Het van Verlangekraal

boek deur Johann Bekker

Het van Verlangekraal is 'n roman geskryf deur Johann Bekker, wat handel oor Het Heiberg, 'n bywoner se dogter, wat aanvanklik bitter selfbejammerende gedragsprobleme toon, maar deur die liefdevolle bearbeiding van haar klasonderwyser Doep (meneer Du Plessis) vir haar medemens begin omgee. Soos die verhaal vorder, draai die verhaal al hoe meer om haar as die twispunt tussen Doep en meneer Erlank se botsende filosofiese benaderings rakende die onderwys en opvoeding. Sowel die skoolhoof as die onderhoof kan mekaar nie vind nie, en omdat 'n onsekere Erlank te trots is om sy fout te erken of bes te gee, kom dit hom duur te staan.

Die roman is verwerk tot rolprent (Gee my jou hand), televisiereeks en in 2022 tot middagvervolgverhaal op Radio Sonder Grense.

Roman

Het van Verlangekraal
 
OuteurJohann Bekker
OmslagontwerperA.J. Malherbe
LandSuid-Afrika
TaalAfrikaans
OnderwerpPedagogie, gedragsprobleme
GenreFiksie
UitgewerHAUM
Uitgegee1960[1]
MediumHardeband
Bladsye166
Letterkunde-portaal

Karakters

Het Heiberg – die hoofkarakter wat die meeste en duidelikste ontwikkeling ondergaan. Sy het vaal hare en is in Standerd 5.

Meneer Doep du Plessis – onderhoof, wat 17 jaar lank onderwys gee, maar ook klasonderwyser van die Standerd 5-klas, van so 40 leerlinge. Vroeër waarnemende hoof van Verlangekraal. Die ouers en inspekteurs wou hom as die nuwe hoof gehad het, maar die onderwysdepartement het anders besluit.

Meneer Jan Erlank – skoolhoof wat die jaar vars by Verlangekraal begin.

Oom Christiaan Brits – voorsitter van die skoolkomitee, vriend en raadgewer van Doep. Die skool se voortbestaan is sy absolute erns.

Floors Heiberg – vader van Het.

Anna Heiberg – moeder van Het.

Meneer Redelinghuys – skoolinspekteur wat Doep besonder goedgesind is.

Mart du Plessis – ondersteunende eggenote van Doep; is Het ook baie goedgesind.

Meneer Scheepers – 27-jarige “geharde oujongkêrel” en onderwyser, wat Doep en sy besluite ondersteun.

Doorsie Brits – 'n kind met leerprobleme, en Oom Christiaan is besonder besorg oor hom. Sy seun is 'n Bantoetaal magtig, en sy deelname en Doep se aanslag met die kind in sy klas, dien as ook as klinkklare bewys dat Du Plessis se opvoedkundige filosofie korrek is – naamlik om kinders se selfvertroue te bou, deur te fokus op hul sterkpunte.

Vele ander name van kinders en volwassenes word ook vermeld wat op 'n manier 'n karaktertrek of twee van Het, Doep of meneer Erlank openbaar.

Milieu

Verlangekraal se skool en omgewing staan sentraal in die verhaalgegewe. Verlangekraal is iewers geleë in Transvaal (soos onder andere afgelei kan word tydens die woordewisseling tussen Floors en meneer Erlank en Doep; die eerste lentereën ná 'n droë winter, wat beduidend is van 'n somerreënvalstreek; Doorsie se gebruik van die Bantoetaal op die plaas; plekname soos Makok, dat 'n spesiale geleentheid vir skoolkinders gebied word wat nog nooit die see besoek het nie, ens. ) in die 1950’s (die skool is kort na die Tweede Vryheidsoorlog gebou, en staan al 50 jaar; ook die geldstelsel is nog Britse pennies, sjielings en ponde, wat voor 1961 moet wees).

Intrige


Pretbederwerswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.


Hoofstuk 1

Oom Christiaan Brits kom bedank Doep omdat sy seun, Doorsie, in sy klas ingedeel is. Brits wil uitvind hoe die nuwe hoof is. Doep sê heel diplomaties hy ken hom al 'n week, en van sien is hy beslis, netjies, deeglik en streng.

Oom Christiaan vind dit wel jammer dat die Departement nie op die skoolkomitee se aanbeveling ag geslaan het nie. Doep het die vorige jaar as hoof waargeneem en het gewys wat in hom steek. Niemand ken dié nuwe vreemdeling nie.

Doep vertrou egter dat die Departement nie 'n swak man sou aangestel het nie. Die tyd sal wel leer hoe hy met die onderwysers en die kinders oor die weg kom.

Doep word deur Erlank, nog vars in die tuig, meegedeel van 'n brief van ene mevrou Potgieter wat kla dat haar dogter, Mathilda, deur Het Heiberg getreiter word. Die kind is nou bang om skool toe te kom.

Doep skets net in die breë Het se agtergrond, dat daar niks met haar intelligensie kortkom nie, maar dat haar sosiale vorming en emosionele ontwikkeling nie tred gehou het met haar verstandelike ontwikkeling nie. Sy is 'n probleemkind wat die gevaar loop dat sy op die ou einde so gaan ontaard dat die hulp van die Departement se sielkundige diens ingeroep gaan word. Haar gedrag en houding kan wel verbeter, mits sy deur die regte hantering en haar huislike omstandighede verbeter word.

Op Erlank se vraag, word geantwoord Het is al drie jaar in die skool op Verlangekraal.

Erlank is glad nie veel beïndruk dat hul niks die afgelope drie jaar kon vermag het nie. Doep het glad nie van die hoof se toon gehou nie en wys op die 40 tot 35 kinders per klas, maar bowenal dat wat mens in die skool probeer regmaak, weer tuis ongedaan gemaak word. Doep is wel bereid om, in Het se geval, omdat sy in Doep se klas is, meer aandag aan haar te gee.

Erlank laat roep Het. Hy sal, in sy eie woorde “hierdie dogtertjie so gou soos nou mak hê”. Al klink die hoof hoe selfversekerd, selfgenoegsaam, selfvoldaan en selftevrede, twyfel Doep baie sterk of sy benadering van “dissipline” met Het sal werk.

Blykbaar sukkel Mathilda altyd met Het se boeties en sussies, sy koggel hulle uit oor hul arm is, vertel Het. Tranerig breek sy die mooiste glimlag deur, wat die nuwe hoof se hart skoon vermurwe.  'n Gesig wat Doep alte goed ken. Erlank laat Het met 'n waarskuwing gaan.

Vir Erlank was die probleem nie te moeilik nie. Doep lag oor die naïwiteit van die hoof, en sê Het het bloot haar sin gekry: naamlik dat die saak nie opgelos is nie en tans bloot in die lug bly hang. Ook is Mathilda Potgieter nie ingeroep om haar kant van die saak te stel nie.

Volgens Erlank is sy eie mensekennis goed genoeg; met een oogopslag weet hy Het praat die waarheid, dat sy deur mense vertrap en verskop is, en sommer ook dat Mathilda Potgieter 'n bedorwe brokkie is. Hy het Het laat gaan met 'n waarskuwing. En hy glo “sy en ek het mekaar uit die staanspoor uit gevind.”

Doep bly oor die aangeleentheid lag, ongeag die wenresepte wat Erlank kwytraak oor liefde en beslistheid.

Hoofstuk 2

Doep is daarvan bewus dat Het Heiberg se gedrag op sy allerbeste is in die eerste kwartaal. Op die atletiekbaan is sy dan die heldin, en die puik prestasies laat haar 'n oomblik vergeet van haar minderwaardigheidsgevoel. Ná afloop van die atletiekseisoen versleg haar gedrag aansienlik, net om tydens die korfbalseisoen 'n plato te bereik; daarna daal die kurwe op die spreekwoordelike gedragsgrafiek baie skerp; teen die jaareinde is dit power.

Erlank vryf egter nou Het se goeie gedrag onder die onderhoof se neus, onwetend van die neiging wat hom gaan herhaal in die toekoms.

Die leser raak ook bewus van die wedywering tussen die vyf skole, en die interne politiek. Riaslaagte is die grootste skool, en sluk, deur sy hoë inskrywing en prestasies al hoe meer kleiner skole in. Dit gaan dus hier ook oor die heil van Verlangekraal. Verlangekraal loop die gevaar dat een van die busroetes afgeskaf word, wat in Riaslaagte se guns tel.

Het wen die afloswedstryd net-net. En die puntetelling is een punt voor in Verlangekraal se guns. Floors Heiberg is ook daar met sy wynasem, en het nou net komplimente vir sy dogter en spog by almal; hy sal haar nie vir 'n honderd pond verkoop nie. Verlangekraal wen ook die toutrek, danksy Doorsie.

En wéér vryf Erlank die sukses van Het onder Doep se neus. Doep verstaan nie hierdie teenstand wat tussen hom en die hoof aan die ontwikkel is nie: draai dit alles regtig net omdat die een in strengheid glo, en hý, Doep, in liefde en begrip?

Hoofstuk 3

Het se gedrag bly oor die algemeen onberispelik, soos Doep voorspel het, en Erlank vind dit so omdat hy, as buitestaander, 'n “objektiewe waarnemer”, sonder vooroordeel kyk, en omdat hy sy vertroue in haar gestel het. Hy behandel haar streng, maar met liefde.

Doep glo Erlank is gans te optimisties; haar sportprestasies voed haar selfvertroue. Sodra die glans verdwyn, en haar huislike omstandighede en die spot van die kinders (soos sy dit ervaar) weer die botoon voer, dan kom die dierlike in haar weer uit. Sagte hande maak stinkende wonde: dit help nie, soos Doep stel, mens smeer net salfies aan nie, daar moet tot by die sweer gedelf word. Maar aan Erlank is daar geen salf te smeer nie.

Maryna is daarvan beskuldig, deur Het, dat sy Het se poppie gesteel het. Albei se broers en susters beaam dat hul suster 'n soortgelyke pop gehad het. Maryna, sagmoedig, toeskietlik en moederlik wat sy is, met 'n jammer hart vir sukkelaars, gee maar bes.

Doep wil later by Het 'n tweede maal weet waar sy die poppie gekry het. By haar niggie wat op Verloredal skoolgaan. Doep skakel daar en dan meneer Hennop van Verloredal en Ansie Niemand word oordeelkundige vrae gestel. Dit was toe heeltyd Het wat die poppie by Maryna gesteel het, en toe is dit maar “aanval is die beste verweer”.

Het voer aan sy het niks nie, haar pa sê altyd hoe sy die “slegste dêm kind” is wat lewe, sy wil goed wees, maar as sy haar kon kry, doen sy iets slegs. Doep wys weer dat alle diewe so redeneer – sy is tog in heelwat opsigte ryk: sy het boeties en sussies om mee te speel, sy geniet goeie gesondheid en sy is 'n atleet wat die skool se trots is.

Aanvanklik is Doep nie lus om Het se wandaad aan Erlank te noem nie, maar toe die hoof Maryna Stander vergelyk met Agab wat Nabot se enigste wingerd begeer het, sê Doep Maryna was die verontregte. Erlank is woedend nadat hy die waarheid later uit Het se eie mond gehoor het. Het bied natuurlik aan om die poppie terug te gee, maar vir Erlank is dit darem te maklik. As straf, omdat hy nie lyfstraf kan toedien aan 'n dogter nie, moet Het eenduisend keer uitskryf “Ek moet my hande van ander se goed afhou.” Pouses is vir haar tot die einde van die daaropvolgende week verbode.

Erlank het, volgens Doep, nie begryp nie, en om te begryp is om te vergewe. Daar is van geen vergifnis sprake nie.

Maryna het nietemin vir Het die poppie agterna terug as geskenk gegee, as vertroosting.

Hoofstuk 4

Die hoofstuk toon weer Erlank se wanbegrip. 'n Grietjie Swiegers in graad 1, wou sonder toestemming ( 'n vrywaringsbriefie geskryf deur die ouer) winkel toe gaan. Haar mamma was die oggend te besig om 'n brief skryf, maar sy het darem 'n trippens vir die lekkergoed gekry as bewyse. Sy wou toe by Doep weet waarom sy nie winkels toe mag gaan nie, sy het mos die tiekie. Doep verduidelik vir die kind baie mooi van die gevare van motors, en Grietjie vra toe of die onderwyser dan nie maar vir haar die lekkergoed kan gaan koop nie, as dit dan verbode is. Maar hand aan hand is hulle twee oor die pad, en Grietjie het ook een lekker vir Doep gegee, uit dank.

By die hoor van die nuus in die personeelkamer, is die briefie vir Erlank 'n onontbeerlike saak, want dit vrywaar die skool van verantwoordelikheid in geval van 'n ongeluk.

Doep kan nie insien hoe 'n brief 'n kind se veiligheid kan verseker nie; en Doep self was nou die briefie, omdat hy haar vergesel het.

In die klas is Het maar nors oor haar opgelegde straf. Om haar van haar venyn te laat ontslae raak, bied hy Het die kans om haar gedig eerste op te sê, want gewoonlik leef sy haar intens in haar voordrag in. Maar nou is dit sonder vuur en passie.

Het vra ná afloop van haar snedige opmerking in die Aardrykskundeklas teenoor 'n klasmaat of sy die klas kan verlaat. Sy bly besonder lank weg, en toe sy terugkeer, is daar 'n vonkeling in haar oë.

'n Vrugtekassie se plank met 'n spyker na bo, is begrawe reg by die hoof se voertuig se agterwiel. Die band sou eenvoudig net moes begin lek het. Die busbestuurder, Oelofse, het haar doen en late opgemerk en aan die hoof gerapporteer. Vir Erlank het hul hier met 'n geharde jeugmisdadiger te doen.

Erlank laat Het se pa haal. Dié daag soos 'n verskrikte muisie op. Volgens Doep sou dieselfde pa wat nie sy dogter vir “honderd pond” sou verkoop nie, haar nou vir 'n sikspens laat gaan. Floors se verweer oor sy kind se gedrag is dat hy 'n sieklike mens is; sy dogter is van die duiwel besete.

Vir Erlank is gesag byna iets goddelik taboe: sy moet leer daar is iets soos gesag waaronder 'n mens moet buig. As selfs die grootmense daaronder moet buig, dit is nou van werkgewers, die staat en die kerk, wie is sy dan dat sy nie gesag wil erken nie? Erlank vra vir Floors om sy dogter met die rottang voor hom te slaan, want volgens die tugprosedure mag hy as hoof nie dogters lyfstraf toedien nie.

Doep kan geen sin daarin sien om as getuie op te tree nie (en ook omdat hy weet Erlank probeer hom, wat Doep is, vermaak), en trek die kantoordeur agter hom toe.

Die hoof was ook so oorgretig om reg en geregtigheid te laat geskied, dat hy skoon van die spyker by die wiel vergeet het. Doep doen aan die hand Het het nou die kans om die kwaad en wrewel van vroeër ongedaan te maak, deur die hoof nóú te waarsku. Sy weier. Sy wens haar pa en die hoof kom albei iets oor. Doep is maar die een wat Erlank keer. Die wrede pak slae van haar pa het niks teen haar verset gedoen nie, weet Doep.

Hoofstuk 5

Vir Doep vereenvoudig Erlank die saak; laasgenoemde wil net haar verset breek en dink die saak sal dan afgehandel wees. Maar, toegegee, voorheen was Het se verset nog nooit so sterk nie. Doep is in sy hart spyt dat hy nie, omdat hy immers haar klasonderwyser is, meer vir haar kon gedoen het nie. Nou het Erlank die hele aangeleentheid uit sy hande geneem.

Doep gaan spreek Erlank in sy kantoor, en sit Het se huislike omstandighede uiteen. Erlank vra waarom daar nie voorheen “diagnosties en remediërend” opgetree is soos Doep nou voorstel nie, waarop Doep antwoord Het was nie voorheen in sy klas nie, en sy begin nou eers werklik hand uitruk.

Erlank glo in Boeresielkunde, nie pap sielkunde nie: sy moet kortgevat word, geleer word dat die lewe eise stel en dat mens óf gehoorsaam, óf ondergaan. Doep glo sy moet geleer word waarom selfbeheersing en dissipline in die eerste plek belangrik is. Doep word mooi gevra om as klasonderwyser die hoof nou in sy saak te ondersteun en nie te ondergrawe nie – Doep moet bloot net nou sy medewerking gee. As sy metode nie slaag nie, sal die sielkundige diens ingeroep word, en Het verwyder word na 'n spesiale skool vir gedragsafwykende kinders.

Doep voel, na afloop van die gesprek, en ongeag die goeie verhouding nou tussen hom en die hoof, nie tevrede nie. Niks hiervan sal vir Het help nie. Dit moet tog in belang van die kind wees, nie die volwassene nie.

Het is ekstra nukkerig. Hoewel sy haar in die klas gedra, maak sy 'n aaklige gemors van haar werk. Doep vra watter soort huisvrou sy eendag gaan wees, want soms werk sy pragtig, en dan weer so liederlik. Hy vra haar om die werk oor te doen.

Het bly tydens pouse in die klaskamer, soos die hoof beveel het, en Doep keer voor die einde van die pouse terug, waar sy in haar bank sit en voor haar uitstaar.

In die hoof se kantoor het 'n inkpot omgelê wat al die dokumente ter tafel beklad het. Erlank roep sonder meer vir Het in, en vra dat sy haar skuld moet beken, want sy “is gesien”. Het antwoord nie, wat Erlank as astrant ervaar, en die hoof haal die rottang uit en slaan haar oor haar bene.

Die volgende dag gaan Het nie skool toe nie. Sy vra haar boetie om te sê sy is siek, maar Erlank het by die busbestuurder verneem sy het agter 'n boom by die bushalte geskuil. Erlank gaan haal vir Het, dis duidelik dat Erlank haar wil leer dat die lewe mens vasvat wanneer jy nie “by die algemene patroon inval” (dus: konformeer) nie.

Floors Heiberg vra waarom sy kind geslaan is. Die antwoord: om haar op te voed, soos Floors die vorige dag self gedoen het. Heiberg sê, dit was omdat hy gedwing is deur die hoof om dit te doen. Erlank sê hy is hier om Het te kom haal, en Heiberg sal met die skoolbesoekbeampte te doene kry as hy sy kind sterk in haar stokkiesdraaiery.

Op kantoor gee hy haar drie harde houe oor elke hand met die rottang. Hoe meer sy rebelleer, hoe meer sal sy haar in 'n muur vasloop. Kom sy wel tot insig oor haar dwaasheid, sal hy die eerste wees wat sy hand van vriendskap uitreik.

Volgens Doep het drie pakke binne drie dae nog nie van Het 'n ingebreekte jong perd gemaak nie; haar ken is trouens nog hoër as die vorige week. Erlank se metode werk nie. Maar Erlank voer aan as mens konsekwent optree, sal sy nie kan volhou nie; hy is egter in dieselfde asem net bevrees dat sy later so aan lyfstraf gewoond sal raak dat dit geen effek sal hê nie. Vir Doep werk lyfstraf in elk geval nie by haar nie, want sy word voortdurend by die huis geslaan.

Wat Doep wel pla is of so baie slae van die hoof nie self strafbaar is nie. Erlank meen Floors Heiberg is te armsalig om iets aan die saak te doen. Doep vra, gegewe die Departementele regulasies wat lyfstraf op dogters ten strengste verbied, sal hierdie straf dan in die strafboek aangeteken word? Waarop Erlank nee antwoord, want dit sal hom nie as beskerming dien nie; maar hy verseker Doep dat dit in belang van die opvoeding en nie eiebelang is nie.

Doep vra Erlank reguit of hy dieselfde straf op bevoorregte meisies sou toegepas het met ingeligte en invloedryke ouers. Die antwoord: sy kantoor is nie 'n veilige vesting vir stout kindertjies nie. Hy probeer regverdig en beslis wees. In die tanende Westerse wêreld is manne van murg en bloed nodig – een van daardie beginsels is om die kind gesag te leer ken.

Floors het, teen alle verwagtinge in, Erlank by die inspekteur gerapporteer.

Hoofstuk 6

Twee inspekteurs van die Provinsiale Administrasie besoek die skool. Doep en die een inspekteur is mekaar goed bekend en verkeer op goeie voet. Redelinghuys kom klasinspeksie doen en almal in die klas gee hul samewerking. Die inspekteur is beïndruk met die toon en dissipline van die klas, asook die seldsame, ongedwonge spontaneïteit. Iets waaroor Doep maar te dankbaar is, want nou hoef hy nie sy opvoedkundige filosofie aan te pas nie.

Redelinghuys verneem vertroulik by Doep oor Erlank. Doep is egter besonder huiwerig om dislojaal teenoor die hoof te wees, al is die versoeking groot en die geleentheid daar om die man wat tussen hom en sy hoofskap van Verlangekraal gekom het, met net 'n paar woorde uit die weg te ruim.

Nou sê Redelinghuys Erlank was vantevore oor dieselfde storie in die sop. Ondanks sy goeie akademiese kwalifikasies kan Erlank nie 'n verantwoordeliker pos aangebied word nie. Doep is verontwaardig oor die skool Verlangekraal dus soos 'n stuk oorskiet behandel word. Redelinghuys sê dit is omstandighede buite sy beheer; hý het egter 'n goeie woordjie vir Doep gedoen, en hom as nuwe hoof by die skool voorheen aanbeveel. Die staat het wel anders besluit.

Doep skerm egter vir sy kollega: hy noem onder meer dat die klaer, die vader, die kind self 'n loesing in die kantoor gegee het – wat beteken daar moes tog 'n geldige rede daarvoor gewees het. Floors het ook nie aan die inspekteur genoem hoeveel pak die dogter tuis kry nie. Die inspekteur sê egter dat Het tog gehoorsaam in die klas was (hy het haar tersluiks dopgehou), en haar werk wat hy gesien het is puik. Waarom sy hierdie slaafse behandeling kry, gaan sy verstand te bowe. Doep verskil van die inspekteur en wys hom ook Het se “laagtepunte” (klaswerk). Die inspekteur is stomgeslaan.

Soos die gesprek vorder, vra Redelinghuys of Erlank hom soos 'n dier (“bees”) gedra het. Doep skerm weer: die kwaadwilligheid is van Floors Heiberg se kant af. Hy het kwaad gaan stook met die genot voor oë om te sien hoe 'n bevoorregte tot 'n val kom. Doep gaan selfs sover om te sê Erlank het dit uit heilige oortuiging gedoen; Het is geslaan alleen met die wete dat hy homself in die gevaar stel, omdat hy geglo het hy doen die korrekte ding; en hy was konsekwent in sy optrede. Erlank het, volgens Doep, baie gewaag om die kind van haarself te red. 'n Mens kan nie sonder straf in die gemeenskap net maak soos jy wil nie. Erlank is, in daardie opsig, 'n soort tragiese held in sy beroep.

Redelinghuys is nie beïndruk nie. Militêre dissipline kan nie op alle kinders toegepas word nie; die straf moet by die oortreder aanpas. Erlank is skuldig. Maar, Redelinghuys het so 'n spesmaas gehad dat die vader verskuilde kwaadwillige motiewe gehad het. Daarom het hy nie Floors reggehelp om die klag op skrif op die korrekte, formele wyse in te dien nie.

Redelinghuys sê grappig Doep is 'n lojale huigelaar, teen sy eie beterwete in. Hy vra ook wanneer Doep weer aansoek om hoofskap elders doen. Doep voer steeds aan dat hy in Verlangekraal geroepe voel en daar sal aanbly. Redelinghuys vergelyk 'n groef en 'n graf met mekaar; daar is net 'n verskil in diepte.

'n Paar dae later bedank Erlank vir Doep; Erlank was onder die indruk Doep haat hom oor die hoofskap. Doep sê egter dit is tegnies gesproke Redelinghuys wat die saak gesmoor het. En Erlank prewel: “En ek het nog altyd gedink ek staan alleen.”

Hoofstuk 7

Dit is reeds die tweede kwartaal. Hoewel Het nie 'n nuwe blaadjie omgeslaan het nie, is sy heelwat rustiger sedert die inspeksie verby is. Hoewel die uitkoms van die hoof 'n soort geheimsinnigheid en afwagting inhou wat haar stilhou, is daar ook die korfbalseisoen om haar aandag af te lei.

Doep gee Het ook meer verantwoordelikheid in die klas, wat haar selfvertroue behoort te voed. Hy maak Het dus verantwoordelik vir die skoolbanke se netheid in die ry waar sy sit. Nietemin het sy die een kind geklap omdat dié nie 'n papiertjie wou optel nie. Pligsversuim, slordige werk, soms vloektaal is ook nie uitgesluit nie. Maar niks besonder drasties nie.

Mevrou Potgieter en mevrou Buys (susters) kom persoonlik om die saak teen Het nou finaal uit te klaar, aangesien die skriftelike klagte wat by 'n vorige geleentheid ingedien is, nie die gewenste vrugte afgewerp het nie. Mevrou Potgieter se dogter, Mientjie, word steeds getreiter op die bus, en mevrou Buys se dogter, Hermina, moes vir haar niggie in die bres tree.

Blykbaar soek Het doelbewus skoor, om die lydende martelaar te wees (sy sal iemand beskuldig dat daar aspris op haar toon getrap is) en dan begin baklei. Vloek, krap, klappe wat uitgedeel word, hare wat rondgepluk word. Die busbestuurder vind dié kattegeveg heel komies en stel voor hulle sit die saak op vaste aarde by die bushalte voort, wat natuurlik baie omstanders trek.  Natuurlik is dit Het wat triomfantelik weer seëvier.

Nadat ondersoek ingestel is, is die busbestuurder groot in die moeilikheid en Het word voortaan verbied om tot teen die einde van die daaropvolgende week op die bus te klim; daarna kan sy om verskoning vra en weer bus ry. Doep wens sy kollega geluk met sy strafkeuse, hoewel Erlank erken hy was op die punt om Het weer te gryp.

Hoofstuk 8

Doep wil nie eintlik hê dat dinge sover moet vorder dat Het moet weggeneem word nie. Dit sal wys die onderwysers was te swak; dit sal die kwaad in Het meer laat geld as haar goeie, en by die nuwe skool is die oorheersende groep daardie kinders wat onstandvastige en ontwrigte lewens lei. Glad nie goeie rolmodelle vir Het nie. 'n Skrander kind met soveel potensiaal gaan dus tot niet.

Het probeer in Doep se klas opsetlik afstootlik wees, en weens haar wangedrag stuur hy haar uit die klas uit; sy moet maar buite gaan wag tot hy haar terugroep. Sy gaan reguit huis toe, betrek haar vader Floors, en lieg vir hom dat Doep haar summier weggejaag het. Dit sê sy met smaak voor die klas. Haar pa het haar teruggestuur klas toe, onderwyl hy die saak uitklaar met meneer Erlank.

Die klas, ongeveer 40 getuies, ondersteun almal vir Doep – dit is nie wat hy gesê het nie. Doep jaag haar weer uit die klas uit – want hý, die onderwyser, is in bevel van sy klas, nie haar vader nie. Buitekant kan gehoor word hoe 'n vloekende Floors al nader kom. En Doep dwing Floors hardhandig terug kantoor toe. Wat volg is 'n onaangename en onsmaaklike woordewisseling en leë dreigemente. Wat alles neerkom op Floors wat griewe teenoor 'n samelewing dra wat meer bevoorreg is as hy, maar te lafhartig is om sy eie foute te erken. Het trap in dieselfde spoor as haar pa, dit is duidelik.

Heel vermakerig sê Floors hy sal sy kinders uit die skool haal en by Riaslaagte inskryf, want hy dink dit sal die onderwysers se salarisse verminder, heeltemal onwetend dat dit die reël 60 jaar tevore in Transvaal was, en nie meer in die 1950’s geld nie – die salarisse word nou deur die staat vasgestel.

Toe Floors daar weg is, dink Doep aan die vermetelheid. Dit was dieselfde Floors wat 'n jaar tevore trane van dankbaarheid gestort het omdat Doep die Volkswelsyn oorreed het om 'n ongeskiktheidspensioen maandeliks aan sy vrou te laat uitbetaal. Dit het natuurlik beteken dat Floors nou na hartelus kan leeglê en net moeilikheid vir ander kan veroorsaak. Doep wou bloot 'n reddingsdaad verrig, en nou kry hy dié stank vir dank.

Maar op een puntjie het Floors Heiberg gelyk – een personeellid kan nie meer langer behou word nie.

Hoofstuk 9

Die volgende dag is al die Heibergs weer terug by Verlangekraal. In 'n brief vra die moeder nederig om verskoning vir Floors se onbesonne gedrag. Sy is tevrede met die skool en ook dat Het haar straf uitdien. Erlank het die Heibergs net so teruggeneem.

Tydens die skoolkomiteevergadering is almal woedend oor Floors se optrede, veral voor die ander skoolkinders.

Teenwoordig by die vergadering is Sias Pienaar, die boer op wie se grond die Heibergs woon. Hy wil hierdie klomp summier van sy werf af hê – hy kan nie met sulke onnosel mense opgeskeep sit nie. Floors en sy huis moet die volgende dag padgee.

Oom Christiaan Brits werp teë: wat dan van die skool? Die skool is op die spel. Brits wei onder meer uit hoe hy as kind by Verlangekraal skoolgegaan het, die skool sien groei het, hoe sy eie kinders in dieselfde gebou skoolgegaan het. Om die grootste gesin weg te stuur, sal die skool net verder aftakel, en die toekoms van die skool is juis in die gedrang. Daar moet aan die skool se voortbestaan gedink word.

Sias jaag egter die Heibergs van sy plaas af. Hy wou dit eintlik lankal gedoen het. Doep dink egter weer aan al die onplesierige ontwrigting van die kinders wat weer by die kantoor moet wag vir hul oorplasingskaartjies.

Ongeveer tienuur het Het haar opwagting in die klas gemaak, wat Doep dink maar net 'n manier was om te kyk of die onderwysers nie spyt het om hulle haar verloor nie; 'n manier om haarself op 'n soort vermakerige wyse te laat geld, hoe pateties dan ook.

Oom Brits bied 'n deel van sy plaas as woonplek vir die Heibergs aan. Hy bied onder andere weiding, die reg om hout te kap en te verkoop en ander byvoordele aan. Dit kom daarop neer dat Floors en sy gesin feitlik heeltemal gratis daar kan woon (alles ter wille van die skool).  

Die volgende dag was Het weer terug op haar gewone plek in die klas, en glad nie so sprankelend soos toe sy kom groet het nie.

Maar Het wen tóg dié rondte weer: sy ry nou met die Bultfonteinbus. Vroeër moes sy drie myl loop, as straf. Nou is ses myl bietjie onmenslik. Maar dit lyk geensins of Het hierdie toegewing waardeer nie, en Erlank dink sy glo hy het weer sag geword.

Dit is onduidelik of Het se drang om haarself te laat geld, of om die hoof se dreigemente te tart, die oorsaak was, maar op die Bultfonteinbus begin sy onder meer skoorsoek met Hettie Swanepoel. Het is voortaan deur Hettie en haar vriende geïgnoreer, met die gevolg dat Sannie Ehlers lieftallig betrek is, omdat die onmin wat sy vir haarself op die hals gehaal het, nie meer so lekker is nie.

Toe Sannie by Het wou gaan sit (voor, waar die busbestuurder 'n ogie oor Het kon hou, omdat sy haar vantevore wangedra het op die bus), dwing die busbestuurder sy gesag af, waaroor Het natuurlik suur is. Het voel veronreg oor Hettie Swanepoel en haar maats wat haar “soos die pes” vermy, en daardeur verstoot voel.

Die koue oorlog op die bus woed verder voort op die skoolterrein en later in Doep se klaskamer. Die inkpot wat Het doelbewus omgestamp het (deurdat Het in 'n liniaal vasgeloop het wat Het ongemerk so gestel het) was die laaste druppel aan die emmer. Doep is briesend – hy het alles gesien.

Hoofstuk 10

Doep gebied vir Het om die klaskamer op te ruim. Binne daardie tien minute, toe hy tydens sy pouse tee gaan haal het, saai Het soos 'n besetene verwoesting in die klaskamer.  Sy muurversierings, waaraan hy so hard gewerk het, is verwoes. Doep loop eers 'n draai om die skool om aan 'n oplossing te dink en sy humeur te temper. Om teen Het uit te vaar sal niks help nie. Môre sal sy net weer wraak neem.

Besadigd gaan sit Doep by sy tafel en hy gebruik die metafoor van die steeks donkie en die os wat nie die span wil help trek nie. Vanselfsprekend verwerp die span die donkie of die os.

Maar uit Het se oogpunt haat almal haar, hulle straf haar, hulle slaan haar of hulle spot haar. Sy hou vol daarmee dat almal haar haat. Ook Doep wat maar maak of hy vir haar omgee.

Doep probeer haar anders oortuig, en haal die verslagboek uit wat aan die inspekteur gerig is, waar daar geskrywe staan:

Die geheelindruk wat Het Heiberg maak is dat haar huislike agtergrond veel te wense oorlaat en dat daarin waarskynlik die oorsaak gesoek moet word waarom sy so dikwels in verset is. Nogtans het ons hier te doen met 'n dogter met groot moontlikhede, knap in sport, helder van verstand en met die gawe om harte te steel as sy haar wil toelê. Indien sy verstandig gelei en haar volle samewerking verkry kan word, kan sy groot hoogtes bereik.

Daarna verduidelik hy baie mooi hoe haar toekoms in 'n verbeteringsinrigting lyk, en watter vryhede en voorregte sy alles sal verbeur.

Doep besluit om Het nie die pak te gee wat sy wil hê nie. Hy verduidelik eerder hoe hy alles nou moet regmaak. Het huil oor die genade wat sy nie ken nie.

Doep sê Het is nie sleg nie, sy voel net bitterlik jammer vir haarself. Sy wou nooit insien dat sy iets verkeerd gedoen het nie. Sy gee almal die skuld, maar nie haarself nie. As sy haar seëninge en eie foute en gebreek tel, of net daaroor wil praat, help dit klaar baie. Mense wat ander leed aandoen, kan nie blywende vreugde vind nie. Net soos jy nie elke blom wil stukkend breek wat jy teëkom nie, maar juis wil bewaar omdat dit vir jou en ander mooi is. Ander mense gee iets moois, of dit nou is deur te werk en die land op te hou, om siekes te versorg of eensames te besoek, of maak iets moois soos geboue, skilderye, tuine en gediggies.

Hoewel mense miskien vreugde daaruit tydelik put om ander mense leed aan te doen, is die ander alternatief ook daar: om vreugde daaruit te put deur te gee, op te offer en iets van jouself te gee.

Om daardie rede gee Doep vir Het nog 'n kans.  Hy wou Fengo, die skoonmaker, laat haal om die klas skoon te maak, maar Het keer.

Sy deel vir Doep ook mee dit was nie sy wat Erlank se inkpot omgegooi het nie. Sy was die pouse eenvoudig nie uit die klas nie. Sy het egter nie die hoof reggehelp nie, want hy sou haar in die eerste plek nie glo nie, en in die tweede plek wou sy hom ook nie reghelp nie. Doep verstaan ook, omdat sy onskuldig gely het, het dit haar wraak net soveel soeter gemaak.

En toe kom Erlank die klaskamer binne en sien in watter toestand die klaskamer is.

Hoofstuk 11

Doep en Erlank sit die gesprek in die kantoor voort. Erlank voer aan Doep is die bespotting van die onderwys. Erlank dreig om die inspekteur te bel as hy vir Het nie vir 'n loesing na die kantoor toe roep nie. Sy siening is: Doep het homself aan 'n jeugmisdadiger uitgelewer. Maar Doep sien dit gans anders: 'n pak het nie die vorige keer gewerk nie, waarom sou dit nou? Albei kollegas is buitendien met 'n delikate eksperiment besig en 'n stampie kan die spreekwoordelike retort bokant die vlam laat ontplof.

Na middagete tref Doep vir Het in die klaskamer aan. Sy is besig met opruimwerk. En sy help Doep ook om nuwe muurversierings te maak.  Het is besonder gretig om die skade te herstel. Doep laat Het alleen om haar nie die genot van kompensasie te ontneem nie. Het wil ook 'n prentjie van Van Riebeeck vasplak en die ander leerlinge die volgende dag aanmoedig om ook prente te bring (al pas die illustrasie nie eintlik by die leerplan nie, en al het Doep eintlik twee van daardie almanakke).

Doep neem Het na sy huis toe, vir 'n bietjie koffie. Mart stuur Het solank om met hul seuns te speel, en Doep vertel vir sy vrou wat hy sover met Het vermag het. Mart is versigtig-optimisties, maar sy voel so jammer vir Het, dat sy 'n paar toebroodjies vir die kind maak, met koue vleis en kaas.

Toe Het op die plaas afgelaai is, brom haar pa sy het werk by die huis om te doen. Doep bied nog verskoning aan, maar dit is sy vrou, Mart, wat voorstel dat Het elke Saterdag by die Du Plessis’s kan bly, om kinderoppasser te speel, teen betaling natuurlik. Dáárvoor is Floors heeltemal te vinde.

Dit is eintlik ook twee vlieë met een klap: Saterdagmiddae kan die Du Plessis’s rustig gaan tennis speel, terwyl Het 'n ander lewe leer ken, sonder om op Saterdae soos 'n slaaf vir Floors te werk.

Hoofstuk 12

Die Saterdag is 'n reusesukses. Die radio is vir Het aangeskakel, sy is laat bad, 'n rokkie is vir haar gemaak, en Het probeer hard om almal tevrede te stel. Geleidelik is sy tafelmaniere geleer, en Het het die seuns die grootste plesier verskaf.

Daar ontstaan wel die volgende week in die klaskamer 'n onderonsie oor 'n blompot en 'n gompot. En die tipe blomme wat rangskik word. Het se droë veldplantrangskikking pas egter nie by die pot nie, wel 'n ander dogter se tuinplante s’n. Doep leer Het hier die Goue Reël: moenie aan ander doen, wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Sy moet leer om te dink hoe ander mense dink en voel.

Pas ná speeltyd bring Het vir Doep 'n staaf sjokolade. Teen die skoolreëls, in die klas, maak hy die sjokolade voor haar oop, kou 'n blokkie en bied haar ook aan. En daarna gee hy alles vir haar terug, sodat sy die sjokolade met haar boeties en sussie kan deel.

Maar Erlank verskyn kort daarna en ontbied Doep en Het na sy kantoor. 'n Klagte is ingebring dat Het die sjokolade gesteel het. Het beken skuld.

Vir Erlank is dit water op sy meule. Sarkasties sê Erlank dat Doep 'n medalje aan Het moet gee. Sowel Doep as Erlank is woedend vir mekaar.

Doep probeer Erlank wys daar is vordering, wat Erlank dadelik op die verergering van diefstal wys, iets wat ononderhandelbaar vir hom is.

Maar Doep hou vol: vroeër sou Het haar diefstal ontken het. En die motief het ook verander – sy wou dankbaarheid betoon het. Sy het nie aan haarself gedink nie. Sy het dit goed bedoel. Verder moet hierdie kind van voor af geprogrammeer word. Sy weet nie van beter nie. Het het 'n agterstand en word nou onregverdig met 'n dubbele maat gemeet.

Erlank hou vol diefstal is diefstal – en hy is op die randjie daarvan om haar pa te bel, uit wraak omdat Floors vir Erlank by die inspekteur aangegee het.

Hy gee Doep nog een kans, en maak geen geheim daarvan dat die lus by hom oorweldigend is om sy “hande aan haar te slaan” nie.

Hoofstuk 13

Het het Doep se motor gewas om vir die sjokolade te vergoed. Sy het dieselfde meisie weer probeer vergoed deur 'n tamatie uit haar eie tuin te gee, waarvoor Het die hardste gewerk het om dit te kweek. Te midde van die dankbaarheid, is alles op 'n mespunt: Doep weet die tyd loop uit. Doep wéét intuïtief Erlank sluit doelbewus sy oë vir die vordering van die kind, omdat sy professionele eer en beeld op die spel is. Sy eie optrede was 'n mislukking, en daarom sal Doep se eie mislukte poging hom heelwat leedvermaak verskaf.

Erlank raak die afgelope tyd ook vitterig, hy praat, hy teoretiseer en verlang die maksimum doeltreffendheid, maar sien nie die geheelbeeld raak nie.

Het probeer intussen haar bes, en ook die kinders sien die verandering en verbetering in haar karakter raak. Sy word nou betrek en orals ingesluit. Het ken nou 'n ander wêreld as die aantasting van haar regte, die armoede, busbakleiery – sy kan nou haar kameraadskap, hulp en oorspronklikheid vir ander aanbied.

Ongelukkig het haar kitsoplossings altyd iewers 'n stertjie agterna.

Om Doep te help om Sampie se rookgewoonte af te leer, het sy in Sampie se benoudheid oor 'n Engelse resitasie vinnig met 'n plan vorendag gekom. Sy slaan 'n dubbele slag: sy’t Sampie laat belowe dat hy moet ophou rook, en sy’t aangebied om sy boek agter teen haar rug te sit en sodat hy die resitasie kon aflees. Doep wys haar daarop dat sy verkeerd gehandel het, maar die onderwyser verstaan ook weer sy het goeie bedoelings gehad.

Toe Jannie (Doep se oudste seun) se terriër doodgery is, het Het vir haar vader gelieg dat hul twee kapokhoendertjies wat hy wou verkoop gesteel is, en vir die Du Plessis-kinders die hoendertjies gegee. Toe Het 'n pak by haar vader hieroor ontvang, het Doep besef Het het die geheim ontdek “om ryk te voel deur op te offer”.

Maar daar was 'n woordewisseling tussen Hettie Swanepoel en Het Heiberg. Buiten die neerhalende woorde wat Het kon verduur, is Doep van favoritisme beskuldig. Oor laasgenoemde wou Heiberg vir Swanepoel bydam. Scheepers (wat op terreindiens was) het amper die aap uit die mou gelaat in die personeelkamer, maar buitekant vertel Doep vir Scheepers die ware toedrag van sake: Het se toekoms by die skool hang aan 'n baie dun draadjie.

Hoofstuk 14

Die inspekteur wou via Erlank hoor of Doep daarvoor sou kans sien om vir ses maande by die Sonskynskool te wil waarneem. Doep skakel sy vrou, en Mart sê eenvoudig dit is sy besluit. Doep besluit om nie te gaan nie. Die hoof vind Erlank se redes skoon kinderagtig. Op die vraag waarom Erlank nie die hoofskap dan aanvaar nie, word geen rede gegee nie. Daarop sê Doep kalm: “Vergun my dan om aan u op my beurt, met permissie, te sê u is skoon kinderagtig.”

Hoofstuk 15

Die hoof verkeer onder die indruk Het draai stokkies, want die busbestuurder verneem sy is nie siek nie. Doep stel onmiddellik ondersoek in.

Anna Heiberg gooi haar armoede voor en sê sy weet van baie mense wat dae lank hul kinders uit die skool kan hou, maar op hulle word daar gepik. Floors lê weer olik, die jongste kind is siek en daar is ook kuiergaste. Hoewel Het heftig teëgestribbel het dat sy wou skoolgaan, het haar ma besluit sy gaan skool toe omdat sy te lui is om by die huis te help.

Doep weet egter dat wanneer die Volkswelsyn se toelaag aan die begin van die maand uitbetaal word, dan kom 'n hele spul leeglêers kuier, en die voedselgeld word dan net so op die kuiergaste vermors. Doep het ook gerugte gehoor dat Floors by die naturellestatte hul bier drink. Omrede dit apartheid is, en 'n Indiër (toordokter) huisvesting verskaf word en op die kombuisvloer slaap (en die kinders ook), kan die gesin verder in die moeilikheid kom.

Doep is briesend kwaad omdat hy vir die gesin 'n toelaag by die Volkswelsyn help kry het, en dreig om dit onmiddellik stop te sit as die kinders nie na behore versorg word nie.

Erlank word oor alles ingelig. Die plaaslike kantoor van die Volkswelsyn is geskakel en meneer Duvenage en een van sy klerke word ontbied om dadelik ondersoek in te stel. Die Heibergs het net 'n waarskuwing gekry, waaroor Erlank bitter diep teleurgesteld is. Volgens Volkswelsyn is daar gevalle wat veel erger is. Doep is hieroor woedend:

En omdat dinge op ander plekke nog slegter is, reken julle dis nie nodig om hier in te gryp nie! Julle laat oogluikend toe dat die mense van slegtigheid verhonger, dat geld waarmee kos gekoop moes word op soet wyn en kruiedokters en Slamse uitgemors word, dat mense soos diere in onhigiëniese omstandighede saamgehok word, dat kinders verwaarloos word, dat groot meisiekinders saam met 'n Indiër in een huis op die vloer moet slaap. En dan kom vertel jy ons dat toestande elders nog swakker is en dat julle daarom nie kan ingryp nie!

Doep besef nou eers hoe groot sy verantwoordelikheid is om Het ten minste deur matriek te kry, of ten minste in 'n goeie werkkring te kry. Om haar uit haar omstandighede te help ontsnap. Enigiets sodat sy net weg van die ouerhuis 'n nuwe lewe kan begin.

Doep het ook 'n geleentheid wat geadverteer is in die koerant gebruik om iets vir Het te doen. Die agt behoeftigste leerlinge van 'n skool kan uitgekies word om twee weke by die kus te gaan vakansie hou.

Oom Christiaan Brits het Dawie Swiegers genomineer, wat Doep egter beskou as die seun van 'n amptenaar met 'n redelike goeie inkomste; die seun was ook al by die see, geniet voorregte en is boonop goed opgevoed.

Brits hou vol Dawie se pa, as amptenaar, word te min betaal. Dawie se gedrag is bo verdenking, en die skool se naam is immers op die spel.

Erlank, vind, net soos 'n paar onderwysers, die voorstel van Het ondenkbaar. Die skandvlek sal wys. Doep wys dadelik daarop dat Erlank die afgelope twee maande geen wangedrag van Het opgemerk het nie, en omdat sy Saterdae by die Du Plessis’s deurbring, word sy ook opgevoed.

'n Onderwyseres en Scheepers stem hardop met Doep saam, maar Oom Christiaan hou voet by stuk dat Het Heiberg die skool se naam in die skande sal steek.

'n Onderwyseres spreek die kommer uit dat Het moontlik so ontnugter sal word by die tuiskoms dat sy nie langer daar wil bly nie. Sy sal dan éérs gefrustreerd wees.

Scheepers meen egter dit sal Het se strewe om te verbeter juis aanvuur. Sy moet eers die kontraste leer ken.

Nou sê Erlank weer Het word te veel gepamperlang, en sy sal later glo sy moet altyd vir haar goeie gedrag beloon word.

Doep kry egter die laaste hou in: die organiseerders moet dan ingelig word waarom die kind wat die seevakansie die nodigste het, nie kan gaan nie. Dit gaan immers oor die agt kinders, en nie om die skool nie.

Doep en Mart, asook die plaaslike tak van die Vrouefederasie, en andere, het gretig gehelp om Het met die regte klere uit te rus.

Doep het wel die organiseerders vooraf omtrent Het ingelig en gevra dat hulle aan hom 'n verslag moet stuur van haar gedrag en haar aanpassing in die vreemde.

Hoofstuk 16

Met Het se terugkeer van die see is die verslag van die organiseerders besonder vleiend; sy het haar knap gedra en was die toesighoudende personeel baie behulpsaam. Oor die algemeen was Verlangekraal een van die gaafste groepies wat die reis meegemaak het.

Scheepers glo egter te midde van die vooruitgang dat die kind nou dubbele aandag moet kry, veral omdat sy nou vol energie is, en moontlik frustrasie tuis sal ervaar.

Het beland egter die daaropvolgende weke glad nie in die kantoor nie.

Die stryd was lankal nie meer 'n stryd tussen Jan Erlank en Het Heiberg nie. Doep het nou begin besef Het is die simbool van die vendetta wat tussen die hoof en die onderhoof van Verlangekraal gewoed het:

'n Onseker hoof, wat glo Doep verag hom omdat sy posisie voor hom weggerokkel is;
Iemand wat bang is vir Doep se invloed in die omgewing; en wat dus sy gesag orals laat probeer geld
Boonop was Doep se eksperiment so suksesvol, dat Erlank verneder gevoel het in sy rol as opvoedkundige. Sy insigte en opvattings omtrent streng dissipline wat enduit gehandhaaf moet word sal voor die einde van die skooljaar deur die onderwysers bevraagteken word. Het verlaat teen die einde van die jaar Standerd 5, wat beteken daar is nie meer veel proeftyd oor om Du Plessis se stellings te weerlê nie.

Dit is nou maar net die ongeluk dat Het hierdeur geraak word, bloot omdat Doep vir haar regte begin opstaan het. Was dit nie Het Heiberg nie, sou iemand anders die twispunt gewees het. Doep is ook daarvan oortuig dat Erlank maar te dankbaar sal wees as Het weer na haar ou weë terugkeer, net om vir Doep 'n punt te bewys.

In die lentetyd wat aanbreek word 'n skoolfunksie gereël en die Standerd 5-klas beplan om Mabalel van Eugène Marais op te voer. Oom Brits is maar bekommerd oor Doorsie se rol – vir Doep gaan dit egter oor die deelname; buitendien is dit maar kindertjies wat hul bes doen.

Skoolinspekteur Redelinghuys deel by die funksie die hoof mee daar is vas besluit dat Doep sy hoofskap by die Sonskynskool met ingang die vierde kwartaal begin. Dit is tans twee maande sedert Doep die ageertyd van die hand gewys het.

Die aand verloop seepglad. Het Heiberg dra Makoemazaan van A.G. Visser voor, Doorsie vermaak daarna die toeskouers.

Die opvoering van Mabalel, die hoogtepunt, word effens gefnuik toe daar, op die spannendste oomblik, in stede van die reuse opgestopte krokodil, 'n pieperige, opgestopte waterlikkewaan bokant die riete uitgelig word, met die hand en voorarm van die persoon wat die reptiel hanteer selfs duidelik sigbaar. Die skare het geskater van die lag.

Byna profeties en swanger van betekenis kom die slotwoorde van die Marais-gedig uit Het se mond: “terugkeer sal sy nimmermeer”.

Aanvanklik is Doep kwaad, maar koel gou af, en erken die grap was uiters geslaagd.

Erlank voel veronreg, en verneder, omdat hy by die inspekteur gespog het oor die opgestopte krokodil. En net daar is hy siek en sat vir Doep se voorpratery vir die kind.

Die volgende oggend gee Erlank vir Het op kantoor nie eens kans om te verduidelik nie, en gaan haar te lyf. Hy klap haar, en nog 'n keer. Doep spring op om hom te keer. Het het sleg geval, met haar mond en neus teen die kant van die lessenaar, met die bloed wat vryelik gestroom het. Doep kry die noodhulpkissie en Erlank die warm water. Het verlustig haar weer, soos weleer, in haar martelaarsrol. Doep het haar huis toe geneem, en probeer vir sy kollega se optrede skerm by die ouers.

Tuis vertel Het presies wat gebeur het. Met oorgawe. En haar vader gaan, op die oorlogspad, op sy kruistog opsoek na bloed en vergelding, by Oom Christiaan Brits aan, die voorsitter van die skoolkomitee. Ná die konfrontasie op kantoor, het Floors die saak aan die inspekteur op die korrekte, formele wyse gerapporteer. Erlank sal hom nie daaruit kan loswikkel nie.

Hoofstuk 17

Doep kry die Saterdagoggend 'n oproep van Erlank wat hom gebied om na Benade se plaas te kom: Het Heiberg en Sophia Lessing het al twee skynbaar verdrink. By nadere ondersoek is Het bewusteloos.

Floors het Het na Benade gestuur met 'n paar sjielings wat Floors vir Benade geskuld het. Het en Sophia is albei rivier toe, ongeag Hans Lessing se waarskuwing om nie rivier toe te gaan nie. Die rivier was aan die afkom sedert Donderdagaand se reën. 'n Ander kind het hul in die water sien spartel en gaan hulp soek. Vir Sophia was dit te laat – haar lyk het teen die kant vasgedryf, onder die takke in. Het is uitgehaal deur ene Klein Dawie Lambrechts wat met 'n tou geswem en haar bereik het. Sy het heeltyd aan die takke vasgehou in die koue sterk stroom.

Teen die verpleegster se raad in, wag Doep nie op die ambulans nie, en die suster ry saam om haar toestand te monitor.

Twee dae later, by die begrafnis van Sophia Lessing, het Erlank in sy spreekbeurt uitgewei oor die wonder van die kinderlewe, die liefde, dat mens nie moet verbitterd wees nie, maar moet vergewe “al was iemand ook vir die dood van jou geliefde verantwoordelik”.

Die beskuldiging wat met vergifnis verknoop word is vir die Doep die toppunt van vermetelheid en huigelagtigheid, veral omdat dieselfde Erlank kort voor die toespraak nog ewe vroom gesê het: “Ek neem aan dit is nie die tyd of die plek om verwyte te slinger nie, kollega, maar dis eienaardig hoe mens 'n voorgevoel het van iets wat gaan gebeur.”

Die Woensdag het Erlank van die ondersoek op sy aanranding van Het verneem. Dieselfde dag is Het uit die hospitaal ontslaan.

Die Vrydag, die laaste dag van die derde kwartaal, en Doep se laaste dag in sy klas, is Het ook terug in die skool.

Doep en Erlank werk 'n wyle in stilte op kantoor, waarna Erlank vir Het gaan haal en haar meedeel dat weens aan jarelange (!) wangedrag en Saterdagoggend se gebeure (en sonder om te wil weet wat presies gebeur het), “ons” (bedoelende Erlank en Doep) besluit het om haar aan die Sielkundige Diens oor te gee. Sy word beveel om terug te gaan klas toe.

Doep stel onmiddellik die saak reg: hy wat Doep is, is glad nie in die saak geken nie. Het word beveel om te bly.  Erlank is woedend oor Doep sy gesag ondermyn.

Doep weet egter die klere op die wal was nie Sophia s’n nie, maar Het s’n. Daar was 'n koekie seep op. Het het gaan bad in die rivier, op die wal, omdat die Heibergs nie 'n bad tuis het nie. Erlank maak dadelik die aanname dat Het vir Sophia probeer oorreed het om te gaan swem. Maar Het het nie. Het was nog aan die bad, en het skielik gesien Sophia sit nie meer op die wal nie. Het het die rivier ingespring toe die stroom vir Sophia begin meesleur het. Sophia kon nie goed swem nie.

Op grond van Het se bestowe verlede wat opgerakel word, glo Erlank dat Het nou weer haar in die rol van die heldin ingeskryf het. Blykbaar het Erlank ook al “verskeie gevalle gehoor” waar sy kinders in die water instamp. Hy gaan gal af hoe hy moeg is van al die ongeregtigheid en die goedpraat daarvan. Hy vra vir Het weer om die kantoor te verlaat, en Doep kan, indien hy vrae het, dit buite aan hom stel.

Doep kry maar weer die laaste woord in: hý is ewe moeg van die ongeregtigheid en Erlank is nie Verlangekraal of die onderwys waardig nie. Die kantoordeur trek hy hard op Erlank se vendetta toe.

Doep verseker Het dat hy vir haar sal ondersteun sodra die Sielkundige Diens kom ondersoek instel. Oor die mense se gissinge of Het vir Sophia se dood verantwoordelik is, sê Doep: “Die waarheid is nie wat ander mense glo en weet nie. Dis wat mens self glo en weet. Dit help maar net as daar ander is wat ook glo. Die grootste ding is dat jyself moet weet en glo wat reg is.”

Teen die middag, met die aanbreek van die vakansie, dink Doep aan Erlank, wat so getrou aan sy oortuigings en trots is, dat dit hom tot 'n val gebring het. Hy ervaar elke oomblik soos hy die ou skool agterlaat. Dan gewaar hy Het, wat tans weer die uitgeworpene is, maar hy merk ook hoe fier en regop haar kop gehou word. Sy is gereed vir die stryd wat wag, maar ook die stryd van die lang lewe wat voorlê. En Doep voel klein voor die ontsaglike groot taak.

RSG-radiovervolgverhaal (2022)

Agtergrond

Ter viering van die 85ste bestaansjaar van Afrikaanse radio, is Leon van Nierop gevra om die roman opnuut te verwerk.[2]

Van Nierop was besig om te werk aan Plesierengel, toe die opdrag kom om Het van Verlangekraal te verwerk. Dit het hom nie alleen 'n jaar geneem om die kopiereg te bekom nie, dit was ook 'n opdraende stryd om die boek in die hande te kry, wat uit druk is. Hy het tweedehandse boekwinkels gefynkam vanaf Sabie tot in die Kaap, hulp gevra op Facebook, en niemand het die boek gehad nie. Hy het selfs die regisseur van die televisiereeks, Fred Nel, se vrou gevra. Die boek het Van Nierop destyds teruggegee aan Jan Scholtz (sy ateljee het destyds die reeks gemaak).[3]

NALN in Bloemfontein het Van Nierop bygestaan, die boek opgespoor en aan hom gestuur: Uit desperaatheid het hy ná 3 maande toe NALN geskakel, en binne 2 dae het hulle die boek vir hom gereed.[3]

Met die lees het Van Nierop besef hoe moeilik dit sal wees om die boek tot radioverhaal te verwerk. Die Het in die radiovervolgverhaal verskil effens van die karakter wat destyds op TV was.[3]

Doep du Plessis is die fokaliseerder in die roman, en hoewel Van Nierop 'n verteller kon gebruik het, verpes die dramaturg die gebruik van vertellers. Maar in die boek is daar ook talle karakters wat dikwels net 'n enkele spreekbeurt kry, of na verwys word. Dit is ook nie ekonomies vir 'n radiodrama nie. Karakters is toe geskep wat met Doep meer onderhoudend praat, en veral Doep se vrou, Mart, is meer spreekbeurte gegee as in die roman. Doep bely as 't ware sy gevoelens, sy gedagtes, ensomeer aan Mart oor Het, wat die luisteraars sodoende 'n beter insae gee wat in sy siel aan die woed is.[3]

Het se broer kry ook meer spreekbeurte as in die boek; Het het in die boek agt sibbe, maar sy praat nooit met een nie; ook in Het se geval kan jy nie weet wat in haar kop aangaan nie. Sy het dus ewe seer 'n vertroueling nodig met wie sy haar gevoelens kan deel.[3]

In die boek rig Het baie rebelse en dramatiese dinge op een slag aan, wat 'n kakofonie sou veroorsaak het. Die skreeuende en skellende Het is nie die mens wat mens wil uitbeeld nie, en ook in die televisiereeks is sy nie so uitgebeeld nie.[3]

Soos met die TV-verwerking het Van Nierop ingesien dat Het eintlik haar tyd ver vooruit was. Met die uitsondering van Doep het die onderwysers haar nie verstaan nie, en hul het ook nie geweet wat om 'n rebelse kind te maak behalwe om haar die heeltyd te moet slaan of verneder of uit te jaag nie. Van Nierop het veral gekonsentreer hoe en op watter manier Doep met haar gewerk het, soms streng, want hy het waarom sy sekere dinge aanvang. Die lyfstraftoneel in die TV-reeks is nietemin geskrap, want dit klink te grotesk.[4]

Byklanke is opgeneem (vir die klaskamer- en speelgrondtonele en van 'n atletiekbyeenkoms)[2], want die meeste beskikbare byklanke by die SAUK was dié in Engelse skole. Hoërskool Randburg is die gekose Afrikaanse skool, en Van Nierop moes sorg dat die byklanke en die dialoog met mekaar goed balanseer. Die kinders wat gesels moes ook nie die aandag van die hoofgesprek aftrek nie. Die drama-afdeling het veral baie gehelp. Van die tonele was die ruis so erg dat die dramatiese tonele baie getemper moes word om die dialoog hoorbaar te maak en tot sy volle reg te laat kom. Die klasse is ook kleiner gemaak, want van die reaksies het nie by die tonele of dialoog gepas nie.[3]

Het is ook ouer gemaak, want 'n kind van daardie ouderdom kan nie sulke dialoog op natuurlike wyse besig nie.[3]

Ansu Visser, wat die rol van Het vertolk, het ook meer Het se woede ingehou, en Van Nierop het ook die karakter met ander dimensies probeer boetseer.[3] Van Nierop het ook die ongenaakbare hoof in die boek 'n bietjie meer menslikheid probeer gee, 'n onderliggende rede waarom hy juis vir Het so haat. Soos Van Nierop tussen die reëls van Doep se gedagtegang verstaan, was die hoof jaloers op Het omrede hy net so rebels soos sy was. "Hy is gebreek, en hy wou haar breek".[3]

Om die rol van Het te beset, was die allergrootste uitdaging. Van Nierop het teruggedink aan sy jeugvervolgverhaal Ratels, en die meisie wat in Wonderlus (2017) gespeel het, Ansu Visser. Van Nierop het toe geweet sy is die enigste "Het" wat hy kan kry.[5]

Sally Campher speel die kameerol as Het se ma, Ragel (in die boek Anna) in 'n paar tonele, wat in die boek net in een hoofstuk voorkom. Van Nierop vind Campher 'n uitstekende aktrise en om haar slegs 6 of 7 reëls te gee, soos in die boek, sou nie deug nie.[3]

Van Nierop het ook gedink die plaasskooltjie in die boek het maar 4 of 5 onderwysers, maar dan lees mens van 40 kinders per klas en meer onderwysers. Weens die beperkte begroting kon Van Nierop nie 6 of 7 kinders in die rol inskryf om met Het te praat, soos in die boek nie.[3]

Van Nierop wou die radiovervolgverhaal so skryf dat die luisteraars die nostalgie van die TV-reeks kon herleef, maar terselfdertyd moet hul ook begrip hê vir die karakter, en waarom sy doen was sy doen.[4]

Die radiovervolgverhaal het 40 episodes.[6] Dit het op Donderdag, 28 April 2022 begin, weeksdae om 14:45.[4] Die laaste episode is uitgesaai op Woensdag, 22 Junie 2022.

Die kenwysie van die radiovervolgverhaal Het van Verlangekraal is Angie's Theme deur Jerry Goldsmith.[7]

Verwysings


Het van Verlangekraal: Boek deur Johann Bekker

Het van Verlangekraal is \'n roman geskryf deur Johann Bekker, wat handel oor Het Heiberg, \'n bywoner se dogter, wat aanvanklik bitter selfbejammerende gedragsprobleme toon, maar deur die liefdevolle bearbeiding van haar klasonderwyser Doep (meneer Du Plessis) vir haar medemens begin omgee. Soos die verhaal vorder, draai die verhaal al hoe meer om haar as die twispunt tussen Doep en meneer Erlank se botsende filosofiese benaderings rakende die onderwys en opvoeding. Sowel die skoolhoof as die onderhoof kan mekaar nie vind nie, en omdat \'n onsekere Erlank te trots is om sy fout te erken of bes te gee, kom dit hom duur te staan.