Alexander Daneel

Predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk

Ds. Alexander Berthin Daneel (distrik Stellenbosch, 14 Februarie 1836Heidelberg, Kaap, 22 Maart 1899) was ’n predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat sy hele 37-jarige loopbaan in die NG gemeente Heidelberg, Kaap deurgebring het.

Ds. Daneel teen die aand van sy lewe.

Afkoms en studiejarewysig

Alexander Berthin Daneel het die lewenslig op Moddergat in die distrik Stellenbosch aanskou op 14 Februarie 1836. Dit was waarskynlik op die plaas van sy Smuts-grootouers, aangesien sy eie ouers dorpenaars was. Sy grootvader na wie hy genoem is, was uit Wes-Vlaandere afkomstig. Self was hy die oudste van 10 kinders van 'n sakeman, Richard Hurtley Daneel en sy eggenote, Hester Aletta Smuts. Die berig van sy vader se heengaan op Colesberg op 13 Februarie 1859, het Alexander eers op 4 Mei in Holland bereik waarheen hy en drie ander aanstaande leraars op 9 Maart 1855 met die seilskip Meteor vertrek het, nadat hy vanaf 1853 tot 1855 aan die beroemde ou Zuid-Afrikaansch Athenaeum in Kaapstad studeer het. Op 24 Mei het Daneel in Rotterdam aan wal gestap en die volgende dag was hy in die universiteitstad Utrecht waar hy op 1 Junie saam met die latere di. C.T. Scholtz en A.P. Meiring as teologiese studente ingeskryf is. Ná voltooiing van sy studie keer hy op 17 April 1862 in sy vaderland terug, "na eene gevaarvolle reis van honderd dagen" in die brik Juanita. Waarskynlik sy eerste preek in Suid-Afrika het hy in die Nieuwe Kerk, Kaapstad, oor Joh. 1:1–6 gehou, "tot genoegen en stichting der toehoorders". Hy is reeds op 5 Mei na Sutherland beroep wat ook verlangend na 'n eerste leraar uitgesien het en eers ses jaar later geholpe sou raak. Vir hierdie beroep moes hy bedank, want hy sou eers op 21 Julie saam met prop. A. P. Meiring gelegitimeer en beroepbaar gestel word.

Ontvangs en bevestiging op Heidelberg, Kaapwysig

Hierdie skoolkerkie se hoeksteen is gelê op 5 Maart 1856. Dit was die gemeente Heidelberg se kerk tot die inwyding van die tweede kerkgebou op 19 Julie 1873.

Nadat hulle sedert die gemeente se stigting in 1855 (dieselfde jaar as Sutherland) so lank gesukkel het om 'n eie leraar te kry, was die gemeente Heidelberg, Kaap, geseënd om die man te kry wat bestemd was om die eerste leraar van Heidelberg te word. In die fleur van sy lewe het prop. Daneel na die jong gemeente gekom om byna 37 jaar later die pelgrimstaf neer te lê toe hy nog onvermoeid besig was om sy rype kragte aan die gemeente van sy eerste liefde te wy. Vir die gemeente Heidelberg was dit 'n blye dag toe hulle prop. Daneel kon verwelkom en die "temporaire kerkgebouw" was by geleentheid van sy intreerede "opgepropt vol". Volgens oorlewering is die jong proponent langs die eertydse pad na Swellendam, tussen Heidelberg en Karnmelksrivier, verwelkom op die plek wat in later jare nog as Daneelshoogte bekendgestaan het. Die reis met die poskar uit Kaapstad kon bepaald nie baie gerieflik gewees het nie, want uit sy eerste brief uit Heidelberg aan sy verloofde, gedateer 17 September 1862, verneem ’n mens dat die vyf passasiers wat om vyfuur in die oggend van 8 September uit die stad vertrek het, op die twee bankies van die poskar reeds "als pekelharing zaten". By Eersterivierstasie moes Pieter Krige, 'n Heidelbergse diaken wat by sy familiebetrekkinge op Stellenbosch gekuier het, ook nog bykom, en "toen hadden wy het vooruitzicht van twee dagen achtereen zoo naauw op elkander te zitten dat wy ons byna niet bewegen konden. De Pasagiers waren echter zoo vriendelyk om my een van de gemakkelykste plaatsen af te staan".

Die dienste van die feesnaweek het Donderdagaand 18 September begin toe die ernstige prediker dr. Servaas Hofmeyr van Montagu, die woord gevoer het oor Neh. 4:3 en 2:20: "Ik doen een groot werk. . . . De God van den hemel Die zal het ons doen gelukken, en wy, Zyne knechten, zullen ons opmaken en bouwen." Die diens is afgesluit met 'n paar aanmerkings deur dr. William Robertson en 'n ernstige gebed vir die jong leraar. Die Vrydagoggend was daar 'n vroeë biduur onder leiding van ds. Petrus Borcherds (Riversdal, 1843–1880). Die voormiddagdiens het aangevang met Skriflesing en gebed deur ds. A.G.M. Kuys (Napier), gevolg deur 'n toepaslike bevestigingsrede deur dr. Robertson oor 1 Kor. 11:3. "En ik was by ulieden in zwakheid en in vele beving."

Nadat ds. Borcherds die formulier gelees het, het die jong leraar neergekniel vir die plegtige handoplegging waaraan die vier besoekende leraars deelgeneem het. Hierna het ds. Borcherds die bevestigde en die gemeente toegespreek en afskeid geneem van die gemeente waaroor hy gedurende byna sewe jaar as konsulent die herderstaf gevoer het. Vrydagmiddag het die nuwe leraar sy intreerede gehou oor Markus 4:26-29, die gelykenis van die opskietende saad. Ná die diens het die leraars, saam met die magistraat van Riversdal, eerw. W.F. Taylor van die Episkopaalse kerk aldaar, die heer Thomas Barry van Port Beaufort en talle ander vriende aan by "eene weltoebereide tafel" wat die kerkraad in die pastorie voorberei het. Hierop het meeste van die besoekers huis toe vertrek.

Ds. Borcherds is Saterdagoggend deur 22 rytuie met agt perderuiters vooraan tot buitekant die dorpie uitgeleide gedoen waar groot waardering vir sy werk in die vroeër herderlose gemeente betuig is. Vrydagaand het enige vriende van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap saamgekom en dié blye dag met die stigting van 'n tak van die genootskap afgesluit. Ds. Daneel is dadelik as voorsitter van die plaaslike komitee gekies en tot aan die einde van sy lewe het hy 'n sterk ondersteuner van die genootskap met sy geseënde werk gebly. Joseph James Barry was die eerste sekretaris-penningmeester en (eerw.) Henry Charles Helm die boekebewaarder. 'n Aantal persone het gereelde jaarlikse bydraes aangebied.

Gesinslewewysig

Ds. Alexander se oudste seun wat predikant geword het, Johannes Wynand, was van 1891 tot 1935 gemoeid met die Zoupansbergse sending.
Ds. en mev. Margaretha Daneel kort ná hul huwelik in 1863.
Ds. Marthinus Daneel was die jongste van die twee van ds. Alexander en mev. Margaretha Daneel se nege seuns wat predikant geword het. Hy het net in drie gemeentes gearbei: Calvinia van 1898 tot 1906, Fraserburg van 1906 tot 1914 en toe Victoria-Wes tot sy aftrede in 1934. Hy is oorlede op 26 Junie 1937.
Ds. Daneel en sy gesin met vakansie aan die strand by Witsand in 1880. Die naam White Sands word reeds in 1867 aangetref, maar ds. Daneel en sy gesin het eers omstreeks 1880 hul vakansies hier begin deurbring. Tussen die ou riethuisies en tente van die "strand gasten" het ds. Daneel die eerste huis gebou en baie dekades daarna het dit nog as die Ou Pastorie bekendgestaan.

Meer as 'n jaar ná sy bevestiging, het die jong dominee op 7 Oktober 1863 in die huwelik getree met die sewentienjarige Margaretha Johanna Louw wie se moeder 'n niggie van sy eie moeder was. Die plegtigheid is ten huise van die bruid se ouers op hulle plaas Babylonstoren in Groot-Drakenstein voltrek deur die eerbiedwaardige leraar van Kaapstad, dr. Abraham Faure. Kort hierna is die egpaar in hul gemeente met 'n pragtige adres deur 'n 38-tal gemeentelede onderteken, hartlik verwelkom. In Margaretha Louw het ds. Daneel 'n eggenote gekry wat hom gedurende baie jare nie alleen getrou ter syde gestaan het nie, maar hom ook wonderlik aangevul het. Terwyl hy miskien soms stug voorgekom het, was sy die minsaamheid self; terwyl hy die deftige waardigheid van die ouer geslag predikante 'n volle mate gehandhaaf het, het sy gemeensaam met almal omgegaan; terwyl erns by hom oorweeg het, het sy oor 'n blye humorsin beskik wat haar tot op hoë leeftyd gekenmerk het.

Mev. Daneel het haar man met baie jare oorleef. Ná sy dood het sy met die kinders wat nog in die huis was, op Stellenbosch gaan woon waar sy steeds die gasvryheid self was en waar Heidelbergers van 'n gulle ontvangs en 'n gesellige tydjie verseker was. Op 88-jarige leeftyd het sy op 1 Junie 1934 op Gordonsbaai die tydelike met die ewige verwissel. daar is toe lank reeds al besluit dat sy langs haar eggenoot op Heidelberg sou rus. Te midde van die grootste belangstelling het ds. W.N. van der Merwe (leraar van Heidelberg van 1930 tot 1957) die begrafnisrede gehou oor Spreuke 14:1: 'n bouende Moeder. Daarna het lede van die kerkraad die stoflike oorskot om die kerk na die graf gedra waarop daar later 'n steen geplaas is wat by dié van ds. Daneel pas.

Ds. en mev. Daneel se huwelikslewe was hoogs gelukkig en is met 'n kroos van nege seuns en drie dogters geseën. 'n Droewige slag het die gesin getref toe hul dogtertjie Hettie op 27 Oktober 1876 aan brandwonde beswyk. In tere herinnering aan hierdie kindjie wat haar moeder se naam gedra het, het ds. Daneel die res van sy lewe 'n lokkie van haar haartjies in 'n raampie bewaar.

"Met gezondheid en welstand heeft de Heer ons boven mate gezegend," skryf ds. Daneel by die kwarteeu-jubileum van sy bediening op Heidelberg, "en wy verheugen en verblyden ons op dezen dag dat de band in onzen Familiekring niet gescheurd maar hechter geworden is." In dieselfde stuk verklaar hy : "Elk myner kinderen heb ik van het geboorte-uur den Heer opgedragen en Hem gewyd, en myn vertrouwen is, dat Hy ze in genade aangenomen heeft en ze naar Zynen Raad op den weg des lewens leiden en ze als Zyne verlosten door het Bloed des Lams, in Zyn Koninkryk gebruiken zal." Twee van die seuns het bekende leraars van die NG Kerk geword, by name ds. Johannes Wynand Daneel (1865–1940), skoonseun en opvolger van die godsalige eerw. Stephanus Hofmeyr in die Soutpansberge en ds. Marthinus Smuts Daneel (1869–1937) wat drie gemeentes in die destydse Kaapland met seën bedien het: Calvinia, Fraserburg en Robertson. Twee van laasgenoemde se seuns, George en Marthinus, het weer op hul beurt predikant geword. Twee van die Heidelbergse pastorieseuns het geneeshere geword, een 'n tandarts, drie boere en een 'n timmerman. Die oudste dogter het met die wetsagent H.R. du Preez jr. van Heidelberg getrou en is op hoë leeftyd in 1952 op Bredasdorp oorlede. Die jongste dogter het in 1955, toe die Heidelbergse gemeente haar eeufees gevier het, nog as die weduwee Maggie Beyers op Stellenbosch en saam met haar het destyds van die 12 kinders nog net die snydokter Pieter Daneel en die broer Attie geleef.

Twee opwekkings (1860 en 1868)wysig

Ds. en mev. Daneel in die krag van hul jare.

In die jare om 1860 het die Gees van die Here met groot krag in talle gemeentes van Wes-Kaapland gewerk, veral na die merkwaardige Worcesterse Konferensie van 1860 wat ook indirek tot die geseënde instelling van die jaarlikse Pinksterbidure aanleiding gegee het. Van die uitwerking hiervan in Heidelberg is nie veel opgeteken nie, maar in 1860 kon die Kerkraad "met meerderen lus . . . en tot onze blydschap" getuig dat daar ’n lewendiger belangstelling in die godsdiens was en dat die Gees van genade en smekinge in die harte uitgestort is. Vanaf 1861 is daar ook bidure in die gemeente gehou. Eers vanaf September 1862 het die gemeente in die voorregte van 'n gereelde evangeliebediening, huis- en krankebesoek en katkisasie gedeel. Die werk het van jaar tot jaar voortgegaan, soms met hoopvolle verwagting en dan weer met diepe neerslagtigheid, tot die gemeente 'n ware geestelike verkwikking beleef het in die Opwekking van 1868.

Die tweede kerk (1873-1912)wysig

Die tweede kerk op Heidelberg wat tydens ds. Daneel se tyd ingewy is.

Teen hierdie tyd is die behoefte aan 'n groter kerkgebou ál meer gevoel. Die ou gebou wat hoofsaaklik vir 'n "Schoolhuis" bestem was, was by feesgeleenthede oorvol en in die somer het dit vanweë die lae solder so warm geword "dat men het naauwliks kon uithouden". Vreemdelinge wat na Heidelberg se godshuis verneem het, was verbaas dat 'n gemeente met so 'n groot sieletal ná soveel jare nog 'n kerk gehad het "die byna niet boven de andere gebouwen uitsteekt". Verder as 'n boufonds en voorbereidsels op die pragtig geleë kerkplein het dit egter nie gekom nie. Die dorp is in ’n tyd van voorspoed gestig, maar moeilike jare het gevolg, onder meer deur die landwye droogte en die rampspoedige perdesiekte van 1859. Die jare 1862 tot '64 het die hoop op 'n nuwe kerk laat opflikker en 'n gemeentevergadering het besluit om 'n langwerpige gebou met 800 sitplekke teen 'n beraamde koste van sowat £4 000 op te trek, maar die jaar 1865, droog en drukkend vir almal, het die mooi voornemens laat verdwyn en die pogings verydel. Die gedagte aan £4 000 was ontmoedigend en die hoop om 'n nuwe kerk op die plein te sien verrys, is by baie mense heeltemal uitgedoof.

Toe boumateriaal in 1871 goedkoper word, het ds. Daneel self berekenings begin maak en tot die gevolgtrekking gekom dat dit hoegenaamd nie nodig was om aan so 'n hoë som te dink nie. Onderhandelings met Carl Otto Hager (1813-1898) wie se roem as argitek en kerkbouer destyds reeds in die Kolonie gevestig was, was baie bemoedigend en nadat in Februarie 'n basaar vir die boufonds gehou is, is die wenslikheid, moontlikheid en moeilikheid van die werk op 22 Maart 1871 deur die gemeente bespreek waar 'n bietjie meer as die helfte van die aanwesige lede vir 'n gebou gestem het van nie minder mie as 800 sitplekke. Die Boukommissie het bestaan uit C.J. Uys, J.J. van Wyk, P.K. Krige, C.J. Human sr., P.B. Odendaal, J.J. Gildenhuys, S J. Naudé en H.R. du Preez. Toe P.B. Odendaal heel aan die begin van die werk bedank het, is P.G. Steyn met byna algemene stemme in sy plek gekies, maar nadat hy 'n groot aandeel in die werksaamhede gehad het, het hy ook uitgetree en toe het P.R. Fourie (Dik Flip) in sy plek gekom. Agt dae ná hul benoeming het die eerste kommissie aan die werk gespring en geelhoutbalke bestel van Stephanus Barnardo "aan de Knysna". By hul tweede vergadering is Hager se plan vir 'n kerk van 100 x 48 voet binnewerk, in "de gotische styl, met opene timmeratie en een yzeren dak" aanvaar. Die gebou sou na die kant van die hoofstraat, "of anders genaamd main road", front. Die bakstene is van rooi potklei op die kerkplein gevorm en gebrand. Die here Steyn en Du Preez sou die materiaal vir die daktimmerasie in Kaapstad koop en met wolwaens na Heidelberg laat vervoer.

Hoeksteenlegging (13 Maart 1872)wysig

Carl Otto Hager, die argitek van Heidelberg se tweede kerkgebou.

Die bouheer kon nie dadelik wegkom nie uit Somerset-Oos – waar hy besig was aan die kerk wat nou nog in gebruik is – maar tog is die fondament op 19 Februarie 1872 afgesteek en op 13 Maart van dieselfde jaar kon die hoeksteen in teenwoordigheid van 'n groot skare deur die magistraat van Swellendam, die heer W.B. Chalmers, gelê word. Ds. Daneel het by hierdie plegtige geleentheid na aanleiding van 1 Petrus 11:16 gespreek oor die Boumeester, die Uiterste Hoeksteen en die Lewende Stene van die groot Godsgebou, die Christelike Kerk hier op aarde. Ná die rede het die skare van sowat 700 in optog en al singende – Ges. 155:3, 5 en Ges. 154: 1, 2 – van die ou kerk na die nuwe gegaan.

Op die bestemde plek aangekom, is die optog deur 'n sangkoor "op eene zeer welluidende wyze" verwelkom. Ná 'n kort aanspraak deur ds. Borcherds, het dr. William Robertson die perkament voorgelees wat onder die hoeksteen geplaas moes word en Psalm 118:11 laat sing terwyl die steen in plek gebring is. Nadat die bouheer die gebruiklike artikels daaronder geplaas het, is die steen gelê. 'n Seënbede deur ds. Daneel is gevolg deur 'n toespraak van die siviele kommissaris wat deur dr. Robertson uit Engels in Nederlands vertolk is. Daarna het dr. Robertson self aan die woord gekom en die gemeente onder meer aan dae van weleer herinner: "Ik gedenk aan de dagen myner jeugd, toen ik de gansche gewesten, meestal te paard, moest doorreizen, om dan in eene boerenwoning, dan in een wagenhuis of ander buitengebouw, dan wel gelyk meermalen, op het vlakke veld, de blyde boodschap des Evangelies te verkondigen en de bondzegelen onzer Christelyke Kerk te bedienen. Hoe zyn de tyden veranderd!"

Die diep en helder stem van hierdie invloedryke en uitnemende Skotsman wat gedurende 'n halfeeu sulke voortreflike dienste aan Swellendam en die NG Kerk in die algemeen bewys het, sou nie weer by feesgeleenthede in Heidelberg verneem word nie. "Het is u allen bekend, dat ik tot het besluit ben gekomen om het beroep der Kaapstadsche gemeente aan te nemen, en alzoo, op mynen ouden dag, de Overbergsche gewesten te verlaten," het sy gesê. Nadat hy die gemeente in die Moederstad gedurende ses jaar met vrug bearbei het, is hy op 24 November 1879 op 74-jarige leeftyd oorlede. Tereg is van hom verklaar dat hy een van die kosbaarste gawes van die Skotse Kerk aan die NG Kerk in Suid-Afrika was.

Nadat dr. Robertson gepraat het, het die koor hulle weer "op eene zeer bevallige wyze" laat hoor en toe is die slotgebed deur ds. Dirk van Velden (Ladismith) gedoen. Daarop het dr. Robertson die gemeente opgewek om mildelik vir die kollekte van die dag by te dra en nadat Ges. 96 gesing is, het ds. Daneel die seën uitgespreek, waarop die skare uiteen is, "verkwikt en verblyd door de verrigtingen van den dag". Die kollekte het £25 gelewer.

Met buitengewone voorspoed is die werk voortgesit en, so het ds. Daneel getuig, "zigtbaar rustte de zegen Gods op al onze zwakke pogingen". Reeds in November 1872 was die bou- en pleisterwerk so ver voltooi dat die hoofmesselaar Michiel Weis – wat teen 6s. per dag gewerk het – na die Paarl kon terugkeer. Die argitek met sy gesin het Heidelberg op 16 Januarie 1873 verlaat om na Ladismith te gaan waar hy op versoek van ds. Van Velden 'n kerk moes bou wat presies soos die een op Heidelberg moes lyk. Ook op Ceres is so 'n kerk gebou, maar daar was die frontgewel van klip. In 'n vererende adres wat Hager by sy vertrek uit Heidelberg aangebied is, is volmondig beaam wat andere reeds van hom verklaar het, naamlik "dat gy als Architect thans in eene groote behoefte van de Nederd. Geref. Kerk in ons vaderland voorziet". In 'n outobiografie wat Hager op hoë leeftyd geskryf het, het hy die besondere gasvryheid wat hy en sy gesin in Heidelberg geniet het, asook die aangename samewerking met ds. Daneel en die boukommissie gemeld. Die daktimmerasie en die galery is deur J.C.M. Hager, 'n seun van die argitek en bouheer, in Februarie voltooi, maar met die banke was daar oponthoud. Die kontrak met die here Fraser en Morrison hiervoor is verbreek en die orige werk is voltooi deur drie Morrisons onder leiding van Eduard Marthinus Hoffman, 'n Heidelbergse ambagsman.

Inwyding (19 Julie 1873)wysig

Die ou NG kerk Heidelberg, Kaap, wat in 1873 ingewy en in 1913 gesloop is.

Toe die nuwe kerkgebou op 19 Julie 1873 ingewy word, het daar op die buitengewoon lae koste van £3 4874s.4d. 'n skuld van net £571 6s. gerus. 'n Ringmuur, 'n behoorlike klok en veral 'n orrel sou later aangebring word. Die fraai kansel van mahoniehout wat presies soos dié van Stellenbosch se moederkerk (Hager se eerste groot NG kerkgebou) en feitlik net soos dié van Oudtshoorn gelyk het, was die werk van die bekwame timmerman A.W. Erxleben van Kaapstad. Dit is deur die gemeentesusters geskenk en het, saam met verpakking en vervoerkoste, sowat £260 gekos. 'n Kanselbybel en Gesangboek is spesiaal uit Europa bestel om as geskenk te dien van mev. J.C. Rothman van Swellendam wat vroeër mev. P.G. Swart (geb. Siebert) van Heidelberg was. Hierdie boeke in fluweelbande het dekades lank nog op die kansel gelê.

Die "Programma van de Verrigtingen by de Plechtige Opening der Nieuwe Kerk, te Heidelberg, op Zaturdag, 19 July 1873" vertel dat die gemeente op daardie dag eers in die ou kerkgebou saamgekom het waar ds. Daneel 'n gepaste afskeidswoord gespreek het. Daarvandaan het hulle in optog na die nuwe gebou gegaan, terwyl Psalm 84:1, 2 deur die strate weerklink het. By die nuwe kerk aangekom, het hulle om die gebou geloop en Psalm 84:5 gesing. Nadat ds. Daneel die voordeur in die Naam van die Drie-enige God ontsluit het, is dit wyd oopgesit en die skare is versoek om stil te staan terwyl hulle van binne af begroet is met die heerlike lied "Heft uwe Hoofden op, gy Poorten!" wat deur die Riversdalse sangkoor onder leiding van eerw. Daniel Heese aangehef is. Al singende – Psalm 100:3, 4 en Ges. 90:2, 3 –het die gemeente toe hul plek ingeneem. Ds. Borcherds het eers 'n kort seënbede uitgespreek en later ook die openingsgebed gedoen. Die inwydingsrede is deur ds. P.J.G. de Vos (Riversdal), later die bekende hoogleraar aan die Kweekskool, uitgespreek oor Eksodus 25:8, "En zy zullen My een heiligdom maken, dat Ik in het midden van hen wone." Hy het gewys op die Betekenis van die Heiligdom onder die Ou Bedeling, die Tempel onder die Nuwe Bedeling en die Tempel van die Voleinding, elk waarvan aan 'n besondere trap in die Openbaring van God aan die mens beantwoord.

Gedurende en net ná die diens het die Riversdalse koor nog ses verskillende stukke gelewer, waarvan minstens drie in Duits. Ander predikers gedurende die feesnaweek, in die nuwe sowel as in die ou kerk, was prop. J.G.J. Krige, ds. C.F.J. Muller (Swellendam), dr. S. Hofmeyr (Montagu) en prop. R. van R. Barry wat as seun van die heer Thomas Barry van Port Beaufort byna as 'n seun van die gemeente aangemerk kan word. Hy het Sondagnamiddag in Engels gepreek, terwyl prop. Krige daardie aand in die Independente Kapel opgetree het. Die opkoms by die inwyding is op dertien- of veertien-honderd geskat. Ses weke later het ds. Daneel van 'n aantal gemeentelede en vriende 'n goue sakhorlosie en 'n hartlike adres ontvang as 'n blyk van agting en erkenning van sy ywer in die oprigting van die nuwe godshuis.

Hierdie ou kerk sou die gemeente vir presies veertig jaar dien, tot ds. A.J. van Wyk op versoek van die kerkraad op 1 Desember 1912 'n afskeidswoord by die laaste diens daarin gespreek het. Sy teks by dié geleentheid was Deut. 8:2: "Gy zult gedenken aan al den weg, dien u de HEERE, uw God, deze veertig jaren geleid heeft." Hierna is dit gesloop om plek te maak vir die sierlike derde kerk van die gemeente waarin 'n deel van die Eeufeesverrigtinge plaasgevind het.

Die Derde Opwekking (1874)wysig

In die jaar nadat die nuwe kerk in gebruik geneem is, het die gemeente vir die derde keer 'n opwekking beleef. Met dankbaarheid en blydskap kon die kerkraad aan die ring rapporteer dat "er alhier eene gedeeltelyke godsdienstige herleving heeft plaats gehad, en dat zy nog wordt uitgebreid. Wat men er ook van zegge en hoe men er ook over oordeele, eene zaak is zeker, dat de belangstelling in de biduren, in de openbare godsdienstoefeningen en in alles wat het gees telyke aanbelangt in de laatste twee maanden zoo toegenoemen is, dat men willens blind zyn moet, indien men dit niet opmerken kan of wil."

Berigte dat die Here in ander lande sy belofte in Jes. 59:19(b) waargemaak het, het hier ook baie harte begerig en verlangend gemaak na 'n genadige opening van die volle skatkamers van Gods barmhartigheid en liefde; volhardend is daarvoor gebid en op die beloftes gepleit, veral ook uit heilige jaloesie oor die berigte uit aangrensende gemeentes. Betreklik onverwags het dr. Hofmeyr uit Montagu in Heidelberg aangekom en in 'n paar byeenkomste vertel van wat daar in sy gemeente plaasgevind het. Kort daarna het die plegtige ordening en bevestiging van Eerw. Henry Helm as leraar van die Independente gemeente plaasgevind, toe die prediking van eerww. Charles Helm en B. Anderson die harte nog begeriger gemaak en 'n lewendige belangstelling in die saligheid van onsterflike siele opgewek het. Bidure is nou in privaat wonings gehou en die opkoms na die gewone Woensdagaandbidure in die ou kerk was bemoedigender dan ooit tevore. Opvallend was dit van hierdie opwekking dat so baie kinders die drang tot gebed gevoel het.

Orrel, klok en ringmuurwysig

In die eerste kerkie is die gemeentesang deur 'n harmonium gelei wat ten minste vanaf 1866 deur mej. Hendrina de Villiers, 'n dogter van die voorleser-koster, bespeel is. Vir hierdie liefdewerk het die kerkraad telkens aan die begin van die jaar aan haar 'n geskenkie gegee wat van £2 in 1867 tot £5 in 1872 gewissel het. Op 30 April 1872 het sy egter met Nicolaas Uys in die huwelik getree en op die plaas gaan woon. Toe is mev. Daneel gevra om die instrument te bespeel; sy het geredelik ingewillig en eers £5, daarna £15 en eindelik £20 per jaar gekry, tot in 1876 besluit is om met behulp van die bekende orrelis van Caledon, Rocco C. de Villiers ('n swaer van mev. Daneel), 'n orrel uit Engeland te bestel. Die instrument wat dekades later nog in veranderde vorm gebruik is, is deur Henry Willis vir die firma Alford en Wills van Londen teen £365 vervaardig. Saam met die vervoer- en ander koste het dit die gemeente £450 gekos en in April 1877 was dit in die Kaapse dokke. Diaken Jan Human sou vir die vervoer daarvan na Heidelberg sorg waar die Kaapstadse orrelbouer A. Bredell dit teen £40 kom opsit het sodat dit op Sondag 10 Junie deur Rocco de Villiers ingewy kon word.

Toe moes daar ook aan 'n permanente "orgelist" gedink word en die betrekking is teen 'n vergoeding van £25 per jaar mev. Daneel, "die zoo vele jaren het muziekinstrument bespeeld heeft," aangebied. Die eerste orreldrukker was Abraham Naudé wat £2 10s. per jaar vir sy moeite geniet het. In 1889 moes die orrel "van wege den staat der kerkekas" vir sowat ses maande gesluit word sodat die orreliste se salaris bespaar kon word. Later het mev. Daneel ingewillig om die werk vir ses maande gratis te doen. Die ou harmonium is vir £12 aan die kerk op Malgas verkoop.

Binnekort moes daar ook aan 'n ringmuur gedink word vir die kerkplein wat reeds in 1868 op 'n manier omhein is. 'n Beweging om 'n gedeelte van die plein in erwe te verkoop, het gelukkig op ongunstige regsadvies gestuit, sodat die gemeente vandag met regmatige trots vervul kan wees oor die pragtige kerkblok wat die voorvaders ongeskonde vir hulle nagelaat het. 'n Paar broeders het grootmoediglik aangebied om materiaal vir die muur gratis te karwei, kollektelyste het £119 gelewer en op 12 Januarie 1880 word C.K. Hopkins en J.J. van Wyk se voorstel aangeneem "dat er een ringmuur gemaakt worde op een afstand van 48 voeten ver van het kerkgebouw met traliewerk by het voor front, zoo breed als het gebouw, en met drie dubbele yzeren hekken voor en een klein yzer hekje aan den achterkant. De geheele muur moet afgezet worden door pilaren."

Die leraar moes bereken hoeveel bakstene daar vir die 237 treë lange muur nodig was en met die werk moes begin word, "zoodra er geld is". Die klippe is op die plaas van J.P. Eksteen oorkant die rivier gebreek en oor Doornboom aan gery. Die messelaars was Apollos en Oerson, bygestaan deur Abdol, Isak November en Hans Kouter. In 1881 is die muur voltooi, maar die traliewerk moes nog tot die volgende jaar wag toe C.K. Hopkins die geld daarvoor voorgeskiet het. By die eerste kerk was daar 'n klok wat in 1868 deur die heer J.D. Beyers van Klapmuts aan die gemeente geskenk is en wat waarskynlik die ou kerkklok van Stellenbosch was. In 1880 is dit egter aan eerw. D. Heese van die Berlynse Sendinggemeente op Riversdal opgedra, om vir die nuwe kerk 'n klok uit Duitsland te bestel. Dit is deur die firma Voss en Seuns in Stettin gegiet en het omtrent £30 gekos. Hierdie klok op sy oop stellasie van pale wat uit Bredasdorp gebring is, was in die vroeër dae 'n gedurige versoeking vir die baldadige jeug om snags oor die muur te spring en die klok 'n paar trekke te gaan gee.

Voorleserskapwysig

Nadat Heidelberg se eerste onderwyser, voorleser en koster na Mosselbaai terug is, het die heer Pieter Hendrik de Villiers (1825-1885) by die aanstelling tot Koster en Voorleser die voorkeur geniet. Hy het oorspronklik uit Villiersdorp na Robertson gegaan waar hy in 1857 voorsitter van die heel eerste Raad van Munisipale Kommissarisse geword het. Toe hy in Junie 1860 na Heidelberg gekom het, het hy 'n jaarlikse vergoeding van £75 geniet, terwyl hy origens in die behoeftes van sy gesin geprobeer voorsien het deur sy amp van wamaker te beoefen. Toe die gemeentelike fondse in 1870 min geword het, moes die ou broeder C.J. Uys daarvoor pleit dat hierdie oorblyfsel uit vroeër dae behoue moes bly, maar twee jaar later was die inkomste te min om 'n Voorleser aan te hou en toe het De Villiers ook vir die kosterskap bedank. Sy opvolgers as koster tydens ds. Daneel se bediening was M.J.L. Geldenhuys, J.V. Buchner en J.H. Ebersohn.

Finansieswysig

In die voorwaardes by die verkoop van die eerste erwe in 1855 is dit as "eene speciale konditie, aan den koop verbonden" neergelê dat die kopers en toekomstige eienaars van erwe 'n ewigdurende jaarlikse belasting van 10s. vir 'n watererf en 5s. vir 'n droë erf moes betaal "aan het Kerkfonds der Nederduitsche Hervormde Kerk van Heidelberg". Vir die besoldiging van die leraar was die Kerkraad dan ook vir baie lank op die sogenaamde Predikantsfonds aangewys wat hoofsaaklik uit hierdie Kerkbelasting op erwe verkry is. Met die invordering van die belasting het dit egter baie moeilik gegaan. Reeds in 1863 kon die Kerkraad 150 aandele van £6 stuk in die ou Swellendamse Bank neem, maar toe was daar ook reeds £480 agterstallig en die hulp van agente moes gedurig ingeroep word. Basaars van "levende en doode have" is ook gereeld gehou om die fonds te sterk.

Kort voor prop. Daneel beroep is, het die Kerkraad "zonder eenige tegenspraak . . . de volkomene toestemming" van 'n groot gemeentevergadering verkry om die salaris op £300 te stel. Die oorspronklike intekenlys is toe reeds deur ander lyste vervang wat 'n staande fonds byeen wou kry waarvan die rente dan gebruik kon word om die leraar se traktement te vind. Die £843 10s. op die lyste is dadelik deur die kerkraad na £1 000 opgeskuif. Met hierdie fonds het dit later nie goed gegaan nie en die kerkkas moes gedurig daaraan leen. Terwyl daar selfs meer dan £2,000 op die gewone rekening was wat vir die bou van die kerk aangewend sou word, was die Predikantsfonds kronies "diep in sehuld." Nadat die tweede kerk voltooi is, is die boufonds en die gewone rekening saamgesmelt.

In 1876 het die Kerkraad met algemene stemme besluit om die ou pastorie heeltemal te verander en daar 'n dubbelverdieping van te maak omdat die woning "wat ongeriefelyk" geword het vir die leraar "wiens gezin al grooter en grooter wordt". £600 van die bankaandele sou hiervoor gebruik word, 'n besluit "waartegen de Leeraar ten sterkste geprotesteerd heeft" en waarby hy vriendelik verwytend aangeteken het: "Het was het voorstel van br. J.U. Human!" Hierdie uitgawes saam met die koste van die orrel het meegebring dat daar 'n afwaartse neiging in die gemeentelike finansies gekom het en die remskoen moes aangesit word. In April 1877 was daar 'n tekort van £127 in die kerkkas, plus nog £200 vir die pastorie, £50 vir die leraar se salaris en £75 op die orrelfonds – 'n totale tekort dus van £450 waarvoor die Kerkraad verplig was om 'n skuldbewys aan diaken-kassier J.U. Human te passeer.

Pleks van die jaarlikse basaar te hou, sou die leraar en die ouderlinge voortaan met huisbesoek die lede om 'n jaarlikse bydrae vra. Die volgende jaar verneem ons vir die eerste keer van gemeentelike dankoffers. Net na die gebruiklike dank-en-bededag in Junie 1878, sou daar 'n basaar wees ter afbetaling van die kerkskuld en daar sou die gemeente die geleentheid hê "om den HEERE een dankoffer te wyden".

Ook die leraar het in hierdie tyd swaar begin kry. 'n Besluit van die Kerkraad in Januarie 1878 lui dat "om den Leeraar in het onderhouden van zyn zwaar huisgezin tegemoet te komen, elk kerkeraadslid moet zorgen voor twee of meer hamels en een mud meel". 'n Jaar later kla die leraar self sy nood by die kerkraad, "dat het voor hem tegenwoordig regt moeijelyk valt met zyn zwaar gezin in het jaar uit te komen met zyn salaris van £300". Hy wou nie verhoging van salaris hê nie, maar net tydelike ondersteuning. Die Kerkraad het hierop eenparig besluit om hom 'n geskenk van £50 te gee wat in die volgende jaar by sy salaris gevoeg is. In 1879 is daar eindelik ook besluit om vir die leraar 'n aandeel in die predikante-pensioenfonds uit te neem. Verskeie kerkraadslede het £5 en meer hiervoor aangebied en die br. C.K. Hopkins £15. Ds. Daneel het dit 'n "edel besluit" genoem.

Maar vanaf 1881 moes die leraar weer kla dat sy salaris nie gereeld uitbetaal word nie. Dit was aan "den achterlyken toestand" van die kerkkas te wyte. Die grootste gedeelte van die belastinggelde het nou nie meer ingekom nie en die nalatiges sou eers aangemaan en dan deur 'n agent opgeskroef word. D.F. Scholtz en A.P.B. van Niekerk jr., wat elk £25 per jaar aangebied het om die leraar se traktement met £50 te verhoog, het albei in geldelike verknorsing beland en moes Heidelberg verlaat. Die ineenstorting van die eertyds magtige Barry-ryk het 'n groot gedeelte van die Overberg op finansiële gebied in die diepte gesleur en dit blyk dat die geldsake van die gemeente "erg achteruit gegaan zyn" (1882). Oudl. Lotz moes in daardie jaar selfs 'n plan maak om die gelde wat by die Ringsvergadering inbetaal moes word, êrens te leen te kry, aangesien daar nou geen geld meer in die kas was nie!

In 1889 was daar steeds 'n tekort en ook nou was dit die leraar en die orreliste – sy vrou – wat die tekort moes verduur. In die verskriklike droogtejaar 1895 het ds. Daneel ook nog ingewillig om vir twee jaar £50 – die vermeerdering waarteen sommige gemeentelede nogal beswaargemaak het, maar wat die edelmoedige Kerkraad nooit weer wou afneem nie – op sy salaris te laat val. Hierby het ds. Daneel gevoeg dat hy "met zelfverloochenende liefde gaarne zyne medelyden met den toestand der gemeente wil openbaren".

Die vierde geseënde opwekking (1884)wysig

Ds. Johannes Wynand Louw, ds. Alexander Daneel se swaer, het spesiaal van Ladismith af gekom vir die kragtige opwekking van 1884.

Van die groot herlewings of opwekkings waarmee die gemeente gedurende die vrugbare bediening van ds. Daneel geseën is, was dié van 1884 seker die merkwaardigste. Dit is gekenskets as "eene zeer uitgebreide, geestelyke herleving". Wat hierdie opwekking van die voriges onderskei het, was die algemene belangstelling wat veral sigbaar was by die spesiale dienste wat eers in die Independente Kerk, daarna in die ou NG kerkgebou en eindelik in die groot, nuwe kerk byna drie weke aaneen gehou is. Gedurende die laaste week was ds. Daneel en eerw. Thomas Gamble met hul gemeentes in die groot kerk verenig waar hulle hartlik en kragtig ondersteun is deur ds. J.W. Louw (broer van mev. Daneel) wat spesiaal uit Ladismith oorgekom het om in die vreugde op Heidelberg te deel. Die kerk was by elke diens met 'n heilbegerige skare gevul en aan die einde van die prediking het daar telkens 'n twintig- of dertigtal na vore gekom om hulle aan die Here oor te gee. Toe die dienste op Sondagaand, 10 Augustus ten einde loop, was daar dan ook reeds 'n skare van sowat 500, wit en bruin, wat die goeie keuse gedoen het en later het daar nog 'n honderd bygekom.

Ná die opwekking kon die leraar en die ouderlinge hulle by die herderlike besoek persoonlik oortuig van die diepte en deeglikheid van die werk. Die huisgodsdiens is gereelder gehou, die openbare godsdiensoefeninge en die bidure is beter bygewoon dan ooit vantevore, die maandelikse broederbyeenkomste is hartlik ondersteun en waar daar vroeër geen bidure in wyke gehou is nie, is dié nou ook opgerig. Die juk van dronkenskap is deur baie in die gemeente afgeskud. Hierdie herlewing was veral sigbaar in die gemeentes Swellendam, Heidelberg en Riversdal, maar ook in Ladismith en Barrydale het die seën nie uitgebly nie. Toe die Ring hierdie jaar juis in Heidelberg gesit het, is daar met groot blydskap van die gebeure kennis geneem en die Here het daarvoor die dank ontvang.

Een van die vrugte van die opwekking van '84 was die opbloei van die maandelikse konferensies of broederlike byeenkomste wat lank 'n kenmerk van die geestelike lewe in die gemeente gebly het. Gewoonlik was die leraar by hierdie byeenkomste teenwoordig, maar die leiding is deur bejaarde broeders geneem. "Men leest een gedeelte van Gods Woord ná een stil gebed, bepaalt de aandagt by een of ander vers en geeft dan de vryheid tot spreken. Tot hiertoe hebben geene wanordelikheden plaats gehad, maar zyn de byeenkomsten over "het algemeen zeer stichtelyk geweest". (Ds. Daneel in 1885). In 1887 getuig die kerkraad dat hierdie byeenkomste nog altyd baie goed bygewoon word en dat dit vir baie 'n geseënde middel is om vir die Here te getuig. Gewoonlik is die leiding toevertrou aan die broeders Marthinus Lötz en Andries van Wyk wat naby mekaar op Hooikraal gewoon het.

25-jarige jubileumwysig

'n Geleentheid soos die 25ste verjaardag van hul leraar se getroue bediening in hul midde, sou die gemeente nie onopgemerk verby laat gaan nie. Alles is dan ook in gereedheid gebring om Maandag 19 September 1887 feestelik deur te bring. "Over het algemeen was er hartelyke deelneming en blydschap op het feest en blyken van gehechtheid en broederlyke liefde tusschen Herder en Kudde. Van beide kanten werd het diep gevoeld, dat het een zalig voorregt was elkander na zoo vele jaren van lief en leed, met liefde in Gods huis te ontmoeten en een Liefdefeest te vieren."

In die vroeë môre is die leraar gewek deur die onderwyser met sy leerlinge wat by sy venster "Dat 's Heeren zegen op u daal" gesing en hom toe 'n adres aangebied het waarin die wens uitgespreek is dat hy nog lank gespaar sou bly om die lammers van die kudde te wei. Om negeuur het die lede van die munisipale raad hul opwagting gemaak en 'n tweede adres aangebied. Intussen het die buitemense van alle kante ingekom en om tienuur was die ruim kerkgebou met 'n aandagtige skare gevul. Op 'n verhoog het saam met die jubilaris verskyn di. J.W. Louw (Ladismith) en G.J. Malherbe (Bloemhof), eerw. D. Heese (Riversdal) en magistraat Ben Osler van Riversdal wat as voorsitter opgetree het. Later het ook ds. George Murray (Swellendam) en eerw. J.P. Rossouw (Zuurbraak) opgedaag. Nadat ds. Daneel 'n interessante oorsig – wat vandag gelukkig nog voorhande is – van die ontstaan en voortbestaan van die gemeente gegee het, het sy swaer, ds. Louw, op versoek van die gemeente 'n adres oorhandig saam met 'n goed gevulde beurs. Ook het hy namens die Independente gemeente 'n adres voorgelees. Ds. Daneel was merkbaar aangedaan oor al die blyke van gehegtheid en agting en hy het by wyse van bedanking 'n paar hartlike woorde uitgespreek.

In die middag was die gemeente weer gesellig saam. "Koffie en koek werden rondgedeeld, en op ieders gelaat was blydschap". Magistraat Osler en ds. Murray het hier oor die weersydse simpatie tussen leraar en gemeente gepraat en die aand is die feestelikhede met 'n konferensie oor die gepaste onderwerp van "Blydschap in God" afgesluit.

Nog 'n geestelike oplewing (1889)wysig

In April 1889 het ds. Andrew Murray spesiale dienste op Heidelberg gehou wat goed en met groot belangstelling bygewoon is. Met sy gewone eenvoudigheid, lewendigheid en duidelikheid het hy die groot skare steeds geboei. Die prediking het veral ten doel gehad om diegene wat in die seëninge van 1884 gedeel het, tot 'n lewe van ywerige werksaamheid in die diens van die Here aan te spoor en om hierdie doel te bereik, is daar toe 'n Werkersvereniging opgerig waarvan die leraar goeie verwagtings gekoester het. Daar was 'n groot gewilligheid om vir die Here te werk en 'n agtiental arbeiders het vanaf Junie 1889 gereeld op twee Sondae in die maand in die buitewyke op vyf verskillende "staties" vir die bejaardes, swakkes en armes godsdiens gaan hou. Hierdie instelling wat sterk op die Kerk se Evangelisasiepoging van later jare gelyk het, is 'n hele aantal jare gehandhaaf. Die Julie-Nagmaal van 1889 was ook 'n besonder verkwikkende tyd toe daar 'n buitengewone groot opkoms was en ou gelowiges verwakker en verlewendig is, terwyl verskeie wat die Here nog nie geken het nie, onrustig geword het oor hul verlore toestand. Die bidure is nou weer baie goed bygewoon en elke keer was daar 'n agtien of twintig kort gebede deur diegene wat gevoel het dat hulle vir die Here moes uitkom.

Dood en begrafniswysig

Ds. Andrew McGregor het in die kerk veral oor ds. Daneel as student, leraar en vriend gepraat.
Ds. G.F. Marais van Riversdal het tydens die begrafnisdiens in die kerk oor Openb. 14:13 gepreek.
Ds. Daneel se gedenksteen op die perseel van die NG gemeente Heidelberg, Wes-Kaap.

In 1891 getuig die leraar dat hy met nuwe moed en krag aangegord is "daar hy in het prediken des Woords veel zegen voor zyne eigene ziel ondervonden heeft", maar vir Heidelberg se getroue en ywerige leraar het die einde van sy vrugbare en geseënde bediening aangebreek. Op 12 Desember 1898 was ds. Daneel vir die laaste keer in die voorsitterstoel by 'n kerkraadsvergadering en vir die laaste keer het hy die notule in sy groot en duidelike handskrif afgesluit met die woorde: "Met dankzegging gesloten." Toe die volgende vergadering gehou is, was hy ernstig siek en twee dae later is hy oorlede. 'n Spykertjie in sy stewel het sy voet beseer en omdat hy reeds vir 'n tyd lank aan verouderde suikersiekte gely het, het kouevuur ingetree sodat hy op Sondag 19 Maart 1899 na Riversdal vervoer moes word waar dr. De Vos gemeen het om die been af te sit. Dit was egter reeds te laat, sy familiebetrekkinge is ontbied om van hom afskeid te kom neem en op Woensdagoggend 22 Maart 1899 om 18:45 het hy aan die huis van mnr. en mev. Meent Borcherds "zacht en zalig in den Heere" ontslaap, nadat hy 'n boodskap nagelaat het aan sy eggenote, sy kinders en sy gemeente. Die laaste woorde wat oor sy lippe gekom het, was: "Verwonder! Verwonder!! Aanschouw! Aanschouw!"

Die begrafnis het die volgende namiddag op Heidelberg plaasgevind waarheen die leraars van Robertson, Swellendam, Ladismith, Riversdal, Bredasdorp en Barrydale, asook eerw. Heese van Riversdal en baie vriende uit die omliggende gemeentes oorgekom het om die laaste eer te bewys aan die alombeminde vader en vriend. "Een ontzaglyke schaar van menschen vulde de kerk tot overlopens toe." In die kerk was die sprekers ds. G.F. Marais (Riversdal) wat dit oor Openb. 14:13 gehad het en ds. Andrew McGregor (Robertson) wat feitlik saam met die oorledene in die bediening in die NG Kerk getree en die volle 40 jaar van sy aktiewe diens in Robertson deurgebring het. Hy het veral oor ds. Daneel as student, leraar, vriend, en scriba van die Swellendamse Ring (sedert die vertrek van dr. Robertson, die skoonvader van ds. McGregor, in 1872) gepraat en toe met 'n paar gedagtes oor Mat. 14:12 gesluit. Toe die draers gereed was om die lyk op te neem, het daar 'n boodskap gekom dat ds. M.S. Daneel van Calvinia naby was. Terwyl 'n paar versies gesing is, het ds. Daneel ingekom om nog die gesig van sy dierbare vader te sien en die res van die verrigtinge by te woon. By die graf op die kerkterrein het eerw. Heese oor Hebr. 4:9-11 en ds. D.S. Botha oor 1 Tim. 1:13 gepraat.

Op die kerkraadsvergadering van 24 April het die konsulent, ds. G.P. van der Merwe (Barrydale), "een woord ter herinne ring aan wylen ds. A.B. Daneel" uitgespreek en die raad het hom versoek om mev. Daneel van hul hartlike deelneming in haar verlies te verseker, asook van hul waardering "van al de bewezene diensten door wylen ds. A.B. Daneel aan de gemeente". Mev. Daneel kon in die pastorie bly woon tot 'n ander leraar die beroep na Heidelberg sou aanneem en wyle haar eggenoot se salaris sou vir nog twee maande aan haar uitbetaal word. Ook is daar dadelik besluit dat die gekombineerde kerkraad deur privaat intekening 'n waardige steen op sy graf sou plaas. Die kommissie wat daarvoor moes sorg, het bestaan uit die broeders Danie Gildenhuys, Louis Kunz en Henry Uys.

Bronnewysig

  • (af) (en) Hofmeyr, W. Lou(w); Hofmeyr, Nico J.; Hofmeyr, S.M.; Hofmeyr, George S.; Hofmeyr, Johannes W. (samestellers). 1987. Die Hofmeyrs: 'n Familiegeskiedenis. Lynnwoodrif en Bloemfontein: Die Samestellers.
  • (af) Hopkins, dr. H.C. 1955. Eeufees-Gedenkboek van die Ned. Geref. Kerk Heidelberg (Kaapland) 1855–1955.. Heidelberg: NG Kerkraad.
  • (af) Kotzé, D.A. 1951. Die Gemeente Fraserburg. 'n Eeufees-gedenkboek (1851-1951). Fraserburg: NG Kerkraad.
  • (af) Olivier, ds. P.L.. 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.

Verwysingswysig

🔥 Top keywords: Spesiaal:SoekTuisbladKategorie:Artikels met LCCN-identifiseerdersKategorie:Artikels met BNC-identifiseerdersKategorie:Artikels met MusicBrainz area-identifiseerdersKategorie:Artikels met CINII-identifiseerdersKategorie:Artikels met NKC-identifiseerdersKategorie:Artikels met Trove-identifiseerdersKategorie:Artikels met GND-identifiseerdersSpesiaal:Onlangse wysigingsKategorie:Artikels met BNE-identifiseerdersPaasfeesPornhubCarles PuigdemontAngkor WatRob HersovAfrikaansGrieksArmeniëJapanWestdenedam-rampDuitslandModule:ArgumentsRuslandGoogle MapsGoeie VrydagBaike: GebruikersportaalSeksposisieBaike: GeselshoekieSwangerskapSkildklierNieu-SeelandVerenigde KoninkrykSuid-AfrikaSeksAgorafobieGordelroosWiki BaikeT20I-wêreldbeker 2014Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bomeBaike: OmtrentFIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2022Baike: Nuus vir gebruikersCiceroKanadaBaike: HulpJaarKantons van SwitserlandVergelykings (taalkunde)NierversakingMesopotamiëHidroponikaBosluisbytkoorsLys van Suid-Afrikaanse musikanteKolorektale kankerBloeddrukWit-DonderdagGalblaasGianna MichaelsOnderhandelinge om apartheid te beëindigBreinvliesontstekingMenstruasieBulgaryeMadison IvyGebruikerbespreking:RooiratelTrappe van vergelykingOekraïneSeksuele penetrasieAnrich HerbstPlae van EgipteCleopatra VIIMaagsweerJavaScriptBaike: Welkom nuwelingeHartversakingBernice WestHuisgenoot: Ware LewensdramasLys van Suid-Afrikaanse voëls (alfabeties)LewerCarike KeuzenkampAngina pectorisLêer:Flag of India.svgBorskankerGoogle TranslateIslamVolksrepubliek ChinaDuitse nasionale rugbyspanIndonesiëWarmlugballonPlanete in astrologieDikdermMenslike seksuele gedragFIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1982Lys van openbare vakansiedae in Suid-AfrikaHemelvaartsdagHartKolitisPtolemeusMaroela Media