Periode 4 element

Die vierde periode van die periodieke tabel begin met element nommer 19, die alkalimetaal kalium en eindig met nommer 36, die edelgas kripton.

In die eerste twee elemente, kalium en kalsium word die 4s-orbitaal opgevul. Dit is die eerste periode wat meer as agt elemente tel omdat vanaf die derde element skandium die 3d-orbitale opgevul word. Dié reeks van tien elemente staan bekend as die oorgangsmetale omdat die karakter van die d-elektrone wat opgevul word stadig oorgaan van valenselektrone na kernelektrone wat min by die vorming van chemiese verbindings betrokke is. Ná sink tree hulle net as kernelektrone op en word die 4p-orbitale opgevul.

Hierdie periode bevat veral elemente wat taamlik volop is en 'n belangrike rol in die chemie, die industrie en ook die biologie speel. Skandium is dalk 'n uitsondering. Hierdie element is skaars. Maar metale soos kalium, kalsium, chroom, yster, nikkel, koper en sink is huishoudelike terme.