Sjawoe'ot

Sjawoe'ot () of Sjawoe'os (Jiddisj: שבועות, ) in Asjkenasiese gemeenskappe, Sjawoe'ot in Sefardiese en Mizrachi-gemeenskappe (Hebreeus: שבועות, letterlik: "Weke"), ook bekend as Wekefees, Fees van die weke of Pinkster (Grieks: πεντηκοστὴ [ἡμέρα], pentēkostē [hēméra], letterlik: "vyftigste [dag]"), is 'n Joodse fees.

Sjawoe'ot in die sinagoge, skildery deur Moritz Daniel Oppenheim, 1880
Hebreeuse perkament met die Tien Woorde daarop, Amsterdam, 1768
Rut in die lande van Boas, skildery deur Julius Schnorr von Carolsfeld, 1828
Israel se vrugte, soos in Dwarim/Deuteronomium 8,8 genoem: "'n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate, 'n land van olieryke olyfbome en heuning"[1]
Bikkoerim-offering op Sjawoe'ot in Nahalal, Israel, 2006
Volgens die minhag word suiwelgeregte soos Kaas-Blini tradisioneel deur Asjkenasiese Jode tydens Sjawoe'ot bedien en genuttig[2]

Sjawoe'ot word na 49 dae se Omertelling op die 50ste dag, dus sewe weke en een dag na Pesach, gevier. Dit val op die sesde en sewende dag van die maand Siwan volgens die Joodse kalender. Saam met Pesach en Soekot is Sjawoe'ot een van die drie tradisionele Bedevaartsfeeste (שלוש רגלים, sjalosj regalim). Tydens die bestaan van die Tweede Tempel het die Jode na Jerusalem getrek om daar offers te bring.

Sjawoe'ot het 'n dubbele betekenis. Dit dui op die eerstelinge van die koringoes in Israel (Sjemot/Eksodus 34,22) en herdenk die dag toe God die Tora aan die versamelde volk Israel by die berg Sinai gegee het. Die verhouding tussen die ontvangs van die Tora (Matan Tora) en Sjawoe'ot blyk duidelik uit die Bybelse teks (Sjemot/Eksodus 19,1; 19,3–7; 19,8,10–11; 19,21–25; Wajikra/Levitikus 23,15[3]).

Geskiedenis

In die Tora het die herdenking verskeie name, onder ander חג השבועות "Fees van die weke" (Sjemot/Eksodus 34,22[4] en Dwarim/Deuteronomium 16,10[5]), חג הקציר "Fees van die oes" (Sjemot/Eksodus 23,16[6]), יום הבכורים "Dag van die eerstelinge [van die koringoes]" (Bemidbar/Numeri 28,26[7]). Die twee grondtekste van die Talmoed, Misjna en Ghemara, verwys na die fees as עצרת Atséret, "plegtige byeenkoms". Van die name weerspieël die verskillende betekenisse van die fees.

Die Jode herdenk die hernieude ontvangs van die Tien Woorde aan die berg Sinai. Dus word op die eerste dag ook Sjemot/Eksodus 19, 20,1–23 van die Tora gelees; Maftir: Bemidbar/Numeri 28,26–31; Haftara: Esegiël 1,1–28, 3,12. Volgens die Bybelse tradisie het Moses na die eerste ontvangs die kliptafels met die Tien Woorde gebreek, weens die aanbidding van die goue kalf deur die volk Israel. Toe het Moses teruggegaan na die bergspits van Sinai, om vir die volk te bid en die Tien Woorde opnuut te ontvang.

Sjawoe'ot is ook 'n oesdankfees, aangesien die eerste koring in Israel rondom dié herdenking geoes word.

Omdat die koms van die Heilige Gees op die dissipels van Jesus volgens die Christelike Handelinge van die Apostels op die Joodse Wekefees gebeur het, het die Christelike Pinkster uit Sjawoe'ot ontwikkel.

Datums

Sjawoe'ot is volgens die Joodse kalender op 6 en 7 Siwan, die werklike viering begin egter altyd met sonsondergang op die vooraand (omdat 'n dag met sononder begin). Aangesien maande in die Joodse kalender altyd na die maan bereken word, wissel die datum van hierdie dag volgens die Gregoriaanse kalender. In Israel word Sjawoe'ot een dag lank gevier, op 6 Siwan, terwyl in die Joodse diaspora Sjawoe'ot twee dae lank gevier word, tot 7 Siwan, net om seker te maak dat die vieringe op die regte datum gaan plaasvind.

Jaar in die Joodse kalenderDatum in die Gregoriaanse kalender
577819–20/21 Mei 2018
57798–9/10 Junie 2019
578028–29/30 Mei 2020
578116–17/18 Mei 2021
57824–5/6 Junie 2022
578325–26/27 Mei 2023
578411–12/13 Junie 2024
57851–2/3 Junie 2025
578621–22/23 Mei 2026
578710–11/12 Junie 2027
578830–31 Mei / 1 Junie 2028
578919–20/21 Mei 2029
57906–7/9 Junie 2030
579127–28/29 Mei 2031

Sien ook

Verwysings

  1. (af) "Deuteronomium 8,8". Bybel: Eksodus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 6 Maart 2019. ’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ’n land van olieryke olyfbome en heuning;
  2. (en) Marks, Gil (2010). Encyclopedia of Jewish Food. Wiley. pp. 56–58. ISBN 978-0-470-39130-3. Besoek op 18 April 2012.
  3. (af) "Levitikus 23,15". Bybel: Eksodus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 6 Maart 2019. “Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel.
  4. (af) "Eksodus 34,22". Bybel: Eksodus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 6 Maart 2019. “Jy moet die fees van die weke vier; dit is die fees aan die begin van die koringoes. “Dan is daar nog die fees van die insameling aan die einde van die jaar.
  5. (af) "Deuteronomium 16,10". Bybel: Deuteronomium. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 6 Maart 2019. Vier die fees van die weke tot eer van die Here jou God. In die mate waarin die Here jou God jou met voorspoed geseën het, moet jy 'n vrywillige offer vir Hom bring.
  6. (af) "Eksodus 23,16". Bybel: Eksodus. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 6 Maart 2019. “Die fees van die oes moet gevier word met die eerste opbrengs van wat jy op die land saai. “Die fees van die insameling moet gevier word aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid ingesamel het op die lande.
  7. (af) "Numeri 28,26". Bybel: Numeri. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Besoek op 6 Maart 2019. “Sewe weke na paasfees wanneer julle die fees van die weke tot eer van die Here begin vier en die graanoffer uit die nuwe oes bring, moet daar vir julle 'n gewyde byeenkoms wees, dan mag julle geen gewone werk doen nie.

Verdere leesstof

  • (en) Brofsky, David. "Hilkhot Moadim: Understanding the Laws of the Festivals." Jerusalem: Koren Publishers, 2013.
  • (en) Kitov, Eliyahu (1978). The book of our heritage: the Jewish year and its days of significance. 3: Iyar-Elul. Jerusalem: Feldheim Publishers. ISBN 978-0-87306-151-3.
  • (en) Scherman, Nosson, red. (1993). The Chumash: the Torah: Haftaros and five Megillos with a commentary anthologized from the Rabbinic writings. ArtScroll / Mesorah Publications. ISBN 978-0-89906-014-9.

Eksterne skakels


Sjawoe'ot

Sjawoe\'ot (luister (hulp·inligting)) of Sjawoe\'os (Jiddisj: שבועות, luister (hulp·inligting)) in Asjkenasiese gemeenskappe, Sjawoe\'ot in Sefardiese en Mizrachi-gemeenskappe (Hebreeus: שבועות, letterlik: Weke), ook bekend as Wekefees, Fees van die weke of Pinkster (Grieks: πεντηκοστὴ [ἡμέρα], pentēkostē [hēméra], letterlik: vyftigste [dag]), is \'n Joodse fees.