Olga Kirsch

Afrikaanse digteres

Olga Kirsch (*23 September 1924, Koppies –†5 Junie 1997, Rehovot) was 'n Afrikaanse digteres. Naas Elisabeth Eybers, is sy die tweede vroulike Afrikaanse digteres. Sy maak grootliks van haar Joodse afkoms en ervaringe gebruik as inspirasie vir haar digkuns. Kirsch emigreer in die 1940's na Israel, en dig 24 jaar lank nie in Afrikaans nie. Eers ná 'n besoek aan Suid-Afrika in die 1970's verbreek sy haar stilte en begin weer in Afrikaans dig.

Olga Kirsch
אולגה קירש
Gebore(1924-09-23)23 September 1924
Sterf5 Junie 1997 (op 72)
NasionaliteitVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
Vlag van Israel Israel
BeroepSkryfster
Bekend virNegentien Gedigte
Die Soeklig
The Book of Sitrya
Oorwinteraars in die Vreemde
EggenootJoseph Gillis
KindersAda, Michal

Lewe en werkwysig

Herkoms en vroeë lewewysig

Olga Kirsch was op 23 September 1924 op Koppies, in die Oranje-Vrystaat in Suid-Afrika gebore, waar sy grootgeword het. Sy studeer aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg en verwerf 'n B.A. (Hons.) met Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis as hoofvakke. Sy debuteer in 1944 op 20-jarige ouderdom met die bundel Die Soeklig en publiseer haar tweede bundel, Mure van die hart, op ouderdom vier-en-twintig Sy is die middelste van vyf kinders, drie dogters en twee seuns. Haar pa was ’n Jiddisj-spreker wat voor die Eerste Wêreldoorlog uit Litaue na Suid-Afrika emigreer en haar ma, Eva, was ’n Engelssprekende Suid-Afrikaanse Jodin wat op Volksrust groot geword het. Die algemene handelaar Gordon en Kirsch op die dorp het aan haar pa behoort. Hy is oorlede toe sy twaalf jaar oud was en hy was slegs 35. Engels is haar huistaal, maar al haar skoolmaats in die laerskool op Koppies is Afrikaans en sy sê later dat die Afrikaans wat sy so geleer het, die Engels van haar huis oorheers het. Aan die sinagogeskool op Koppies leer sy ook om Hebreeus te lees en skryf. Haar ouer broer en suster matrikuleer op Koppies, maar sy ontvang haar hoërskoolopleiding in Engels aan die Eunice Girls High School in Bloemfontein. Die gesin verhuis later na Johannesburg waar sy verder studeer aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy begin as ’n mediese student, maar verander gou van studierigting en behaal die B.A.-graad met Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis as hoofvakke en dan die B.A. Honneurs-graad in Afrikaans en Nederlands onder leiding van C.M. van den Heever.

Lewe in die buitelandwysig

Hierna werk sy onder meer by die Joodse Raad van Afgevaardigdes in Johannesburg, gee onderwys en is ook verbonde aan die redaksies van Suid-Afrika en Horison. Sy ontmoet vir Elisabeth Eybers in Johannesburg, met wie sy ’n lewenslange vriendskap sluit. In 1948 tydens die Onafhanklikheidsoorlog emigreer sy na Israel, waar sy allerhande vryskutwerk doen, totdat sy op ’n kibboets teregkom. Op besoek by vriende in Rehovot ontmoet sy haar toekomstige man. Hy is dr. Joseph Gillis, later professor in Wiskunde aan die Weizman Instituut vir Natuurwetenskappe, wat ook in 1948 vanuit Brittanje na Israel geëmigreer het. Hy het in die noorde van Engeland groot geword op Sunderland naby Berwick-on-Tweed en het aan die Universiteit van Cambridge gestudeer. In Julie 1949 is hulle getroud en uit die huwelik word twee dogters gebore, onderskeidelik in 1950 en 1953. Sy doseer vanaf 1959 Engels in Rehovot, eers as onderwyser en later as universiteitsdosent by die Weizman Instituut. Sy verwerf ook ’n M.A.-graad in Engels aan die Universiteit van Jerusalem.

In 1975 besoek Olga Kirsch Suid-Afrika weer vir die eerste keer sedert 1948 wanneer sy saam met Lina Spies die enigste twee digters is wat uitgenooi word om die opening van die Taalmonument naby Paarl by te woon. Haar besoek is moontlik gemaak deur die bemiddeling van Dirk Richard, destyds redakteur van Die Vaderland, en die Joodse Raad van Afgevaardigdes wat haar besoek geborg het. Tydens hierdie kort besoek besigtig sy ook haar geboortedorp, Koppies, en bring tyd deur met Jan Rabie en Marjorie Wallace op Onrus.

Latere jare en sterftewysig

Sy besoek Suid-Afrika weer in 1979 vir die Afrikaanse Radiodiens se boekeveiling en weer in 1981. Die laaste besoek is aan haar sterwende moeder, ’n gebeurtenis wat neerslag vind in die bundel Afskeide. Haar man is op 18 November 1993 oorlede. Die digter en radioman Daniël Hugo besoek Israel in 1994 om ’n dokumentêre radioprogram oor haar lewe en werk te maak, ’n besoek wat hy as ’n hoogtepunt in sy lewe beskou. Hy stel ook ’n keur uit haar gedigte saam in Nou spreek ek weer bekendes aan wat in 1994 ten tyde van haar sewentigste verjaarsdag verskyn. Kirsch korrespondeer hierna nog vir ’n rukkie met Hugo totdat sy ernstig siek word.

Sy ontwikkel in die negentigerjare ’n kwaadaardige breingewas wat lei tot haar dood op 5 Junie 1997 in Rehovot in Israel.

Skryfwerkwysig

Afrikaanse skryfwerkwysig

Digkunswysig

As baie jong vrou (skaars twintig) debuteer sy in 1944 met[1] Die soeklig om ná Elisabeth Eybers slegs die tweede gebundelde vrouedigter in Afrikaans te word en die eerste belangrike digter om die Joodse belewenis in die Afrikaanse letterkunde te verwoord.[2] Haar eerste bundel staan nog onder die invloed van die Dertigers, maar toon in enkele verse reeds ’n woordvaardigheid wat groot belofte toon. Die Tweede Wêreldoorlog figureer in hierdie bundel, veral in verse van die vrou wat agterbly terwyl die geliefde gaan veg (vergelyk Iets het gesterf in my met jou vertrek en Dagbreek). Sy word die eerste vroulike digter wat oorlogspoësie skryf en daardeur  ’n unieke perspektief verskaf. In hierdie verse slaag sy daarin om die teenstelling tussen liefdesdrome en die wrede werklikheid van oorlog uit te beeld, terwyl dit ook ’n belangrike tematiese verruiming vir die Afrikaanse digkuns is. Die oorlog vind reeds uiting in die bundeltitel, wat op sy beurt terug gevind kan word in die gedig Eens, lank gelede. Hierin word die nagte van geluk voor die oorlog gekontrasteer met die oorlogsgeweld. Die voetsoldaat bevat reeds die soberder taalgebruik wat haar latere poësie kenmerk en beskryf die vernietiging van die menslike gees wat deur oorlogsgeweld meegebring word. Die sonderlinge liefdesverse in hierdie bundel maak ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (veral Illusie met sy blye verwagting van die weersiens van die afwesige geliefde), terwyl daar ook gedigte is oor die gevoelens van geluk, weemoed en pyn en die menslike verganklikheid (Aan ’n ou vrou, Die gestorwene en Die jong moeder). Natuurstemmings word kundig gebruik om die eie gemoedslewe te tipeer, soos in Die najaar. Galatea is deur die Griekse mitologie geïnspireer, na aanleiding van die standbeeld wat Pygmalion gemaak het en wat toe deur Aphrodite lewend gemaak is. Vir Gaza is die geskiedenis van Simson uit die Bybel se liefde en wraak as boustof gebruik. Haar Jodinskap sorg dat met hierdie bundel ’n unieke verwysingswêreld in die Afrikaanse digkuns sy beslag kry.

In Die Huisgenoot van 21 Junie 1946 publiseer sy gedigte oor die Joodse ervaring van die Tweede Wêreldoorlog (wat later in Mure van die hart opgeneem word) naamlik Twee Paassange en twee ander gedigte wat nooit gepubliseer is nie, Palestynse sange (Lied van die terroriste en Voor die vuurpeloton).[3] Die bundel[4] Mure van die hart[5] ontgin die Sionistiese verlange wat na die Tweede Wêreldoorlog by Jode posvat vir ’n eie vaderland,[6] terwyl die verlies van ’n minnaar op die slagveld ook betreur word. In die tyd waarin dit geskryf word, direk na die Tweede Wêreldoorlog, bevat die bundel ’n aantal gedigte oor die oorlogsituasie wat nie beperk is tot hierdie oorlog nie en universele toepassing verkry. Die eerste, ongetitelde afdeling is gewy aan sober gedigte oor die dood van die minnaar, met veral Rouweek en Na-oorlogse lente wat die emosies kernagtig saamvat. Die tweede afdeling, By die riviere van Babel, se titel verwys na Psalm 137 en die Israelitiese ballingskap in Babel en hulle verlange na die vaderland. Hierdie afdeling bevat drie gedigte met vereenselwiging met die lotgevalle van die Joodse volk, met die Babiloniese ballingskap en die Egiptiese slawerny wat die gebeure tydens en ná die Tweede Wêreldoorlog in ’n historiese perspektief plaas. Die wandelende Jood het die eeue-oue pelgrimstog van die Israeliete as tema, voortgesit in die anti-Semitisme en Jode-vervolging van net voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog. ’n Hoogtepunt is Die erfenis van Israel, wat as boodskap en verduideliking gerig is aan die nog ongebore kind, terwyl Heimwee die hunkering na die terugkeer na Jerusalem beskryf. Daar is ook gedigte oor die tipies Joodse ervaringswêreld in die afdeling Twee Paassange. Die uittog verwys na die verlossing van die Israeliete uit Egipte, met die slotstrofes wat ook die huidige bestaan as ’n woestynsbestaan suggereer, terwyl Koms van die Messias uiting gee aan die Joodse volk se verlange na die Messias en die verlange na ’n eie vaderland. Die afdeling Drie sonnette het mislukte verhoudings as tema. As lid van ’n volk wat deur die eeue heen verdruk en vervolg is, het sy ook groter gevoeligheid as haar tydgenote vir die rasse onreg in Suid-Afrika en die afdeling Blokhuis bevat gedigte oor hierdie onderwerp. Geloofsbelydenis neem standpunt in teen die gewaande meerderwaardigheid van die witmense wat hulle op valse godsdienstige gronde probeer regverdig. Die gedig is ’n wrang verklaring van die wit spreker se geloof dat sy ras meerderwaardig is op grond van ’n waninterpretasie van die gebeure beskryf in Genesis 9:24-27, waarvolgens die witman skynbaar die reg het om wandade te pleeg teen die swart mense. Gedagtewisseling is ’n effektiewe aanwending van die uittelrympie om die swart kind se uiteinde aan te dui. Die bundel sluit af met die kwatryn Blokhuis, waarin die beeld mooi uitgewerk word en knap met die dubbelbetekenis van die skrif teen die muur speel. Hierdie bundel is ’n hoogtepunt in Kirsch se oeuvre. Weens haar verhuising na Israel en haar digterlike stilswye in hierdie tyd, word daar vermoed dat haar Afrikaanse digterskap afgeloop is.

Ná ’n stilte van 24 jaar verskyn Negentien gedigte in 1972, ’n mirakel in die kleine omdat sy glad nie intussen Afrikaans kon praat nie. Met haar man praat sy Engels en met haar kinders Hebreeus. Sy skryf glad nie gedigte nie, behalwe vir enkele gedigte in Engels oor die Eerste Israeliese Onafhanklikheidsoorlog, wat in 1966 in die New Yorkse Sionistiese tydskrif Jewish Frontiers gepubliseer word. As voorspel vir Negentien gedigte vertaal sy egter wel twee gedigte van die Israeliese digteres Leah Goldberg uit Hebreeus in Afrikaans en dit verskyn in Junie 1971 in die tydskrif Buurman (die kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes). Hierdie twee gedigte, Sesdaagse oorlog en By die lees van Solzhenitsyn, word nie in Negentien gedigte opgeneem nie en is klaarblyklik vingeroefeninge vir die nuwe bundel. Negentien gedigte bevat veral verse waarin kontraste geskep word tussen die verlede en hede, tussen ver en naby, sodat haar bestaan in ’n verre land waar sy afgesonder is van haar land en taal gekontrasteer word met die lewe wat was. Die getal negentien dra in die ou Joodse misteries die betekenis van lig, wat werklik en lewegewend is. Aangrypend is die herinneringe van Vyf sonnette aan my vader, wat hulde bring aan ’n ontslape vader en hierdie herinneringe terselfdertyd tot ’n rekenskap en ontdekking van die self lei. Die eerste van hierdie vyf sonnette, Omdat ek my geskaam het vir jou spraak, beskryf hoe die Jiddisj-sprekende vader gesukkel het om in die Afrikaans en Engels van sy omgewing te kommunikeer en die impak daarvan op sy verhouding met sy kind. Kontemporêre Israel word beskryf in Ou Jerusalem, terwyl die versugting na durende vrede ter beskerming van ’n dogter die onderwerp is van By die aantrek van ’n nuwe kleed. In Sy naam was Sasha dokumenteer Kirsch die lotgevalle van ’n Rus wat tydens die Russiese Rewolusie van 1918 vyf jaar in die gevangenis moes deurbring weens sy deelname aan die Tsaar se leër en eindelik op gevorderde leeftyd na Israel uitgewyk het. Hier herinner die spreker hoe hy ’n kring wit klippies rondom elke struik in sy tuin gepak het, simbool van die gevangenis. In sy nuwe vaderland verkry hy dan ook nie werklik aanvaarding en vryheid nie en word as Rus in die erf van die Russiese kerk begrawe, met slegs sy vrou wat sy graf steeds gereeld kom besoek. Sonder om eksplisiete uitleg te gee, beeld die spreker dus hier die lewe van ’n gewone man uit, wat in hierdie wêreld tevergeefs na aanvaarding en vryheid gesoek het.

Kirsch se drie reise na Suid-Afrika stimuleer haar passie vir Afrikaans en het die digbundels Geil gebied, Afskeide en ten slotte Ruie tuin tot gevolg.[7] Geil gebied se titel verwys na die vrugbaarheid van liefde en die digkuns[8] en die bundel bevat dan ook talle verse oor hierdie onderwerpe.[9] Die titel kom voor in Gedigte kan nie vergoed, waarin die vrugbaarheid van die poësie vergelyk word met ’n klein stuk vrugbare grond wat omring word deur die lewe se woestyn, wat spoedig die tuin verwoes. Die gedigte ontgin die spanning tussen metrum en spreekritme, om sodoende op subtiele wyse uiting te gee aan die ingeperktheid van ballingskap in ’n vreemde land. Die digter se blootstelling aan Suid-Afrika vind neerslag in gedigte oor die natuur, haar tuisdorp en die rassesituasie. Hoewel nie al die gedigte fyn afgerond is nie, word in van die bestes geslaag om geheel en al verskillende dinge met mekaar te versoen, soos die goddelike en alledaagse en die tere en ruwe. Die openingsgedig, Nou spreek ek weer bekendes aan, gee uiting aan die gevoel van isolasie wat die spreker voel in ’n ander taalgemeenskap en die vreugde om weer in persoonlike kontak te kom met mense wat haar ken en verstaan. Gedigte oor verlatenheid en pyn (byvoorbeeld Op die blank marmerblad) is van die sterkstes in die bundel. Hierdie gedig skets veral sterk kontras tussen die warmte en lig van die gedenkdagkers en die verlate winterlandskap van die dood wat dit oproep. Die tuin is kaal en Die eensaam hemele van my kindertyd ontgin die teenstellings tussen die hede en verlede en die twee lande. Daar is ook etlike treffende verse oor die daaglikse lewe van die vrou en haar verhouding tot kind en man. Noemenswaardig is Alleen, Noudat jy weg is, Hoe edel maak die hartstog jou gesig, Wanneer jy weg is, My verse hoort aan jou en veral Huwelik (verhouding met die man) en Jy was van kleins af soos ’n wilde loot (verhouding met die kind). Ek wat nooit heel was beskryf die versoening tussen moeder en dogter nadat hulle daarin geslaag het om eerlik met mekaar te wees en só ’n geslagtelange verhoudingsprobleem in die familie oorkom. Teater (geskryf na aanleiding van Athol Fugard se drama Boesman and Lena, waarin die swaarkry van anderskleuriges in Suid-Afrika die tema is) gee uiting aan ’n voortgesette bekommernis oor die rassesituasie in Suid-Afrika.

Oorwinteraars in die vreemde[10] word geskryf tydens en nadat sy en haar man ’n jaar lank in die Verenigde State van Amerika bly terwyl haar man ’n besoekende professor is.[11]Hierin dig sy oor die verhouding tussen mense en ook binne die ruimte wat die geskiedenis en die natuur skep.[12] Sy dig oor dinge soos ontdekkingsreisigers wat vreemde plekke aandoen, huurders wat niks besit in die huis waar hulle bly nie, winter in ’n vreemde land. Die mens is dus tydelik, verganklik en ’n vreemdeling binne hierdie wêreld, maar tog die middelpunt van lewe. Die onrus oor die oorlog in Israel gee aanleiding tot Oktober 1973 en Dalk kom sy nooit tot ewewig nie. In laasgenoemde gedig word die voortdurende onstabiliteit in die land vergelyk met ’n ewig afhanklike kind wat altyd rede gee tot kommer, met die strydkreet “Hierosolyma est perdita” wat beteken “Jerusalem is gedoem”. Oorgangsjare skep ’n mooi kontras tussen die afgetakelde blare enersyds (as simbool van ouderdom) en die vrugbare appelboom (simbool van jeug, groei en romanse). Ek sal jou nooit kan volg beskryf die verwydering wat daar bestaan tussen geliefdes as gevolg van die aard van hulle passie, vir hom die wiskunde en vir haar die Afrikaanse digkuns. Hierdie verwydering en tog intimiteit word vergelyk met bome wat weerskante van ’n pad geplant is, met die takke wat nogtans aan die bopunt ineengestrengel word.

Afskeide[13] ontstaan nadat sy Suid-Afrika besoek om verlaas haar sterwende moeder te groet.[14]Die bundel staan dan ook in die teken van ondersoek na die dood en die aard daarvan en die afskeid van ’n geliefde,[15] sodat die bundel met die elegiese deurtrek is.[16] Die gedigte herroep die laaste dae voor die dood, ondersoek die moeder-dogter verhouding en poog ook in ’n enkele gedig om die essensie van lewe en dood saam te vat.[17]

Ruie tuin[18] is die laaste van haar gepubliseerde Afrikaanse digbundels, waarin sy die ruie tuin of die paradys van herinneringe ontgin, wetende dat die einde naby is.[19] Die gedigte bevat vele gesprekke met geliefdes (man, kinders, afgestorwenes), wat op ’n intieme en gemaklike gesprekstoon weergegee word. Die gestroopte liefdesvers Voordat ons inslaap (met sy treffende beskrywing van die wisselwerking tussen man en vrou in hulle samesyn en afsonderlikheid) is ’n hoogtepunt in die bundel. Die natuurskoon van Israel, onderhou deur ywerige hande, word beskryf in Sonsondergang. Vure wat niks verteer. Kom my beminde, laat ons ry is nog ’n liefdesvers, waarin die versugting uitgespreek word om weg te kom van die besoedeling van die stad en in die natuur weer die ander te ontdek, soos in die Paradys van weleer.

Versamelbundelswysig

Haar laaste gepubliseerde Afrikaanse gedigte staan in die bloemlesing Goudaar wat Fanie Olivier in 1986 saamstel vir Johannesburg se eeufees.

’n Keur uit haar gedigte gemaak deur Daniel Hugo verskyn in 1994 onder die titel[20] Nou spreek ek weer bekendes aan.

Haar gedigte word in verskeie versamelbundels opgeneem, insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Uit ons digkuns, Junior verseboek, Afrikaanse verse, Die junior digbundel, Digterstemme, Digters en digsoorte, Digters en digkuns, Die dye trek die dye aan, Afrikaanse natuurpoësie, Liggaamlose taal, Goudaar, Uit ons letterkunde, Woordpaljas, My Afrikaanse verseboek, Voorspraak en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. In 2020 word haar gedigte ‘Omdat ek my geskaam het vir jou spraak’, ‘Toe ek nog klein was het ek aan jou sy’, ‘Hoe het dit skielik laat geword?’ en‘Ou vrou in die hospitaal’ in Vers en vrou opgeneem. [21]

Vir die huldigingsbundel Verse vir Opperman skryf sy die gedig Jongvrou wat in haar handskrif in Afrikaans en Hebreeus afgedruk word. In vertaling verskyn Word-spinning en Blockhouse in The Penguin Book of South African verse. Sy publiseer ook gedigte in tydskrifte soos Standpunte, terwyl haar skets oor Jerusalem in Stad en stedelig opgeneem word, ’n versamelbundel met sketse en vertellings oor wêreldstede.

Engelse digkunswysig

Dit word vir haar al hoe moeiliker om in Afrikaans te dig, aangesien sy nie daaglikse kontak met die taal het nie en sy haar letterlik moet afsonder en inleef in Afrikaans voordat sy kan skryf. In die laat jare tagtig begin sy dan om in Engels te dig en gee die privaat gepubliseerde digbundel The book of Sitrya in 1992 uit. Hierdie bundel bevat gedigte oor haar kleindogter, die Sitrya van die titel, wat met ’n ongeneeslike siekte gebore is en op tienjarige ouderdom gesterf het. In hierdie tyd raak sy ook betrokke by die Israel Association of Writers in English.

Op soek na ’n groter leserspubliek stuur sy in 1996 gedigte na die Verenigde State van Amerika en Engeland. Maande na haar oorlye nader ’n Engelse redakteur die Israel Association om vyf van die gedigte wat hy ontvang het te publiseer. Hierdie verse handel hoofsaaklik oor haar familie en gevoelens en poog nie om die lewe in Israel weer te gee nie. Sy het reeds voorheen in Engels gedig en was in 1948 medevertaler van Elisabeth Eybers se verse in The quiet adventure. Oorspronklike Engelse gedigte van haar oor die Eerste Israeliese Onafhanklikheidsoorlog verskyn ook in 1966 in die New Yorkse Sionistiese tydskrif Jewish Frontier. Haar poging om in Hebreeus te dig staak sy wanneer kritici sê dat dit soos vertalings lees.

Eerbewysewysig

Die Port Elizabeth Amateurtoneelvereniging bied in Junie 1998 ’n huldeblyk aan haar in die Joodse Pioniersmuseum, waarin hulle haar gedigte voordra en uittreksels uit Hugo se hoorbeeld van haar voorspeel.

Publikasieswysig

Werke wat uit haar pen verskyn sluit in:[22]

JaarPublikasies
1944Die Soeklig, J. L. van Schaik Bpk., Pretoria 1944
1948Mure van die Hart, Afrikaanse Pers Boekhandel, Johannesburg 1948
1972Negentien Gedigte, Human & Rousseau, Kaapstad 1972
1976Geil Gebied, Human & Rousseau, Kaapstad 1976
1978Oorwinteraars in die Vreemde, Human & Rousseau, Kaapstad 1978
1982Afskeide, Human & Rousseau, Kaapstad 1982
1992Ruie tuin, Human & Rousseau, Kaapstad 1983
1994The Book of Sitrya, Rehovot (Israel) 1990

Bronnelyswysig

Boekewysig

  • Antonissen, Rob. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Nasou Beperk. Derde hersiene uitgawe. Tweede druk, 1964.
  • APB-Komitee vir Skoolboeke. Die junior digbundel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Sesde druk, 1963.
  • Askes, H. en Landman, J.N. (samestellers) Voorspraak. Tafelberg-Uitgewers Beperk. Kaapstad. Eerste uitgawe. Tiende druk, 1994.
  • Beukes, Gerhard J. en Lategan, F.V. Skrywers en rigtings. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria. Eerste uitgawe, 1952.
  • Buning, Tj. Uit ons digkuns. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria. Nuwe omgewerkte druk, 1960.
  • Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk. Kaapstad. Elfde druk, 1970.
  • Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk. Vyfde uitgawe. Eerste druk,  1988.
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica. Pretoria en Kaapstad. Tweede druk, 1984.
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica. Pretoria, Kaapstad en Johannesburg. Eerste uitgawe. Eerste druk, 1983.
  • Kannemeyer, J.C. Verse vir die vraestel. Tafelberg-Uitgewers Beperk. Eerste uitgawe, 1998.
  • Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria.  Eerste uitgawe, 2005.
  • Kirsch, Olga. Nou spreek ek weer bekendes aan. Human & Rousseau. Kaapstad, Johannesburg en Pretoria. Eerste uitgawe, 1994.
  • Lindenberg, E. (red.) Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde. Academica. Pretoria en Kaapstad. Vierde uitgawe. Eerste druk, 1973.
  • Nienaber, P.J. en Lategan, F.V. Afrikaanse natuurpoësie. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Derde druk, 1952.
  • Nienaber, P.J. (samesteller) Digters en digkuns. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Derde druk, 1954.
  • Nienaber, P.J., Roodt, P.H. en Snyman, N.J. (samestellers) Digters en digkuns. Perskor-Uitgewers. Kaapstad. Vyfde uitgawe. Sewende druk, 2007.
  • Nienaber, P.J.; Senekal, J.H en Bothma, T.C. Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Tweede hersiene uitgawe, 1963.
  • Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Derde hersiene uitgawe, 1969.
  • Nienaber, P.J.; Erasmus, M.C.; Du Plessis, W.K. en Du Plooy, J.L. Uit ons letterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Sewende druk, 1968.
  • Opperman, D.J. Junior verseboek. Nasionale Boekhandel Beperk. Kaapstad. Agste druk, 1960.
  • Pheiffer, R.H. Woordpaljas. Human & Rousseau. Kaapstad en Johannesburg. Derde uitgawe. Derde druk, 1993.
  • Spies, Lina. Ontmoetings. Tafelberg-Uitgewers Beperk. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1979.
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel 2. J.L. van Schaik-Uitgewers. Pretoria. Eerste uitgawe, 1999.

Tydskrifte en koerantewysig

  • Engelbrecht, Theunis. Meer as ’n ‘oorwinteraar in die vreemde’. Kalender, 10 Junie 1997.
  • Hugo, Daniel. Brief van Olga Kirsch bring nuus – en ’n hartseer Engelse gedig. Die Burger, 15  Februarie 1994.
  • Hugo, Daniel. Bekendes hoor weer haar stem. Die Burger, 24 September 1994.
  • Hugo, Daniel. Só onthou ek Olga Kirsch. Beeld, 9 Julie 1997.
  • Kannemeyer, J.C. Waarom nie ‘versamelverse’ van Kirsch? Die Burger, 16 Februarie 1994.
  • Kannemeyer, J.C. ‘Sekel en simbaal’ was die hoogtepunt. Boekewêreld, 1 Julie 1998.
  • Minnaar-Vos, Anna. Ontmoeting met Olga Kirsch. Die Huisvrou, Januarie 1976.
  • Snyman, Henning. Met liefde en teerheid. Insig, Julie 1997.
  • Spies, Lina. Huldeblyk in die jaar van die vrou en van Afrikaans aan ons twee eerste digteresse. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 13 no. 4, November 1975
  • Spies, Lina. Olga Kirsch: ’n Huldiging. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 35 no. 4, Augustus 1997.
  • Vermaak, Kitty. Herinneringe aan Olga. My tyd Rapport, 24 Oktober 2010.

Internetwysig

Artikelswysig

  • Hugo, D., 2014. A Poet for All seasons. Werkwinkel 9(2), pp.11-16.
  • Lasker, C., 2003. Olga Kirsch: Ghost, Memories, Emotions. Metamorphoses: A Journal of Literary Translation, 11, pp.44-45.
  • Minnaar, T. en Roth, E., 2014. n Nuwe lewe: Olga Kirsch se studentegedig “Resurrexit”. Werkwinkel, 9(2), pp.59-72.
  • Minnaar, T., 2014. Jan Greshoff se ‘aanval’op Olga Kirsch as een van die hoofredes vir haar emigrasie:’n Psigoanalitiese beskouing. Werkwinkel, 9(2), pp.99-118.
  • Roth, E., 2014. The Men in the Life and Work of Olga Kirsch. Werkwinkel,9(2), pp.135-154.
  • Senekal, B., 2014. Olga Kirsch se posisie in die Afrikaanse literêre sisteem (1900–1978). Werkwinkel, 9(2), pp.119-134.
  • Spies, L., 2014. Die poësie van Olga Kirsch: Tuiskoms in vreemdelingskap. Werkwinkel, 9(2), pp.73-98.
  • Venter, E., 2014. Olga Kirsch:’n Vreemde boom op hierdie aarde. Werkwinkel, 9(2), pp.17-28.
  • Viljoen, L., 2014. Die hart’n droë blaar: Verlies, rou en melancholie in Olga Kirsch se Afrikaanse poësie. Werkwinkel, 9(2), pp.31-58.
  • Wessels, A. 2009. The outsider as insider: The Jewish Afrikaans poetry of Olga Kirsch. Prooftexts, 29(1), pp.63-85.

Verhandellings en proefskriftewysig

  • Jooste, A.E., 1984. Die digwerk van Olga Kirsch: 'n verkenning en poging tot sintese (PhD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika).
  • Minnaar, W.F.T., 2012. ’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalitiese teorieë van Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva. Universiteit van Kaapstad.
  • Schutte, S.E., 2009. Uitbeelding van die dood in die digkuns van Elizabeth Eybers, Olga Kirsch en Eveleen Castelyn (PhD-proefskrif).

Verwysingswysig

  1. Mulder, H.A. Standpunte, Reeks 1, No. 2 1945.
  2. Opperman, D.J. Verspreide opstelle. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 1977.
  3. Hugo, Daniel. Olga Kirsch (1924–1997) in Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel 3. J.L. van  Schaik-Uitgewers. Pretoria. Eerste uitgawe, 2006.
  4. Grové, A.P. Standpunte. Jaargang 4, no.2, 1949.
  5. Nienaber-Luitingh, M. Beeld, 24 November 1980.
  6. Swanepoel, P.H. Die Transvaler, 26 Januarie 1981.
  7. Brink, André P. Tweede Voorlopige Rapport. Human & Rousseau. Kaapstad, Pretoria en Johannesburg. Eerste uitgawe, 1980.
  8. Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 17 no.2, Junie 1977.
  9. Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 15 no. 1, Februarie 1977.
  10. Brink, André P. Rapport, 25 Februarie 1979.
  11. Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 17 no. 3, Augustus 1979.
  12. Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 19 no. 3, September 1979.
  13. Brink, André P. Standpunte. Nuwe reeks 161, Oktober 1982.
  14. Brink, André P. “Rapport” 10 Oktober 1982
  15. Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 21 no. 3, Augustus 1983.
  16. Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 23 no. 4, Desember 1983.
  17. Spies, Lina. Die Burger, 27 Oktober 1982.
  18. Brink, André P. Rapport, 4 November 1984.
  19. Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 22 no. 4, November 1984.
  20. Weideman, George. Rapport, 27 November 1994.
  21. De Wet, K. (samest.) Vers & vrou. Kaapstad: Human & Rousseau. 2020
  22. Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Kirsch,_Olga
🔥 Top keywords: Spesiaal:SoekTuisbladKategorie:Artikels met LCCN-identifiseerdersKategorie:Artikels met BNC-identifiseerdersKategorie:Artikels met MusicBrainz area-identifiseerdersKategorie:Artikels met CINII-identifiseerdersKategorie:Artikels met NKC-identifiseerdersKategorie:Artikels met Trove-identifiseerdersKategorie:Artikels met GND-identifiseerdersSpesiaal:Onlangse wysigingsKategorie:Artikels met BNE-identifiseerdersPaasfeesPornhubCarles PuigdemontAngkor WatRob HersovAfrikaansGrieksArmeniëJapanWestdenedam-rampDuitslandModule:ArgumentsRuslandGoogle MapsGoeie VrydagBaike: GebruikersportaalSeksposisieBaike: GeselshoekieSwangerskapSkildklierNieu-SeelandVerenigde KoninkrykSuid-AfrikaSeksAgorafobieGordelroosWiki BaikeT20I-wêreldbeker 2014Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bomeBaike: OmtrentFIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2022Baike: Nuus vir gebruikersCiceroKanadaBaike: HulpJaarKantons van SwitserlandVergelykings (taalkunde)NierversakingMesopotamiëHidroponikaBosluisbytkoorsLys van Suid-Afrikaanse musikanteKolorektale kankerBloeddrukWit-DonderdagGalblaasGianna MichaelsOnderhandelinge om apartheid te beëindigBreinvliesontstekingMenstruasieBulgaryeMadison IvyGebruikerbespreking:RooiratelTrappe van vergelykingOekraïneSeksuele penetrasieAnrich HerbstPlae van EgipteCleopatra VIIMaagsweerJavaScriptBaike: Welkom nuwelingeHartversakingBernice WestHuisgenoot: Ware LewensdramasLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)LewerCarike KeuzenkampAngina pectorisLêer:Flag of India.svgBorskankerGoogle TranslateIslamVolksrepubliek ChinaDuitse nasionale rugbyspanIndonesiëWarmlugballonPlanete in astrologieDikdermMenslike seksuele gedragFIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1982Lys van openbare vakansiedae in Suid-AfrikaHemelvaartsdagHartKolitisPtolemeusMaroela Media