Andesiet is 'n stollingsgesteente wat in samestelling tussen rioliet en basalt lê. Andesietlawa is van matige viskositeit en vorm dik lawastrome en -koepels. Die woord andesiet is afgelei van die Andes-gebergte in Suid-Amerika, waar andesiet algemeen voorkom.[1]

Andesiet met 'n fenokrist van augiet

Andesiet is donkerkleurig, fynkorrelig en meestal ekstrusief; dit kan as die fynkorrelige ekwivalent van dioriet beskou word. Porfiritiese andesiet bevat fenokriste wat hoofsaaklik bestaan uit gesoneerde natriumryke plagioklaas (veral die mineraal andesien) en een of meer mafiese minerale (bv. biotiet, horingblende, pirokseen gewoonlik <20%). Dit het 'n grondmassa wat oor die algemeen uit dieselfde minerale as die fenokriste bestaan, hoewel die plagioklaas meer natrium kan bevat, en kwarts oor die algemeen in klein hoeveelhede teenwoordig is.

Die plasing van andesiet in die QAPF-diagram

Andesiet gaan met toenemende inhoud van alkali veldspaat in latiet oor, en met meer alkali veldspaat en kwarts in daciet. Andesitiese gesteentes plot op die QAPF-diagram met 0-20% kwarts en meer as 65% van die veldspate is plagioklaas."[2]

In Suid-Afrika wysig

 
Andesitiese basalt; Hekpoort-formasie

Basaltiese andesiet kom in Suid-Afrika voor in die Ongeluk-lawas wat 'n deel van die Paleoproterosoïese Transvaal-Griqualand-Wes suprakrustale reekse van die Argeiese Kaapvaal-kraton van Suid-Afrika vorm. Hulle vorm 'n dik reeks kussinglawas, massiewe vloeie en hialoklastiete, wat deel is van die lae wat eens die grootste deel van die Kraton bedek het. Die Ongeluk-Hekpoort-magma was 'n basaltiese andesiet wat afkomstig was van die Kaapvaal Craton se anomale litosfeer. Dit het 'n lang geskiedenis van hoë U/Pb, hoë Rb/Sr en CHUR-agtige Sm/Nd verhoudings. Min bewyse vir magmatiese fraksionering is gevind, alhoewel besoedeling van die laer lawas met Cr-ryke materiaal sigbaar is in beide Hekpoort- en Ongeluk-reekse.[3]

Gebruike wysig

Andesiet kan as aggregaat, vul, ensomeer in die konstruksie- en padbedryf gebruik word, maar dit is dikwels nie ideaal vir betonaggregaat nie as gevolg van sy hoë silika-inhoud.[1]

Verwysings wysig

  1. 1,0 1,1 "Andesite". U. Auckland; Geology rocks and minerals.
  2. "Andesite". mindat 48484.
  3. D.H. Cornell, S.S. Schütte, B.L. Eglington (1996). "The Ongeluk basaltic andesite formation in Griqualand West, South Africa: submarine alteration in a 2222 Ma proterozoic sea". Precambrian Research. 79 (1–2): 101–123. doi:10.1016/0301-9268(95)00090-9.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)