van 2 Januarie 1907 oor openbare geloofsbeoefening as verenigings volgens die wet van 1901 oor verenigings en/of die wet van 1905 oor die skeiding van staat en kerk. So is daar geregistreerde religieuse verenigings volgens albei regsvorme. Geen kerk of religieuse vereniging word deur die staat amptelik as sulks erken nie.[20]

Die staat hou geen statistiek oor die geloof van sy burgers nie, en alle gegewens berus op skattings of inligting wat deur die gemeenskappe self verskaf word. Die 2003 CIA World Factbook lys die gelowe van Frankryk as: Katoliek 83–88%, Protestants 2%, Joods 1%, Moslem (Noord-Afrikaanse werkers) 5–10%, ongebonde 4%.

Volgens skattings, wat op demoskopiese navorsing gebaseer is, is daar 5 miljoen Moslems, 1 miljoen Protestante, 600 000 Boeddhiste, 600 000 Jode en 150 000 ortodokse Christene.

Sedert die Franse Rewolusie en volgens latere wetgewing is alle Rooms-Katolieke kerkgeboue, wat voor 1905 opgerig is, in staatsbesit en word gewoonlik deur plaaslike owerhede beheer. Weens 'n tekort aan fondse het honderde kerkgeboue te duur geword vir dorpe wat dikwels twee of meer sakrale geboue moet onderhou sodat 'n paar burgemeesters in 2007 gedreig het om hulle te laat afbreek. Tans word 2 800 van sowat 15 000 kerkgeboue op die platteland bedreig.[21]

Die Joodse gemeenskap

Verskillende kleredragte van Middeleeuse Franse Jode

Frankryk se Joodse gemeenskap is die derde grootste ter wêreld naas die Verenigde State en Israel. Hulle verskil egter van ander Joodse gemeenskappe in Europa deur hulle oorwegend Noord-Afrika-Sefardiese herkoms (60 tot 70 persent). Die Joodse bevolking het veral uit die voormalige kolonies Algerië, Marokko en Tunisië na Frankryk gekom. Die sogenaamde Crémieux-dekreet het Algerynse Jode in 1870 tot Franse burgers verklaar en hulle het ná die onafhanklikwording van Algerië in 1962 saam met die Pieds noirs, die Europese setlaars, na Frankryk gevlug.

Administratiewe verdeling

Die nuwe administratiewe verdeling van Frankryk sedert 1 Januarie 2016
Die Rhônedelta in Suid-Frankryk
Landskap in Bourgogne
La Défense, Parys

Frankryk was vanaf 1956 in administratiewe opsig in 27 administratiewe geweste (Frans: régions) verdeel, wat verder in 100 departemente (Frans: départements) verdeel is. Die departemente is (hoofsaaklik alfabeties) genommer en hierdie nommer word in o.a. poskodes en motor-registrasienommers gebruik. Die getal administratiewe geweste is volgens hervormings wat op 1 Januarie 2016 in werking getree het, verminder tot agttien – dertien in metropolitaanse Frankryk (die Europese kernland met die eiland Korsika) en vyf oorsee, wat verder in 102 departemente verdeel is. Die departemente word verder verdeel in 342 arrondissemente en 2.054 kantons. Daar is 35.416 munisipaliteite.

France métropolitaine (metropolitaanse Frankryk):

France d'outre-mer (Départements d'Outre-Mer – Territoire d'Outre-Mer: DOM-TOM) (Oorsese Frankryk):

Kultuur

Sport

Tour de France 2004 in Parys
Die Stade de France tydens die eindstryd van die Coupe de France 2010/11 tussen Lille OSC en Paris Saint-Germain
Die Franse nasionale sokkerspan nadat hulle die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018 in Rusland gewen het
Rugbywedstryd tussen Frankryk en Wallis tydens die Sesnasies-toernooi in 2007

Sokker is die gewildste sportsoort in Frankryk, en die nasionale span – wat bekend staan as die équipe tricolore of les Bleus – spel ook 'n belangrike rol as 'n identiteitskeppende band tussen die verskillende sosiale en etniese groepe van die land. Die meeste internasionale wedstryde van die nasionale sokkerspan vind in die Stade de France in Saint-Denis naby Parys plaas. Die span van Paris Saint-Germain is tans die Franse sokkerkampioen. Frankryk het reeds twee keer die FIFA Sokker-Wêreldbeker aangebied, in 1938 en in 1998, en ook twee keer gewen (in 1998 en 2018). Daarbenewens het dié land reeds drie keer die UEFA Europa-beker (in 1960, 1984 en 2016) aangebied, meer as enige ander Europese land, en die Coupe Henri Delauney twee keer gewen (in 1984 en 2000). Frankryk het ook die FIFA Sokker-Konfederasiebeker in 2003 aangebied én gewen, waardeur hulle hul 2001-titel suksesvol verdedig het.

Voor die Tweede Wêreldoorlog was rugby die gewildste sportsoort in Frankryk wat deur Britte tydens die 19de eeu ingevoer is en onder meer by die mynwerkers van die suide gewild geraak het. Rugby is sedertdien gedeeltelik deur sokker verdring. Dit is egter nog steeds die mees populêre sport in die suidelike geweste van die land. Die Franse nasionale rugbyspan – bekend as XV de France, Les Tricolores of Les Bleus – wat nes sy sokkereweknie 'n idenditeitsfaktor het, neem aan die jaarlikse Sesnasies-toernooi deel, saam met Engeland, Ierland, Italië, Skotland en Wallis. Frankryk het die kampioenskap reeds 18 keer gewen, insluitend tien Grand Slams (Grand Chelem) – en het nog agt ander kere die titel gedeel. In 2007 het Frankryk as die gasheerland van die Rugbywêreldbeker opgetree – die eerste toernooi in 'n Franssprekende land. In 1991 en 1999 het dié land as medegasheer opgetree, saam met Engeland, Ierland, Skotland en Wallis. Die Franse rugbyspan het drie keer die eindstryd van die Rugbywêreldbeker (in 1987, 1999 en 2011) gehaal, maar dit nog nie gewen nie. In 2023 was Frankryk gasheer van die tiende Rugbywêreldbeker en een van die gunstelinge op die titel, maar hulle het die kwarteinstryd teen die verdedigende en nuwe wêreldkampioen Suid-Afrika naelskraap met 28–29 verloor.

Die Tour de France is die bekendste fietswedren ter wêreld. Die Tour vind sedert 1903 gereeld oor drie weke in Julie plaas en is net tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gekanselleer. Alhoewel die roete jaarliks gewysig word, lei dit deur heel Frankryk en aangrensende lande.

Ander gewilde sportsoorte is atletiek, Formule 1-motorwedrenne (met die Franse Grand Prix wat sedert 2018 weer gehou word) en tennis (met die Franse Ope in Parys). Val Thorens en Chamonix is net twee bekendes van 'n groot aantal ski-oorde in die Franse Alpe.

Olimpiese Spele het verskeie kere in Frankryk plaasgevind: Somerspele in 1900 en 1924 in Parys, Winterspele in Chamonix-Mont-Blanc (1924), Grenoble (1968) en Albertville (1992). Met die aanbieding van die Olimpiese Somerspele in 2024 sal Parys naas Londen die tweede stad wees wat vir 'n derde keer as gasheerstad van Olimpiese Somerspele optree.

Televisie

ARTE se setel in Straatsburg

Net soos baie ander Europese lande beskik Frankryk oor publiekregtelike en privaatregtelike televisiekanale. Die publiekregtelike uitsaaikorporasie France Télévisions behels die kanale France 2, France 3, France 4, France 5 en France Ô (vroeër RFO).

France Télévisions is ook 'n aandeelhouer van TV5, ARTE en die nuuskanaal EuroNews. TV5 is 'n Franstalige gemeenskaplike kanaal van Frankryk, België en die Franssprekende gebiede van Kanada en Switserland en ná die BBC, CNN en MIV die vierde grootste televisienetwerk ter wêreld. ARTE is 'n Duits-Franse kanaal wat deur ARTE France saam met die Duitse publiekregtelike uitsaaikorporasies ARD en ZDF beheer word.

Die privaatregtelike uitsaaikorporasie TF1 is die grootste televisiekanaal in Frankryk. TF1 was tot by 1987 publiekregtelik. Die korporasie beheer ook die sportkanaal Eurosport.

BFM is 'n onafhanklike privaatregtelike nuuskanaal, wat ook op die internet uitgesaai word – net soos die Frans- en Engelstalige nuuskanaal France24, wat sedert Desember 2006 uitsaai en deur TF1 en France Télévisions beheer word.

Ander kulturele onderwerpe

Allerlei

Die Sallanchesvallei (Haute-Savoie)

Die hoofstad en mees bekende stad Parys is ook die tuiste van die Eiffeltoring, 'n toring van staal opgerig in 1889. Frankryk beskik oor 265 verskeie soorte kaas, 400 skigebiede, 3 430 km kuslyn en die hoogste berg van Europa, Mont Blanc (4 810 m). Daar is ook sowat 11 000 kampeerterreine en 120 000 km wandelpaaie.

Verwysings

  1. (en) "France". The World Factbook. Central Intelligence Agency. 10 Mei 2022. Besoek op 12 Januarie 2024.
  2. (en) "Surface water and surface water change". OESO. Besoek op 12 Januarie 2024.
  3. (fr) "Bilan démographique 2022 – Composantes de la croissance démographique, France". Insee. 17 Januarie 2023. Besoek op 12 Januarie 2024.
  4. (en) "Demography – Population at the beginning of the month – France (including Mayotte since 2014)". INSEE. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Mei 2017. Besoek op 3 Julie 2020.
  5. 5,0 5,1 5,2 5,3 (en) "France". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2023. Besoek op 12 Januarie 2024.
  6. (en) "Human Development Report 2021/2022" (PDF). United Nations Development Programme. 2021. Besoek op 12 Januarie 2024.
  7. (en) "Gini coefficient of equivalised disposable income – EU-SILC survey". Eurostat. Besoek op 12 Januarie 2024.
  8. (en) Microsoft News / The Independent, 3 Julie 2019: Paris to ban tourist buses from city centre. Besoek op 3 Julie 2019
  9. (en) "History of France". Discoverfrance.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Augustus 2011. Besoek op 24 Augustus 2011.
  10. (en) "frank". American Heritage Dictionary. 
  11. (en) "frank". Webster's Third New International Dictionary. 
  12. 12,0 12,1 12,2 (en) "Origin and meaning of Frank". Online Etymology Dictionary.
  13. (en) Michel Rouche (1987). "The Early Middle Ages in the West". In Paul Veyne (red.). A History of Private Life: From Pagan Rome to Byzantium. Belknap Press. p. 425. ISBN 978-0-674-39974-7. OCLC 59830199.
  14. (en) Leonid Tarassuk, Claude Blair (1982). The Complete Encyclopedia of Arms and Weapons: the most comprehensive reference work ever published on arms and armor from prehistoric times to the present with over 1,250 illustrations. Simon & Schuster. p. 186. ISBN 978-0-671-42257-8. Besoek op 5 Julie 2011.
  15. (de) Die Zeit, 16 November 2012: Bon courage! – Unser wichtigster Nachbar könnte Europas schlimmster Patient werden – schuld ist ein unglaublicher Reformstau
  16. (de) Berthold Seewald: Fünf Gründe für Frankreichs Reformunfähigkeit. In: Die Welt, 28 November 2013
  17. (de) www.bpb.de: Schön, edel, prunkvoll: Die französische Erfolgsgeschichte der Luxusindustrie
  18. (de) Ernst Ulrich Grosse en Heinz-Helmut Lüger: Frankreich verstehen. Eine Einführung mit Vergleichen zu Deutschland. Darmstadt: Primus/Wissenschaftliche Buchgesellschaft 1997, bl. 173
  19. (fr) INSEE: Population selon la nationalité
  20. (fr) Sien die wet van 2 Januarie 1907 oor die openbare beoefening van godsdienste of religie op die webtuiste Legifrance.gouv.fr
  21. (en) Telegraph Geargiveer 26 November 2016 op Wayback Machine, Demolition of churches faces French resistance Geargiveer 27 Februarie 2008 op Wayback Machine, besoek op 2 Maart 2007

Bronnelys

Algemeen
Buitelandse beleid en Verdediging
  • (en) Krotz, Ulrich: National Role Conceptions and Foreign Policies: France and Germany Compared. Program for the Study of Germany and Europe – Working Paper 02.1. Cambridge, MA: Minda de Gunzburg Center for European Studies, Harvard University

Eksterne skakels

Die administratiewe geweste van Frankryk (Régions de France)
Metropolitaanse geweste (Régions métropolitaines):
Akwitanië | Auvergne | Boergondië | Bretagne | Centre-Val de Loire | Champagne-Ardenne | Elsas | Franche-Comté | Île-de-France | Korsika | Languedoc-Roussillon | Limousin | Lotaringe | Midi-Pyrénées | Nord-Pas-de-Calais | Basse-Normandie | Haute-Normandie | Pays de la Loire | Pikardië | Poitou-Charentes | Provence-Alpes-Côte d'Azur | Rhône-Alpes
Metropolitaanse geweste 2016 (Régions métropolitaines):
Auvergne-Rhône-Alpes | Boergondië-Franche-Comté | Bretagne | Centre-Val de Loire | Grand Est | Hauts-de-France | Île-de-France | Korsika | Nieu-Akwitanië | Normandië | Oksitanië | Pays de la Loire | Provence-Alpes-Côte d'Azur
Oorsese geweste (Régions d’outre-mer):
Frans-Guyana | Guadeloupe | Martinique | Mayotte | Réunion
Die départements van Frankryk (Départements français)
Metropolitaanse Frankryk (France métropolitaine

01 Ain | 02 Aisne | 03 Allier | 04 Alpes-de-Haute-Provence | 05 Hautes-Alpes | 06 Alpes-Maritimes | 07 Ardèche | 08 Ardennes | 09 Ariège | 10 Aube | 11 Aude | 12 Aveyron | 13 Bouches-du-Rhône | 14 Calvados | 15 Cantal | 16 Charente | 17 Charente-Maritime | 18 Cher | 19 Corrèze | 2A Corse-du-Sud | 2B Haute-Corse | 21 Côte-d'Or | 22 Côtes-d'Armor | 23 Creuse | 24 Dordogne | 25 Doubs | 26 Drôme | 27 Eure | 28 Eure-et-Loir | 29 Finistère | 30 Gard | 31 Haute-Garonne | 32 Gers | 33 Gironde | 34 Hérault | 35 Ille-et-Vilaine | 36 Indre | 37 Indre-et-Loire | 38 Isère | 39 Jura | 40 Landes | 41 Loir-et-Cher | 42 Loire | 43 Haute-Loire | 44 Loire-Atlantique | 45 Loiret | 46 Lot | 47 Lot-et-Garonne | 48 Lozère | 49 Maine-et-Loire | 50 Manche | 51 Marne | 52 Haute-Marne | 53 Mayenne | 54 Meurthe-et-Moselle | 55 Meuse | 56 Morbihan | 57 Moselle | 58 Nièvre | 59 Nord | 60 Oise | 61 Orne | 62 Pas-de-Calais | 63 Puy-de-Dôme | 64 Pyrénées-Atlantiques | 65 Hautes-Pyrénées | 66 Pyrénées-Orientales | 67 Bas-Rhin | 68 Haut-Rhin | 69 Rhône| 70 Haute-Saône | 71 Saône-et-Loire | 72 Sarthe | 73 Savoie | 74 Haute-Savoie | 75 Parys | 76 Seine-Maritime | 77 Seine-et-Marne | 78 Yvelines | 79 Deux-Sèvres | 80 Somme | 81 Tarn | 82 Tarn-et-Garonne | 83 Var | 84 Vaucluse | 85 Vendée | 86 Vienne | 87 Haute-Vienne | 88 Vosges | 89 Yonne | 90 Territoire de Belfort | 91 Essonne | 92 Hauts-de-Seine | 93 Seine-Saint-Denis | 94 Val-de-Marne | 95 Val-d'Oise |  
Oorsese départements (Départements d’outre-mer
971 Guadeloupe | 972 Martinique | 973 Frans-Guyana | 974 Réunion |976 Mayotte 
Andere oorsese gebiede: 
Oorsese kollektiewe gebiede (Collectivités d’outre-mer
Saint-Martin (collectivité territoriale) |975 Sint Pierre en Miquelon (collectivité territoriale) |Sint Bartholomeus‎ (collectivité territoriale) |986 Wallis en Futuna (territoire) |987 Frans-Polinesië (pays d’outre-mer
Spesiaal statuut (Statut spécifique
Nieu-Kaledonië 
Onbewoonde gebiede (Territoires inhabités
Franse Suidelike en Antarktiese Gebiede | Clipperton

Die administratiewe verdeling van Frankryk: Régions - Départements - Arrondissemente - Kantons - Communes
🔥 Top keywords: Spesiaal:SoekTuisbladKategorie:Artikels met LCCN-identifiseerdersKategorie:Artikels met BNC-identifiseerdersKategorie:Artikels met MusicBrainz area-identifiseerdersKategorie:Artikels met CINII-identifiseerdersKategorie:Artikels met NKC-identifiseerdersKategorie:Artikels met Trove-identifiseerdersKategorie:Artikels met GND-identifiseerdersSpesiaal:Onlangse wysigingsKategorie:Artikels met BNE-identifiseerdersPaasfeesPornhubCarles PuigdemontAngkor WatRob HersovAfrikaansGrieksArmeniëJapanWestdenedam-rampDuitslandModule:ArgumentsRuslandGoogle MapsGoeie VrydagBaike: GebruikersportaalSeksposisieBaike: GeselshoekieSwangerskapSkildklierNieu-SeelandVerenigde KoninkrykSuid-AfrikaSeksAgorafobieGordelroosWiki BaikeT20I-wêreldbeker 2014Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bomeBaike: OmtrentFIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2022Baike: Nuus vir gebruikersCiceroKanadaBaike: HulpJaarKantons van SwitserlandVergelykings (taalkunde)NierversakingMesopotamiëHidroponikaBosluisbytkoorsLys van Suid-Afrikaanse musikanteKolorektale kankerBloeddrukWit-DonderdagGalblaasGianna MichaelsOnderhandelinge om apartheid te beëindigBreinvliesontstekingMenstruasieBulgaryeMadison IvyGebruikerbespreking:RooiratelTrappe van vergelykingOekraïneSeksuele penetrasieAnrich HerbstPlae van EgipteCleopatra VIIMaagsweerJavaScriptBaike: Welkom nuwelingeHartversakingBernice WestHuisgenoot: Ware LewensdramasLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)LewerCarike KeuzenkampAngina pectorisLêer:Flag of India.svgBorskankerGoogle TranslateIslamVolksrepubliek ChinaDuitse nasionale rugbyspanIndonesiëWarmlugballonPlanete in astrologieDikdermMenslike seksuele gedragFIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1982Lys van openbare vakansiedae in Suid-AfrikaHemelvaartsdagHartKolitisPtolemeusMaroela Media